Roetine vir skoonheidslaap

0
909

Voldoende slaap is die geheim vir ’n jong, stralende vel. Kry só die meeste uit jou nagrus en word selfs mooier wakker!

Stap 1: Berei jou kamer voor vir ’n skoonheidslaap

As ’n mens moeg is, stel jou liggaam die streshormoon kortisol vry. Dit breek kollageen af, wat die vel se elastisiteit verminder en jou só vroeër ouer laat lyk. Boonop veroorsaak te min of slegte slaap donker kringe onder die oë en rooi oë, en laat jou vel bleek en leweloos lyk.

Die geheim vir ’n mooi, jong vel? Slaap en nog meer slaap! Tydens slaap absorbeer die vel vog baie beter en word velskade tot agt keer vinniger herstel as gedurende die dag.

Maak seker niks meng in met jou nagrus nie en dat jou slaapkamer ideaal ingerig is vir ’n skoonheidslaap. Omdat jou gesig snags dooie velselle en olie afskei, moet jy elke week jou kussing skoon oortrek om jou vel teen onsuiwerhede te beskerm. Gebruik ook ’n vogsproeier in die kamer, want hitte droog jou vel uit. Drink ’n kalmerende koppie kruietee eerder as koffie of alkohol voor slaaptyd.

Stap 2: Maak jou gesig twee keer skoon

Terwyl ’n mens slaap, werk jou vel op sy hardste, sê Lisa Leibov, hoof van die Imbalie Beauty-akademie. Die vel vernuwe homself deur nuwe molekules in die selle te maak en ander te verwyder. Die detoksproses in die vel werk ook op sy beste wanneer ’n mens slaap.

Dit is noodsaaklik om jou vel behoorlik skoon te maak voor jy enige nagprodukte aanwend. Só word besoedeling, vuiligheid, grimering en ander onsuiwerhede van die vel se oppervlak verwyder. Wanneer die porieë verstop is, word die vel droog en belemmer dit ook die vernuwingsproses.

As jy die dag grimering gedra het, kan dit nodig wees om die vel twee keer te reinig. Verwyder eers die dag se room, grimering en vuiligheid met ’n spesiale klam lappie. Was dan jou gesig met louwarm water en ’n vloeibare gesigreiniger met ’n oliebasis om oormatige olie en nog onsuiwerhede te verwyder. Die oliebasis verhoed dat jou vel uitdroog.

Stap 3: Gebruik ’n nagroom met antioksidante

Vitamien C is ’n kragtige antioksidant wat skade weens blootstelling aan die son en lugbesoedeling of sigaretrook – die grootste oorsake van velveroudering – beveg.

Gebruik ’n serum of nagroom wat vitamien C kombineer met nog ’n antioksidant, koënsiem Q10, soos Nivea se Q10plusC Skin Sleep Cream. Hierdie twee bestanddele staan kop en skouers uit bo ander wat betref hulle vermoë om die vel mooi te hou, sê Andrea du Plessis van Vital Health Foods.

Albei stimuleer ook die vervaardiging van kollageen, die vel se bindweefsel. Namate ’n mens ouer word, maak jou vel minder kollageen, wat bydra tot ’n minder soepel voorkoms en meer plooie.

Mettertyd sal ’n produk met vitamien C jou met ’n stralende, egalige vel laat wakker word. Dit kan ook plooie en pigmentasie minder opsigtelik en growwe vel sagter maak, en is strelend vir aknee en dele met inflammasie.