Roetine help jou kind beter saamwerk

1314
Lizanne du Plessis

Roetines en gewoontes – of dit speeltyd, etenstyd of Pappa se huistoekomtyd is – gee ’n element van voorspelbaarheid en dra by tot kalmte in ons besige lewens.

As ons dinge op dieselfde manier en op dieselfde tyd doen, sien ons dat uitdagende gedrag afneem. Die magspel tussen jou en jou kind sal aansienlik verminder.

As sy weet wat gebeur volgende, is sy rustiger

Vir die meeste van ons voel dit gewoonlik asof die dag te min ure het om al ons take in te pas. Ons kan baie maklik gespanne raak as die geringste ding gebeur wat ons daaglikse roetine versteur.

Party mense floreer op struktuur en gewoontes, en ander vermy dit omdat hulle bang is hulle kreatiwiteit word ingeperk. Maar in wese beteken roetine net dat aktiwiteite elke dag op ongeveer dieselfde tyd en op dieselfde manier gebeur.

Die gevoel van bekendheid wat konsekwente roetine skep, help veral kinders om kalm en gefokus te bly. Dit help hulle ook om situasies makliker te “lees”. Wanneer hulle iesegrimmig begin raak en jy op jou horlosie kyk, sal jy waarskynlik sien dat dit byna etenstyd of slaaptyd is.

[KYK OOK] Maak doelbewus tyd vir praat met jou kinders

Leer haar hoe om aan te pas as iets verander

As slaaptyd min of meer op dieselfde tyd is, leer hulle hoe dit voel om vaak, aan die slaap of wakker te wees. Gereelde etenstye leer hulle weer hoe hulle liggaam voel as dit iets te ete of drinke nodig het. Hulle ervaar die opwinding van rondhardloop en dan die bedaring voor etenstyd.

Gewoontes en voorspelbare aktiwiteite leer kinders dat as hulle liggaam soos ’n motorenjin is, loop hy vinnig as ek speel en stadiger as ek slaap. As Mamma sê dit is slaaptyd, sal ek weet hoe my liggaam voel.

Kweek die gewoontes wat by jou gesin pas. Wat vir my werk, werk nie noodwendig vir jou nie. ’n Roetine moet buigsaam wees. As dit te rigied is, leer kinders nie om aan te pas nie – en dis ’n belangrike lewensvaardigheid.

Die stel aktiwiteite bly byvoorbeeld dieselfde (bad, storie, slaap), maar die tyd kan dalk een keer ’n week uitgestel word om met Pa te stoei of te gesels as hy van die werk af kom.

Sy moet soms self besluite neem vir meer selfvertroue

As besige ouers kan ons nie 24 uur van die dag beskikbaar wees om te speel nie; jy moet tyd maak. Laat sy die leiding neem en self besluit wat die reëls van die speletjie gaan wees. Dit gee haar ’n groter gevoel van veiligheid en beheer, wat help wanneer sy voor onsekerheid te staan kom.

Om verandering vir jou kind makliker te maak, konsentreer op die goed in haar lewe wat dieselfde bly. As julle byvoorbeeld trek, gaan sy steeds na dieselfde skool, slaap in dieselfde bed en die hond gaan ook saam. Wanneer kinders skop teen verandering, is dit omdat hulle magteloos voel.

Gee vir haar ’n bietjie mag terug; wys haar dat sy kan “wen” deur vir haar keuses te gee, veral met die klein dingetjies.

Gepaste huisreëls skep ’n verwagting by die gesinslede waarbinne hulle hulleself kan uitleef en veilig kan voel. Roetine en dissipline vul mekaar aan en bevorder ’n gebalanseerde omgewing.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.