Roma Downey, ʼn engel met ʼn moederhart

0
19
Roma_Downey.jpg

Roma Downey vertolk die rol van Maria in Son of God. Sy is ook betrokke by Operation Smile, wat help om die lewe beter maak vir kinders met misvormde gesigte as gevolg van gesplete lippies en verhemeltes.

Roma het veral bekend geraak vir haar rol as ’n engel in die televisiereeks Touched by an Angel. Sy het egter nie haar vlerke opgehang toe die reeks verby was nie – sy het ’n engel in lewende lywe geword wat ander se omstandighede verander.

“Meer as een liefdadigheidsorganisasie het my genader om by hulle aan te sluit,” vertel sy. “Dit was juis my beeld as ’n engel wat ’n besondere status aan so ’n betrokkenheid sou verleen.” Sy vertel dat hulle reeds gedurende die verfilming van die reeks deur ’n stigterslid van Operation Smile gevra is om dit as tema vir ’n episode te gebruik. “Dit was my eerste kennismaking met wat vir hierdie kinders gedoen word.”

Roma het by Operation Smile aangesluit as woordvoerder en saam met hulle op bewusmakingstoere begin gaan. “Ek het besluit om op my ware passie te fokus, naamlik my liefde vir kinders.” Sy het haar binne maande in Viëtnam bevind – aktief betrokke by ’n hospitaal wat die operasies uitvoer om haaslippe en gesplete verhemeltes te herstel. “Daar het ons gehelp om die lewens van 127 kinders vir altyd te verander. Behalwe die geboorte van my eie kind was dit die wonderlikste ervaring van my lewe. Ek het besef hoeveel ’n mens wen deur aan ander te gee. Ek is soontoe met die gedagte dat ek hierdie kinders ’n guns gaan bewys, maar ek het verryk teruggekom, ’n beter mens.”

Al waaroor sy spyt is, is dat hulle nie al die kinders wat opgedaag het, kon help nie. Daar was eenvoudig nie genoeg tyd en hande om in die behoefte te voorsien nie. Dit was hartverskeurend om die hoop – en teleurstelling – op die wagtende skare se gesigte te sien toe die lys van goedgekeurde gevalle uitgelees is.

“Vir elke gil van vreugde, was daar ’n hartseer snik. Ek kon my met elkeen van hierdie mammas identifiseer. Jy sal tog enigiets doen om jou kind te help om ’n normale lewe te hê.” Roma erken sy het nie voorheen besef presies waardeur hierdie kinders gaan nie. Die operasie bring hoop en optimisme vir die hele dorp; hulle sien dit as ’n goeie teken vir die toekoms.

Haar werk het nie net ’n invloed op die toekoms van die kinders nie, maar ook op dié van hulle gesinne en die samelewing in van die armste dele in die wêreld. “’n Glimlag is tog iets wat ’n mens met ’n kind vereenselwig,” verduidelik Roma. “Wanneer die kind glimlag, glimlag sy ouers ook. En so kring dit selfs wyer uit.”

Wanneer ’n kind se gesig mismaak is, is dit altyd opsigtelik en het dit ’n groot invloed op die kind. Daarom is dit die hele mens wat gehelp word wanneer ’n haaslip of gesplete verhemelte herstel word. Daardie bevrediging laat Roma selfs meer van haarself gee. Haar man is ook by die organisasie betrokke en hulle enigste kind samel ook graag geld daarvoor in.

“Die dokters wat hulle dienste vrywillig aanbied, leer ook die plaaslike dokters in hierdie afgeleë gebiede om self die operasies te doen sodat dit kan voortgaan wanneer hulle vertrek. So word die goeie werk voortgesit,” spog Roma. “Daar word geskat dat meer as 70 000 kinders wêreldwyd wat met hierdie genetiese afwyking gebore is, al so gehelp is.”

Wanneer ’n baba met hierdie gebrek gebore word, is borsvoeding onmoontlik en is dit selfs ’n gesukkel om uit ’n bottel te drink. Die nasale spraak lei ook tot onverstaanbare uitspraak, wat maak dat ander mense maklik dink die kind is dom. Tydens haar besoek aan Viëtnam het Roma se pad met ’n twee jaar oue seuntjie s’n gekruis wat beide ’n haaslip en ’n gesplete verhemelte gehad het. Die twee operasies word gewoonlik nie gelyktydig gedoen nie omdat dit te veel vir die kleintjies sal wees. Roma het hierdie seuntjie persoonlik tydens sy operasies bygestaan. Sy dapperheid het haar aan die hart gegryp. Met die hart van ’n moeder het sy vir die eerste keer werklik die mens en in die besonder die kind agter die misvorming raakgesien.

Op ’n latere stadium was sy ook baie betrokke by ’n dogtertjie, Madelein. Tydens ’n fondsinsamelingsgeleentheid het die organiseerders Roma met Madelein herenig. “Dit was wonderlik om te sien hoe sy na die operasies gefloreer het,” vertel Roma. “So iets maak dit alles die moeite werd.”