Riekert Botha ontmoet sy ma

0
246
rieker_botha.jpg

Jare lank het Riekert hierdie geheim met hom saamgedra. En dit het sy menswees stukkie vir stukkie verteer, totdat daar amper niks van oor was nie. Sou hy ooit die verwerping oorleef?

Toe ons op die lughawe land, raak ek skoon laf van senuweeagtigheid. Ek pluk my selfoon uit en stuur vir haar ’n SMS: “As jy seker is jy wil my nog ontmoet, waai woes as jy my sien.” Dis ’n grootse oomblik, een wat ek nooit weer sal beleef nie, een wat min mense óóit beleef.

Toe sien ek haar, sien ek hoe sy nader draf en woes met die arms waai. Dis sy! Dis die vrou wat 38 jaar gelede aan my geboorte geskenk het: my biologiese ma, wat ek vandag die eerste keer ontmoet. Dis asof daar vlerke aan my voete is toe ek nader gaan en haar teen my bors druk.

“Jy is spesiaal vir ons uitgesoek,” het my ma-hulle my van jongs af vertel. Dit was nooit vir my nodig om aan hulle liefde vir my te twyfel nie.

Ek wou nie die verhaal van my geboorte hoor nie. As ons daaroor sou praat, sou ek die werklikheid moes sien. Dat ek nie goed genoeg was nie, dat ek as baba weggegooi is, dat ek tweedehands was.

Ek het my lewe lank met ’n gevoel van verwerping geworstel. Ek is useless, het ek gedink wanneer hierdie minderwaardigheid my gees wou oorweldig.

Eers toe die waarheid oor my verlede jare later stuk-stuk voor my ontvou het, het daar genesing gekom vir hierdie intense seer in my.

Dit was haar laaste studiejaar. En toe, onverwags en onbeplan, bevind sy haar in ’n dilemma. Maar sy was ’n sterk vrou. Sy sou nie sommer opgee nie, nie sommer alles oorboord gooi nie. Nee, sy het gevra om haar eksamen tóé al af te lê, ses maande voor die einde van die jaar.

Sy hét. En sy het die eksamen geslaag.

Sy het ondersteuning nodig gehad. Troos en onderskraging. Maar sy moes daarsonder klaarkom. “Ná jou geboorte is jy dadelik weggevat,” het sy vertel. “En ek het jou nie weer gesien nie.”

My biologiese pa het haar by die hospitaal gaan haal. Sonder my. “Ons het nooit weer daaroor gepraat nie.”

Wat my biologiese ouers gedoen het, is ook hoe ék met hierdie wete probeer saamleef het. Binne-in my het ’n storm gewoed. Elke negatiewe persepsie oor myself het in my gelééf, maar ek het dit probeer ignoreer.

[Pagebreak] Ag, hoeveel skade het ek tog nie aan myself gedoen nie. Ek kon nie geestelik groei en waarlik suksesvol wees nie.

Maar toe ontmoet ek Jesus ...

Geleidelik het ek besef dat ek nie langer my aanneming kon ignoreer nie.

Aanvanklik het ek geen begeerte gehad om my biologiese ma te ontmoet nie. Ek hét ’n ma, ek hét ouers. Maar my dierbare ma het nie saamgestem nie.

“Jy behoort jou biologiese ma te gaan opsoek,” het sy raad gegee. “Hierdie vrou verdien om te weet wat van jou geword het.” My ma was ook oortuig daarvan dat dit vir mý goed sou wees, maar ek was nie oortuig nie. My lewe het aangegaan. Ek het getrou en kinders gekry, en vyf jaar lank in die Oekraïne gebly voor ek ’n beroep na ’n gemeente in Vredendal aanvaar het.

