[#RegteVroueRegteGeloof] God verstaan ons familieskandes

217

Elke familie het sy skandes. Die meeste van ons sou verkies om hulle verborge te hou.

Ons lees dat Jesus ook afkomstig is uit ’n familie vol foute. Ragab was ’n prostituut, Jakob ’n leuenaar, en Isak ’n dagdromer. Dawid was ’n moordenaar, in ’n buite-egtelike verhouding. Ons lees van Salomo se 700 vroue en 300 byvroue en Jona wat eers sy verantwoordelikhede wou ontduik!

Waarom het God beplan dat Jesus uit só ’n stamboom gebore moet word? Sodat ons kan weet dat Hy ons familiegeheime verstaan. Of dit nou ’n suster is wie se naam op die swartlys is, of ’n oom met ’n misdaadrekord. ’n Pa wat weggeloop en nooit weer teruggekeer het nie, ’n neef wat aan pornografie verslaaf is, of ’n broer wat egbreuk gepleeg het.

Vir die wie se stamboom slegte vrugte dra … Wat skaam is … Wat moed verloor het … Wat altyd probleme moet oplos, sê Hy: “Ek verstaan.”

Jesus was nie skaam vir sy voorvaders nie en Hy is ook nie skaam vir jou of jou familie nie. Jou aksies en jou familiegeheime sal Hom nie verbyster nie. Hy belowe in Filippense 1:6 dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus. Met jou oë op Hom gevestig, kan jy met vrymoedigheid vol selfvertroue en vry na Hom toe gaan omdat Hy ook familie is; ’n Pa vir sommiges, ’n Man vir ander, ’n Vriend vir almal en Verlosser vir die hele wêreld!

#RegteVroueRegteGeloof-REEKS met Karien Basson

Kliek hier vir meer.