Rolanda Marais hou haar vel só vlekloos

0
388
rolanda.jpg

Aktrise Rolanda Marais verklap haar skoonheidsroetine se unieke geheime. Hier vertel sy hoe sy haar vel porseleinglad en sneeuwit hou.

Net een skoonheidsproduk is absoluut essensieel

Ek het nog altyd ’n ligte vel gehad. Op skool het ek eenkeer probeer bruiner wees deur in die son te lê en my ma het my heeltyd gewaarsku. Sy het tannies met baie plooie uitgewys en gesê: “Dis hoe jy gaan lyk as jy ouer word as jy gaan rook en in die son boer.” Dis baie snaaks, maar dit het gewerk. Ek hou van my bleek vel en ek gaan nie in die son verbrand net om soos ’n seksbom te probeer lyk nie. As jy niks anders doen nie, dra ’n sonbeskermingsroom. Altyd.

Koop minder skoonheidsprodukte

Ek het min skoonheidsprodukte, maar dit is alles goeie kwaliteit. Minder van ’n goeie ding is beter as ’n klomp buisies en botteltjies wat mooi lyk maar so-so resultate lewer. Ek het in elk geval ’n geweldig sensitiewe vel en is allergies vir sommige grimering; my vel het al lelik uitgeslaan. Ek gebruik aalwynjel wat jy sommer by die apteek kan koop om te verhoed dat baie grimering deur my vel geabsorbeer word.

Koop die regte onderlaag

Die regte kleur onderlaag is van die uiterste belang. ’n Fout wat baie vroue met ’n ligte vel maak, is dat hulle ’n onderlaag gebruik wat hopeloos te donker is of soms is die onderlaag so lig dat jy soos ’n spook lyk. Kies jou onderlaag versigtig en bly weg van onnodige poeier, dit laat jou vel dood lyk. Te veel grimering gedurende die dag is nie goeie smaak nie, maar in die aand kan jy lekker speel. Leer presies wat vir jou werk, hoeveel net genoeg grimering is en moenie iets oorbodigs dra nie.

Weet hoe om jou skoonheidsprodukte te gebruik

Ek ken my gesig die beste en het baie selfvertroue met my grimeerroetine. Ek geniet dit om self reg te maak vir ’n uithanggeleentheid. Ek gebruik my vingers om grimering aan te wend, want kwasse en sponse kan maklik kieme kry as dit nie met elke gebruik ontsmet word nie. En as jy ’n sensitiewe vel soos ek het, is dit veiliger om jou vingers te gebruik. Was natuurlik eers jou hande deeglik voordat jy aan jou gesig raak! Ek glo jy het meer beheer oor waar jy die grimering aanwend as jy dit met jou vingers skakeer. As ek ná werk of ’n funksie by die huis kom, maak ek dadelik my vel met teeboomolie skoon, wat jy by gesondheidswinkels kry. Ek sal my gesig selfs drie keer reinig totdat dit behoorlik skoon is.

Rolanda dra graag Revlon PhotoReady Makeup SPF20 (R245 by kettingwinkels)

Rolanda se foto deur Daniel & Christo.

Geskryf deur Ryno Mulder

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.