Rian van Heerden se aardse roeping

0
128
rian_van_heerden.jpg

Iets wat Rian deur die jare geleer het, is dat tyd kosbaar is en ’n verstaan van jou doel noodsaaklik.

My pa se dood het my geleer waardeer

Dit is al veertien jaar gelede, maar ek onthou dit nog soos gister. My pa het kolonkanker gehad en is in die Highway Hospice in Durban opgeneem. Die personeel het vir ons gesê hy gaan daardie Vrydag sterf, maar ek het hulle nie geglo nie. Hulle is immers net mense, wat weet hulle?

Daardie Donderdagmiddag het ek langs sy bed gesit en niks gehad om te sê nie. Ek wóú wel iets sê, soos in die movies, maar hoe groet ’n mens jou pa? Hy was toe die een wat die stilte verbreek en sê: “Ons hoef nie te praat nie.”

Daar is mense wat kicking and screaming die wêreld uitgaan en dan is daar dié wat dit vreedsaam doen, soos my pa. Aan die begin het ek ander dokters probeer kry, ander menings, maar êrens moes ek die waarheid in die oë begin kyk. Ek moes begin aanvaar dat sy einde naby was.

Hy is toe daardie Vrydag dood, net soos hulle gesê het.

Gelukkig is daar niks waaroor ek spyt is nie. Niks wat ek nog saam met hom wou doen nie. Ek sou wel wou gehad het dat hy sy eerste kleinkind kon sien en ek dink hy sou graag ’n sukses van sy makelaarsbesigheid wou gemaak het. Hy het baie hard daaraan gewerk, maar toe hy begin siek word, het alles uitmekaar geval. Selfs as ons nou die kans sou kry om saam te kuier, dink ek ons sal oor politiek praat, soos ons altyd gedoen het.

Daardie rou verlange word mettertyd minder. Om te rou beteken nie om heeltyd te huil nie, maar om heeltyd te voel asof daar iets skort. Ek dink aan hom wanneer ons oor hom praat, maar dit is nie meer so seer soos aan die begin nie. Elke mens het sy eie rouproses. Dit het my ongeveer drie jaar geneem om vrede te vind.

Dit klink miskien nou vreemd, maar vir my was dit ’n goeie ervaring. Daar is twee dinge wat elke mens moet deurgaan. Die een is die dood en die ander is die verbreking van ’n verhouding met iemand na aan jou. Jy moet daardeur gaan sodat jy die konsep van verlies kan verstaan. Dis eers met my pa se dood dat ek verlies verstaan het. Ek het begin om goed meer te waardeer. Tyd het vir my baie kosbaar geword. Ek het besef ’n mens is nie vir altyd hier nie. Die dood kan enige tyd kom.

Om te weet wat jou roeping is, maak jou vry

As ’n mens om jou kyk, kan jy nie anders as om in God te glo nie. Vir my is Hy beslis nie ’n wyse ou man met ’n baard nie. Hy is die Creator, die Skepper, wat alles met ’n spesifieke doel in gedagte gemaak het.

Vir my is dit die een vraag wat elke mens een of ander tyd in sy lewe hier op aarde moet beantwoord: Wat is jou doel hier? Waar pas jy in die groter prentjie? Net gister gesels ek met Chad le Clos en hy vertel my van die onderwyseres wat hom gemotiveer het om te wees wat hy vandag is. Miskien was dit haar doel om Olimpiese kampioene voort te bring, wie weet? En indien wel, was dit nie ’n fantastiese roeping nie?

[pagebreak] Dit het my ’n ruk geneem om dit uit te figure, maar toe ek besef ek gaan nie ’n prokureur of ’n filmster of ’n Olimpiese kampioen wees nie, kon ek op mý spesifieke doel konsentreer. Ek het altyd geweet dit het iets met woorde te doen. Nou nie in ’n hofsaal nie, maar wel op papier of agter ’n mikrofoon.

Maar dit is meer as net die menings wat ek lug. Een van die goed waarop ek in my lewe die trotsste is, is die mense wat ek in my tyd as stasiebestuurder by Radio Tuks en as dosent by Damelin College opgelei het. Ek het geen joernalistieke of uitsaaiopleiding nie, maar het my lesse op die harde manier geleer. Ek is qualified by experience en kon met al die gemors waarin ek oor die jare was presies vir hulle wys wat om nié te doen nie. Daarin is ek ’n ekspert.

Vandag is daar seker so dertien, veertien van my studente wat groot name in radio is. Ek glo dit is een van die redes waarom ek nie ’n prokureur geword het nie. Ek moes menings help vorm en ander oplei om die vrae te vra wat soms gevra moet word.

Natuurlik is ek ook trots op toekennings wat ek al gekry het. Vroeër vanjaar was dit die Tempo Radio-aanbieder van die Jaar. Dit is wonderlik om te weet die publiek aanvaar my, maar ek wil nooit vergeet hoe dit is om swaar te kry nie.

Ek het byvoorbeeld nooit geleer swem nie, want dit was net die ryk kinders wat swembaddens gehad het. Armoede leer jou om vyftig verskillende disse met Toppers-maalvleis te maak, maar verder is dit beslis nie pret om arm te wees nie. Ek sal altyd geld vir bedelaars gee omdat ek weet hoe dit voel om daar te wees.

Dis ook belangrik om te onthou waar jy vandaan kom. Iets wat ek uit my kleintyd onthou, is al die Maltesers wat ons gehad het. Elkeen se naam was Snippie. Soos die een doodgery is of doodgegaan het, is hy met die volgende Snippie vervang. Snippie III het eendag uit my ma se arms gespring en op sy kop geval. Hy was toe ’n bietjie stadig. Hy sou byvoorbeeld vergeet hy was besig om sy kop te krap. Dan moes ons sy poot van sy kop afhaal sodat hy net kon onthou.

Stories en ervarings soos dié het my die mens gemaak wat ek vandag is. Kleurryk en vervuld om met luisteraars te deel en hulle verhale met respek te hanteer.