Retief Burger se liefde, huwelik en kinders

0
104
Retief Burger

Vir Retief en Isabel Burger is die doel van die huwelik om God te dien en kinders groot te maak om tot Sy eer te lewe.

Vir Retief en Isabel Burger is die doel van die huwelik om God te dien en kinders groot te maak om tot Sy eer te lewe.

Oor trouring kies vertel Retief met ’n glimlag dat hy Isabel so vinnig die jawoord gevra het dat hy op sy gut feel moes staatmaak oor waarvan sy gaan hou. “Die trouring was vir my ’n simbool van ons liefde vir mekaar. Ons ken mekaar al twintig jaar, so, my gevoel was toe reg!” Isabel is mal oor die ring wat Retief vir haar uitgekies het. Sy het ook syne gekies en hom op hulle troudag daarmee verras. Binne-in albei hulle ringe staan “Team Burger vir altyd” gegraveer.

Retief en Isabel glo albei trouringe is belangrik en nodig. “Ons het ’n verbond met mekaar gesluit, ’n verbond voor God, wat nie soos ’n kontrak is wat op wantroue gebou word nie. Ons is verbind en ons ringe is ’n sigbare teken vir almal om te sien – ons behoort volkome aan mekaar en aan God,” verduidelik Retief. “Ons dra dit as teken van die verbond om God eerste lief te hê bo alles. Om mekaar bo enigiemand anders lief te hê en om te sterf aan onsself. Dis vir my lekker om dit elke dag te dra,” verklaar Isabel.

“Ons is mal oor verrassings en om mekaar te trakteer. Isabel geniet dit as ek haar met ’n koppie tee en ’n warm bad bederf. Dis so lekker as ons diep in mekaar se oë kan kyk, mekaar styf vashou en weet dat ons mekaar se herberg is. Oop kommunikasie, ’n gesonde besef van jou eie tekortkominge en vinnige jammer-sê-sessies hou ons gesond! Dis vir Isabel belangrik om te hoor ek is lief vir haar. Om emosioneel veilig by my te voel is vir haar goud werd. As ons mekaar iewers in die rondhardloop van die lewe misloop, is tyd saam die enigste antwoord.”

“Dis vir my een van die lekkerste dinge om ’n hele plan aanmekaar te sit en te sien hoe Retief op sy verrassing reageer,” vertel Isabel. “Romanse hou die commitment aan die lewe. Retief is mal daaroor as ek sy kop en nek masseer as ons ’n DVD kyk, of hom inwag as hy by die huis kom en vir hom ’n lekker koppie koffie maak met vanillamelk in. Ons gun mekaar ook eie-tyd: Retief hou daarvan om na ’n lang, vol dag net af te skakel en sport te kyk; my eie-tyd is ’n bad en ’n storieboek.”

Om seker te maak dat hulle nie op autopilot oorgaan in hulle verhouding nie, beplan hulle ’n wegkomkans elke ses tot agt weke. Dit bly ’n konstante uitdaging om in die hier en nou te wees. Klein dade van liefde, soos ’n bord kos, ’n sjokolade op die bed of ’n motorhuisdeur wat solank oopgemaak word, bou die huwelik. Die “vrybankie” is die plek waar hulle na ’n lang dag se werk kan stil word en gesels. Hulle hou ook daarvan om saam te oefen en in die natuur te kom.

Retief se opinie oor digitale aandagdiewe in hulle verhouding is dat hulle doelbewus kies om op date nights hulle fone by die huis te los. Hulle probeer hulle tyd reg bestuur en aan hulle verhouding bou. “Slimfone kan so baie kwaliteittyd van mekaar in die huwelik asook van jou as persoon in die hede steel. Ek en Retief sit gereeld ons fone af en maak seker dat ons baie pret saam het en saam dinge aanpak sonder fone. Ons stel ook duidelike grense tuis,” beaam Isabel.

“Ons beskerm ons verhouding deur altyd eerlik met mekaar te wees, goed te kommunikeer en mekaar maklik te vergewe; ook deur die ander een se behoeftes bo ons eie te stel en te sterf aan ons eie en soms selfsugtige behoeftes. Omdat Retief so goed is vir my, wil ek so goed wees vir hom, en andersom. Ons gaan slaap nooit kwaad nie en lê ons huwelik daagliks aan God se voete neer,” erken Isabel.

Omdat hulle albei met mense werk – Isabel as arbeidsterapeut en Retief as pastoor – het hulle baie vriende en vriendinne. Hulle vertrou mekaar hiermee, maar stel self duidelike grense in alle verhoudings. Retief sal nie berading doen met vroue nie en Isabel ook nie met mans nie. Dis nodig om altyd emosioneel ’n gesonde afstand te hou. Hulle kommunikeer met mekaar as die een dalk onrustig sou wees oor ’n derde persoon, want hulle vertrou mekaar se oordeel en beskou dit nie as jaloesie of wantroue nie. 

Elke aand met slaaptyd bid hulle saam en by baie ander geleenthede ook. Soms vas hulle saam vir die gemeente. Hulle help mekaar met preekvoorbereiding en disciple ook groepe. Dis vir hulle belangrik om in eenheid saam te stem oor dinge in die Gees, veral ook omdat hulle saam as leiers in die gemeente dien en saam op uitreike gaan. “Ons sal ook gereeld saam vir ander mense bid en gesprekke met mense voer oor die Here,” vertel Retief.

Isabel behartig die alledaagse take soos kruideniersware koop. Elkeen het hulle takies in die huis en hulle maak graag saam kos. Verder geniet hulle dit om saam DIY te doen of die huis op te ruim. “Retief is baie goed daarmee om te sien as iets op is en dit sommer self te gaan kry in plaas van om te wag totdat ek inkopies gaan doen, of anders skryf hy dit op ’n lysie vir my,” spog Isabel. Dis vir haar lekker om saam met hom ’n vertrek te versier of in die groentetuin te werskaf.

Retief en Isabel beplan vorentoe om met ’n gesin te begin. “Om nog beter maats te word en te groei in karakter soos ons aan mekaar skaaf,” spot Retief. “’n Mens leer mekaar op verskillende vlakke van intimiteit ken as julle getroud is en ontdek altyd nuwe dinge van mekaar. Dis wat so opwindend is van die huwelik: Dis ’n dinamiese proses wat een groot avontuur is saam met jou beste maat,” glo Isabel.