Rhona Erasmus

0
1018
Rhona Erasmus
  1. Hoe het jy (met jou onderneming) begin?

Die Midstream Babahuis was die visie van die Direkteure van die Midstream Landgoed.  Ek het die kontrak gekry om die Babahuis te bedryf as my eie besigheid, op Bondev se perseel, na ʼn streng keuringsproses.  Pienkvoet-Pret was die droom van my vriendin en vennoot Anelia Prinsloo.

  1. Wat is die beste raad wat jy al ooit gekry het?

God het ons so geskape dat ons al die eienskappe, die “tools” reeds besit wat ons nodig het om ons doel in die lewe uit te leef. Ook dat wanneer jy die voorreg het om dit waaroor jy passievol voel jou “werk” te kan maak – niks in die pad van jou sukses sal staan nie.

  1. Hoe sal jy graag onthou wil word?

As iemand wat, ten spyte van haar eie tekortkominge en onsekerhede, haar drome nagejaag het, altyd haar gesin en geliefdes eerste gestel het en iemand wat alles in afhanklikheid van God en met nederigheid aangepak het.

  1. Is daar ’n spesifieke aanhaling waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Ek het ʼn “hashtag” #BEABLESSING. “When you focus on being a blessing, God makes sure that you are always blessed in abundance” – Joel Oelsteen.

  1. Watter vrou inspireer jou en waarom?

My ma inspireer my. Sy is die mees hardwerkendste, liefdevolste vrou wat ek ken. Niks is ooit te veel moeite nie en haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy is al deur baie moeilike tye maar begroet elke dag met ʼn lied in die haar hart. Sy is beeldskoon van binne en dit straal na buite uit.

  1. Hoe het jy gekom waar jy vandag is en wat het jou op die pad gehelp?

Ek glo dat alles wat ek het en is – net genade uit die Vader se hand is. My man is my grootste ondersteuner en motiveer my daagliks om my passies en drome uit te leef. Daarmee saam het ek ʼn sterk ondersteuningsnetwerk van familie en vriende wat saam met my droom en my inspireer na hoër hoogtes.

  1. Wat dink jy is die grootste struikelblok in vroue se pad?

Ek glo dat vroue ongelukkig meestal hul eie grootste struikelblok tot sukses is.  Ons is bitter krities op onsself en lei so dikwels aan ʼn swak selfbeeld omdat ons onsself heeltyd met ander vergelyk – sodoende bereik ons nooit ons volle potensiaal nie.

  1. Wat dink jy maak dat ’n vrou suksesvol is?

Vir my het sukses niks te make met watse pos jy beklee, hoeveel geld jy het, waar jy woon of waarmee jy ry nie. Ek dink ʼn suksesvolle vrou is iemand wat haar passie uitleef, ʼn gebalanseerde leefstyl handhaaf, ʼn verskil maak in die lewens van ander en finansieel onafhanklik is (wat ook al dit vir jou as individu beteken).

  1. Wat dink jy is die geheim om ’n suksesvolle balans tussen jou werk en jou persoonlike lewe te bewerkstellig?

Om te weet dat daar ʼn tyd en plek vir alles is. Om gefokus te wees. Maar wanneer jy tyd met jou gesin spandeer of ontspan – doen jy dit in oorgawe. Dit is wel baie makliker gesê as gedaan. Maar deeglike beplanning, struktuur en duidelike grense is myns insiens die sleutel tot sukses.

  1. Wat doen jy as jy nie met werk besig is nie?

Ek spandeer tyd saam my man en 2 seuntjies – ek is absoluut verlief op die 3 manne van my. Dit maak nie saak wat ons doen nie – solank ons bymekaar is, is my hart op sy gelukkigste. Ek geniet ook ʼn kuiertjie saam met my hartsvriendinne en sê nie sommer nee vir ʼn lekker braai nie.