Roltrap van teleurstelling

Psalm 62:5-9

“Hulle probeer  my uitwerk; hulle skep behae in leuens; met die mond seёn hulle, in die hart vervloek hulle. Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, vul jou naam hier in, stort julle hart voor God uit.”

Wat onthul teleurstelling vir ons in hierdie lewe?

Ons lewe in ‘n verskriklike uur en tyd! Die lewe is inderdaad  boos as gevolg van mense wie se harte gevul is met boosheid, harte gevul met  slinksheid en motiewe gesetel in die duiwel en nie in God nie. Boosheid lei altyd tot verplettering, verwoesting en vernietiging en vat ‘n mens self asook ander mense op ‘n pad verder as wat jy ooit moes reis in hierdie lewe. Dit is die kragtigste wapen van die vyand in ons dag. O ja die duiwel weet maar alte goed ‘n hart vol boosheid verkrag nie net jou eie ligaam, siel en gees, jou lewe nie, maar ook die van ander en is dit dan ook verstaanbaar waarom dit die duiwel se hoofdoel en rede is. Boosheid lei slegs na paaie van dood, hel.

Woede is ‘n emosie wat baie dinge vernietig, insluitend vertroue.  Vertroue kan nie teenwoordig wees waar ‘n hart gevul is met woede nie. Ek onthou ‘n tyd in my eie lewe toe my eie hart propvol, inteendeel oorlopens toe vol woede was. Wat ‘n donker verwoede bose plek was dit nie!  O hoe het ek nie gewonder wat van die vrou geword het wat die Here so liefgehad het, mense so liefgehad het en wie se vreugde o so aansteeklik was! O hoe ‘n mislukking het ek nie gevoel nie totdat ek vanuit hierdie diep donker plek van woede myself een dag  dolleeg en as ‘n naakte gebed voor die Here uitgestort het.

My vraag aan die Here was:”Here, hoekom is ek so verwoed kwaad? Waarheen is ek oppad? Dit voel of ek myself verloor Here!? Asseblief maak hierdie storms in my hart stil en praat nou binne-in my hart dat ek U weer kan hoor. Toe val lig van God en ek hoor Sy sagte liefdevolle maar tog ferm fluistering in my hart:”Jy is verwoed kwaad, want jy vertrou My nie meer nie. Jy het jou eie verwagtinge gehad en daardie onvervulde verwagtinge het  teleurstellings geword, daardie teleurstellings het frustrasies geword en daardie frustrasies het uiteindelik verwoede woede in jou hart geword.”

Dankie tog ek was alleen tuis! So kon ek hardop uiter wat ek ervaar het die Heilige Gees met my deel. Ek kon stilword en reflekteer rondom die waarheid en realiteit van hierdie waarheid wat God in my hart kom afdruk het. Ek het gesit en my lys gemaak van alles, van toeka tot nou wat ‘n bron kon wees van my frustrasie en woede. Weet jy wat? God was reg. Ek kon elke insident in my lewe naspoor wat gelei het na ‘n onvervulde verwagting – hoe ek gedink het my lewe moes verloop, hoe my besigheid moes lyk, hoe ‘n verhouding veronderstel was om te wees. Kry jy die prentjie? Al die tyd het ek myself vertel ek soek God se wil, maar in realiteit wou ek dat God se wil my eie wil, my eie hoop en verwagtinge vervul.

Is God besig om jou greep los te maak rondom ‘n onvervulde verwagting? Laat God Jesus Heilige Gees toe om jou drome, hoop en verwagtinge vir jou lewe te vervul en jy sal nie teleurgestel word nie.

PS: Mense sal  altyd verraai, seermaak en teleurstel. MAAR GOD. NOOIT.

Vorige artikelVoetjie vir voetjie…
Volgende artikelVertrou op God
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za