Roei jou skuldlas uit

Dit is moontlik om van jou skuldlas ontslae te raak ongeag hoe groot dit mag wees; en hoe moedeloos en negatief jy daaroor voel.

Ek sien gereeld hoe kliënte met hope skuld en ‘n totale moedeloosheid, hulle stories omdraai in ‘n storie van sukses en hoop. Volg hierdie proses om van jou skuldlas ontslae te raak:

  1. Erken aan jouself dat skuld jou finansiële stabiliteit en welvaart steel; en dat jy nie gemaklik voel met jou skuldlas nie. Dis daardie eerste bewuswording en bekentenis wat, soortgelyk aan ‘n verslawing, jou pad na herstel vir jou moontlik maak.
  2. Maak ‘n doelbewuste keuse om skuldvry te word en stel dit as ‘n doelwit.
  3. Maak ‘n lys van al jou skuld. Skryf ook die rentekoerse en terugbetalingsperiodes en terme neer.
  4. Stel vir jouself tydlyne om te bepaal teen wanneer jy elke skulditem wil afbetaal.
  5. Doen nou ‘n paar berekeninge om te bepaal hoeveel jy addisioneel elke maand moet betaal om elke skulditem te kan afbetaal volgens jou tydlyne.
  6. Stel nou met al die bogenoemde inligting en syfers ‘n behoorlike plan op om jou skuld af te betaal. Begin altyd met die item met die hoogste rentekoers. Soos wat jy een skulditem afbetaal het, allokeer daardie maandelike paaiement wat jy nou beskikbaar het, om die volgende skulditem op jou lys nog vinniger af te betaal.
  7. Dit is egter baie belangrik dat jy aksie neem en doelgerig by jou plan hou.
  8. Maak ook ‘n doelbewuste keuse om verdere skuld ten alle koste te vermy. Kweek ‘n gewoonte om te spaar vir dit wat jy graag wil hê en te wag totdat jy dit kan bekostig.

Om skuldvry te wees is verseker die mees bevrydende gevoel. Dit is soos om uit ‘n tronk vrygelaat te word en jy kan nou 100% daarop fokus om finansiële stabiliteit te skep en welvaart te bou. Dit is moontlik om jou skuldlas uit te roei – neem daardie besluit en neem aksie om dit ‘n realiteit in jou lewe te maak.

Vorige artikelLeer jou kind om haarself te handhaaf
Volgende artikelSlangetjies en Leertjies
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.