Tussendeur doen ek berading. Soms wens ek ek het ’n sleutel waarmee ek harte van mense wat deur lyding gaan, kan ontsluit sodat daar bevryding kan wees. Dis tóé dat sy eendag in my gedagtes kom – hierdie vrou wat ek nie ken nie, my biologiese ma wat dalk nog iewers op aarde leef. Dit is die een mens vir wie se hart ek wél ’n sleutel het, besef ek met ’n skok. Vir háár kan ek bevryding bring, maar ek weerhou dit van haar omdat dit vir myself makliker is so.

Op ’n wonderbaarlike wyse spoor ek haar met die hulp van ’n maatskaplike werker in ’n rekordtyd op. Die gedagte daaraan slaan my asem weg. “Kontak haar,” vra ek die maatskaplike werker, “en vertel vir haar hoe goed dit met my gaan.”

Die maatskaplike werker doen dit en laat weet my dan dat sy met my wil praat daaroor.

“Ek het jou biologiese ma gebel,” sy, “vir haar verduidelik die oproep gaan oor die baba wat sy laat aanneem het. Daar was dadelik ’n doodse stilte. En die eerste woorde wat sy sê, was: ‘Ek soek hom nog elke dag van my lewe.’”

Dis asof ’n perd my skop toe ek dit hoor. Dis hierdie woorde van my biologiese ma wat die kors om my hart finaal laat verkrummel, die besef dat sy my nie bloot weggegee en van my vergeet het nie.

Maar daar is meer vir my om te hoor. Dat my biologiese ouers toe wel later getroud is en dat ek twee susters het, bloedsusters, eie sussies.

[Pagebreak] Dis amper te veel vir my om in te neem. “Jou biologiese ouers is later geskei,” vertel die vrou. “Jou biologiese pa is weer getroud en bly ’n Velddrif.”

My biologiese pa! Ek het nooit veel aan hóm gedink nie. Maar hy is daar! Hy leef en hy bly in Velddrif, net hier anderkant.

Nou kan dit nie anders nie – ek wil my pa leer ken.

Toe dit die dag gebeur, huil hy openlik, hierdie man wat ’n kolonel in die weermag was, wat met ’n Honoris Crux vereer is vir sy dapperheid. Ek verkyk my aan die ooreenkomste tussen ons, die drie kroontjies op die kop, die duime wat op ’n vreemde manier kan uithaak. Vir die eerste keer in my lewe ontvou ’n genetiese kennis voor my.

“Wat doen jy vir ’n lewe?” vra hy later toe ons rustiger raak. Eers wil ek nie vir hom sê nie, want ek weet wat gebeur as mense hoor hulle gesels met ’n predikant. Hulle kry onmiddellik ’n ronde mondjie, sê gewoonlik “O!” – op ’n veelseggende manier.

Dis ook wat nou gebeur. “O!” sê hy toe ek teen my sin vertel waarmee ek my besig hou. “Ek was ook al in ’n kerk.” Ja, dink ek, hier kom dit nou, nou gaan ons kerkstories gesels. Maar daar wag ’n verrassing vir my. “O, regtig? Waar?” wil ek weet.

“Logos-gemeente in Bellville.”

Dis toe ons datums vergelyk dat dit ons tref: Ons paaie hét al gekruis. Ek was “die ou wat voor in die kerk ’n kitaar geslaan het”. En hy was daar – die aand met die diens toe daar van ons afskeid geneem is voordat ons weg is Oekraïne toe. Hy het gesien en gehoor hoe ons geseën is. Sonder om te weet dat dit sy seun was wat voor hom staan.

Hy vertel my van sy dogters, dat hy nie kleinkinders het nie. “Jy hét,” verseker ek hom. “Drie pragtige kleinkinders.”

Die ontmoeting met my biologiese familie het my lewe verryk. Die verhaal van Riekert Botha is nog nie klaar vertel nie, maar wanneer ek oor my lewe terugkyk, sien ek die hand van my Vader daarin. Ek kan getuig dat die meetsnoere vir my in lieflike plekke geval het.

En ek lê my toekoms en dié van my hartsmense, biologies én andersins, met geloof en berusting aan die voete van Jesus neer.