Regte rigting

Ek was my hele skoolloopbaan in ‘n koshuis. Hopelik nie omdat ek dalk ‘n handvol by die huis was nie, maar eerder daarmee te doen dat ons ver van die dorp af geboer het.

My heel eerste skooldag het egter nie baie goed geeindig nie. Alhoewel my ouers weke voor die tyd vir my gewys waar die skool en koshuis is, het hulle egter nagelaat om my die pad van die skool na die koshuis te wys. As 6 jarige plaasjapie het ek bykans geen benul van die strate in die dorp (so klein soos hy was) gehad nie.  Met die lui van die klok vir die verdaging van die laaste periode het ek toe saam met die kinders na die naaste hek beweeg. By die hek aangekom, het die kinders in al die windrigtings uitmekaar gespat, maar ek het geen benul gehad wie ek moes volg nie.

Ek stap toe eers Weswaarts, net om na ‘n paar tree myself te oortuig dat dit nie die regte rigting is nie (dit was toe eintlik die regte pad). Ek draai om en stap Ooswaarts, net om ook na ‘n paar treë onseker te moes omdraai. Terug na die skoolhek. Waarheen nou? Ek probeer selfversekerd voorkom, maar is te skaam om rigting te vra. Ek besef toe ek weet waar my ouma bly  – net ‘n straat weg in ‘n noordelike rigting en ek stap daarheen. Daar kry ek my ouers wat tot hulle spyt besef hulle het my nooit die pad tussen die skool en die koshuis gewys nie.

Met die terugdink na daardie eerste skooldag besef ek hoeveel keer ons as volwassenes ook op die oog af selfversekerd en agtermekaar lyk, maar dikwels verward en onseker is oor watter rigting om in te slaan. In mense se soektog na die regte rigting maak hulle soms soveel foute en dan staan almal terug en skud maar net die kop. Ons troos ons daaraan dat ons darem vir hulle ‘n Bybelversie kon gee as hulle benoud raak, of dink dat hulle mos ‘n Bybel het en daarom moet weet wat om te doen. Dan beland ons soms in ‘n soortgelyke situasie. Ons dink ons het alles mooi uitgewerk, net om deur die volgende storm van koers gedwing te word. Mag ons dus omgee vir dié wat nie weet waarheen nie. Hulle optel (sonder oordeel) en weer op koers plaas. Mag ons betyds besef wanneer ons self effens van koers begin dwaal en mag ons nie skaam wees om te sê: “hier is ek, help my” nie.