Rolanda bieg: Botoks en haar rooitapyt geheime

0
227
rolanda.jpg

Rolanda Marais sê nee vir Botoks al sweer ander vermaaklikheidsterre daarby. Sy vertel ons hoekom.

Druk die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf ook aktrises om jonk te lyk?

Daar is beslis druk op [plaaslike] aktrises, maar die fout wat baie maak is om op ’n jong ouderdom te begin Botoks. My kêrel is ’n regisseur en hy het al ’n paar keer na oudisie opnames gekyk van aktrises en gesê “maar daar het niks in haar gesig aangegaan nie!” Wat die vroue nie besef nie is dat dit baie sigbaar is as jy gebotoks het – veral as jy moet toneel speel. Daar is dus ’n fyn lyn.

Hoe ver gaan jy self om ouderdomstekens te beveg?

Ek wil hê my gesig moet emosionele uitdrukking behou en daarom is ek bang vir Botoks en vullers. Ek is glad nie gekant daarteen nie, maar vir nou is dit nie ’n opsie nie. Ek aanvaar my plooie en die proses van ouer raak en probeer my vel bevogtig en versorg hou. Mense wat te veel werk laat doen aan hulle gesigte lyk vir my na wesens uit die buitenste ruim – Mannemarak of iets!

Hoe doen jy jou grimering vir rooitapyt geleenthede?

Ek het al soveel geleer by verskeie grimeerkunstenaars deur die jare dat ek dit self met selfvertroue kan doen. As ek uitgaan en nie tyd het om my oë lekker smeulend en rokerig te maak nie wend ek ’n oogomlyner aan my boonste lid aan die buitenste hoeke, om my oë groter te laat vertoon. Ek hou van Inglot Black Eye & Lip Pencil. Jy kan dit oor jou hele oog lid met smeer as ’n oogskadu. Dan sit ek maskara aan – sommer twee lae sodat dit lekker vol lyk, en laastens mooi rooi lippe.

Wat het jy nog in jou grimeersakkie?

Ek besit eintlik bitter min grimering. Maar aan rooi lipstiffie het ek nie ’n tekort nie. ’n Rooi lip laat jou versorg en gesofistikeerd lyk. Ek het verskillende skakerings, maar rooi met ’n koue ondertoon werk beter by ’n ligte vel as ’n warm ondertoon. Ek het by ’n prima ballerina geleer dat as ek ’n rooi lip langer wil laat hou, moet ek bo-op die rooi ’n lagie poeier aansit en dan nog ’n lagie rooi. Dit werk soos ’n bom. My gunsteling kleur is Bloom (te kry by Woolworths) se kleur Bella.

Wat is jou persoonlike skoonheidsreëls?

DRA ’N DEKLAAG  Ek het ’n geweldige sensitiewe vel en is allergies vir sommige grimering. My vel het al lelik uitgeslaan. Ek gebruik Aloe Ferox aalwynjel van apteke om te verhoed dat baie grimering deur my vel geabsorbeer word.

SELFVERBRUINER IS DIE ENIGSTE VEILIGE SONBRUIN  Ek het onlangs ’n rol gespeel van ’n karakter wat boer in die son. Ek het Piz Buin-selfverbruiner gebruik en dit het baie natuurlik gelyk. Ek voel wel dat as jou vel mooi en gesond lyk, het jy nie nodig om soveel te doen nie. En ’n natuurlike gesonde wit vel lyk baie beter as ’n onnatuurlike sonbruin gesig. Niks laat ’n bleek vel so gesond lyk soos ’n mooi natuurlike blos op die wange nie. Ek gebruik Mac Lady Blush roomblosser. Dit laat jou gesond en gelukkig lyk, selfs op dae wat jy nie so waffers voel nie.

AS JY NIKS ANDERS DOEN NIE, DRA SONBESKERMING  Altyd. Of onderlaag soos Revlon PhotoReady Makeup SPF20 (R245 van kettingwinkels) met ’n SPF wat jou vel gesond laat voel en lyk. Ek is ook mal oor Dermalogica Skinperfect Primer SPF 30 (R625 van salonne landswyd) vir die ligte tint en omdat dit my vel soos sy laat voel en meer egalig lyk. My vel gloei en lyk vars as ek dit gebruik.

DUBBEL-REINIG  As ek na werk by die huis kom, maak ek dadelik my vel met teeboomolie skoon. Ek was my gesig maklik selfs tot drie kere totdat dit behoorlik skoon is.

GEBRUIK OPKIKKERS  Een keer ’n week wend ek ’n gesigsmasker soos Dermalogica Multivitamin Power Recovery Mask (R625 van salonne landswyd) aan terwyl Dr. Gobac Vitamin A Serum (R339 van salonne en Edgars) my vel opplomp en gloeiend laat lyk.

WEES OOP VIR ALTERNATIEWE SKOONHEIDSPRODUKTE  Daar is hierdie geel houer wat jy kan koop by koöperasies. Dis met Vitamien E verryk om koeie se spene sag te hou … Ek was eers skepties oor die grimeerkunstenaar se spotgoedkoop room wat ons “La Moo” noem, maar dis ’n wonderlike vogroom!