Rome vir plooie en pigmentasie

0
76

Hoe besluit jy op die beste skoonheidsmiddels om jou jonger te laat lyk? Ons vra velspesialiste uit.

Die verkoopsdames agter die skoonheidstoonbanke verwar jou. Hulle praat van ’n groot klomp goed wat jy aan jou gesig moet smeer. Vir ’n varser voorkoms moet jou bankbalans skynbaar reusagtig wees en jou kennis dié van ’n chemikus. Gelukkig is daar eenvoudige maniere om die horlosie terug te draai. Ons het die kopkrap uit velsorg gehaal in hierdie teenverouderingsgids.

Volg die regte roetine vir jou skoonheidskwelling

Jy dink aan veroudering as gesigsplooie. Studies toon egter dat ’n oneweredige velkleur jou nog ouer laat lyk. Soos die tyd aanstap, begin jou vel ook dun word en verloor sy plompheid. Meng en pas uit die volgende kategorieë vir jou unieke jonklyk-program.

Plooie

REINIGER Anti-oksidante is vitamiene, minerale en proteïene wat jou liggaamsweefsel help herstel. Jou velsorgprodukte moet dit bevat as jy velveroudering wil bestry. Lucid Maximum Hydration Calming Cleansing Crème (R189), verkrygbaar by Annique-konsultante, bevat strelende rooibosekstrak. Dis ’n kragtige anti-oksidant wat deur dokters onderskryf word.
DAGROOM “Hialuroonsuur is waarskynlik die beste en veiligste bestanddeel wat vog in jou vel kan intrek en fyn plooie uitklop.” So sê dr. Claire Jamieson Well van Ordinary Skincare. “Dit is tydelik, maar effektief.” Nivea Cellular Anti-Age Facial Day Cream SPF 15 (R179,99), by kettingwinkels, bevat hialuroonsuur om selle jonk te hou.
NAGROOM Retinol is ’n vorm van vitamien A wat fyn lyntjies hokslaan, verhoed dat porieë verstop en selvernuwing bespoedig. Dit is alles bewys deur bykans 40 jaar se mediese navorsing. As jy nie gekonsentreerde Retinol op voorskrif wil neem nie, gebruik Environ Intensive Retinol 1 (R280), verkrygbaar by estetiese dokters.
SONSKERM Daar is geen belangriker produk om jou vel teen alle tekens van die ouderdom te beskerm as sonskermroom nie. As jy niks anders vir jou vel doen nie, gebruik minstens sonbeskerming. SolRx Dry Zinc SPF44 (R185), beskikbaar by uitgesoekte Cape Union Mart-winkels en kettingwinkels, is ’n besondere sonroom wat deursigtig aansmeer. Dit sal nie ’n wit laag op jou vel los nie.

Lees ook: Die 4 gevaarlikste kosse vir jou vel

Pigmentasie

REINIGER Reiniger is die basis van jou velsorgroetine. Dit móét sagkens wees anders berokken jy jou vel net meer skade as wat daar reeds is. Comfort Zone Cleansing Milk (R275), beskikbaar landswyd of skakel , help jou vel om helderder te vertoon.
DAGROOM Die doeltreffendste verhelderingsmiddel is hidrokinoon (hydroquinone), wat net deur ’n dokter voorgeskryf mag word. Dit inhibeer die produksie van melanien, die velpigment wat die onooglike bruin of grys kolle veroorsaak. Oor-die-toonbank-middels wat help, bevat bestanddele soos arbutien, resveratrool of niasienamied. Clarins Bright Plus Brightening Hydrating Day Lotion SPF 20 (R565), verkrygbaar by kettingwinkels, bevat chemiese sonskerms. Dit voorkom dat jou gesig spierwit lyk soos met ’n tipiese SBF-dagroom.
NAGROOM Pigmentasie kan slegs doeltreffend behandel word as jy ’n kombinasie van middels gebruik. Placécol AHA Exfoliating Cream (R224), verkrygbaar by Placécol-salonne, bevat vrugtesure wat oppervlakkige dooie selle verwyder. So kan jou nuwe, helder gelaatskleur na vore kom.
SONSKERM “Dis noodsaaklik dat jy elke dag heeldag sonskerm dra as jy ’n program volg om van donker vlekke ontslae te raak. Een onbeskermde sonblootstelling kan al jou pogings ongedaan maak,” waarsku dr. Claire. SkinCeuticals Physical Fusion (R554), by uitgesoekte kettingwinkels, bied breëspektrumbeskerming teen UVA- en UVB-strale.

Tekort aan volume

REINIGER Reinigers bestry nie die tekens van ouderdom soos ’n verlies aan volume nie. Dit verwyder wel vuilheid wat inflammasie veroorsaak, en inflammasie is gelyk aan velskade. BioNike Defence Tolerance Essential Cleansing Water (R145), verkrygbaar by Dis-Chem, bevat net die nodigste bestanddele. Dit sal nie jou vel irriteer nie.
DAGROOM Velspesialiste vergelyk jou velstruktuur met ’n matras. Hoe ouer die matras word, hoe swakker word die spiraalvere daarin. Jou vel verloor sy veerkragtigheid. Kollageen hou dit egter dik en soepel. Peptiede bewerkstellig weer kollageenvorming. Eucerin Volume Filler Day Cream SPF 15 (R289,99), verkrygbaar by kettingwinkels, bevat peptiede om jou vel fermer te maak.
NAGROOM Die estrogeenvlak in jou liggaam daal hoe nader jy aan die menopouse kom. Een van die gevolge is dat jou vel dunner word. Jou nek en wange hang. Omega 3-, 6- en 9-vetsure kan jou vel nuwe digtheid gee. Vichy Neovadiol Magistral Elixir (R485), verkrygbaar by apteke, is spesifiek hiermee geformuleer.
SONSKERM Die beste sonskermmiddel kombineer die SBF met anti-oksidante, wat jou vel gesond hou. Daar is klinkklaar bewys dat anti-oksidante jou sonskerm meer effektief maak. Dit speel ook ’n rol om inflammasie as gevolg van sonblootstelling te verminder. Everysun Anti-Age Face Sunscreen Lotion SPF 30 (R74,99), verkrygbaar by apteke en kettingwinkels, bevat anti-oksidante.

Lees meer: Die beste raad vir ’n sensitiewe vel

Geskryf deur Ryno Mulder