Reënboog potensiaal

reenboog

Ek voel vandag eerlikwaar nie lus vir iets anders doen as om heeldag mooi musiek te luister, te dink, te verlang en te onthou. Sommer net te rus in wie ek is. Tyd om myself te bekyk is min, maar dit is ook nodig, selfs by tye noodsaaklik. Stilte is nie altyd ‘n slegte ding nie.

Meeste van die tyd sien mens nie die volle prentjie in die warboel van ons haastige paaie nie en die frustrasie kom gewetenloos aangewaai en laat jou gedagtes stoei vir vrede.

Maklik mis jy dan die mooi dinge in die lewe wat kleur gee. Daarom moet ons dink aan die dinge wat ons opwek vir nog beter kanse van opreg menswees. Ons kan dans op die note van vioole en struike wat jou drome vêr wegneem, totdat jy dit kan sien vlieg na jou volle potensiaal.

Wanneer ek dit so benader dan maak ek my oë toe, ek ruik dit en sien en voel opreg wat ek wil wees. Mens sien jouself beter in die stiltes. Ook die mooi van wat mens in die lewe begeer. Die prentjie laat jou note hoër klim op klawers na die hoogste noot en dan neem dit jou na al die harmonië van die einddoel van wat ons Maker so graag en gratis wil gee, as ek en jy dit net sal aanvat.

Almal is gemaak om te deel, te gee en te ontvang … dit maak die lewe soveel meer kleurvol. Dit laat die bome groener staan en die wolke spierwit lê onder die helderblou lug,‘n Mens moet net gereeld opkyk om dit op te merk. Ek hou daarvan om op te kyk, want om lief te hê laat jou drome hoeër styg. 

Ek weet daar is soveel om te gee, maar ons vergeet maklik dat deur te gee, kos ons ook soms iets. Dit laat jou kwesbaar blootstel wat vir jou kosbaar is en dit bly ‘n risiko dat daar iemand kan wees wat op jou kan trap al dink jy die bedoelings is opreg of eerlik. Jou hart gee en deel al is die luisteraar net daar om dit later teen jou te gebruik. Maar wie wil so dink, wie wil so leef en wie wil so gee? Dit steel die beste van jou kleure en maak jou vaal. Daarom laat jou hart leer deur die foute. Laat die seer jou laat kosbaar groei na iets spesialer of ‘n beter plek. Moenie dat iemand jou menswees ruil om onder die lyn van jou heel beste te leef nie. Nie die seer van die verlede nie, ook nie die onbekende toekoms nie en virseker ook nie die mense wat jou storie hoor nie. Jy is wie jy is en dit wat mense laat veilig voel by jou, sal hul makliker laat deel en jou storie selfs oorvertel aan ander. Hierdie mense sien die opregtheid wie jy is. Daar is die wat dit natuurlik sal misbruik en dan weer sal daar ander wees wat jou hart sal raaksien soos ‘n reënboog vol beloftes.

Daarom wees steeds daardie reënboog ten spyte van die horison se donker wolke. Skyn elke helder kleur, al is die takke pas sopnat gereën. Jy doen dit omrede jy is wie jy is en jy ook die krag ontvang het van die Een wat jou volle potensiaal hou in Sy hand. Neem dit, glo dit en dans voluit op elke reënboog kleur van wat jy sien in die hoogtes van jou drome.

So kom maak nou toe jou oë, en kyk hoe hoog jy kan vlieg, hoe jy liefhet, hoe ander jou liefhet. Dan word hande vashou en voorkop soentjies spesialer, kinders wat lag en jou huis omkrap ‘n voorreg en vriende wat saam eet en stories deel nog meer gelukkig, en voor jy weet is die wolke nader as wat jy dink. Jy spring bo-oor daardie volle potensiaal reënboë tot by die volgende een, selfs nog hoër, nog helderder en nog beter.

Vorige artikelKoekies met krakies
Volgende artikelStukkie hemel via Worcestor
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.