Rooikop dromer van my hart!

My rooikop, sproetgesig, blou-oog seun is sewe jaar oud. Hy is ‘n dromer. Met alle sekerheid, veilig om te sê, net soos sy ma.

Sy Juffrou vertel nou die dag vir my hoe baie oulik hy is. Ek beaam hoe soet hy is. Nee sê sy, hy is nie altyd soet nie, maar hy is wel altyd oulik.

Hy kan vir ure ronddans saam met sy splinternuwe vriend – sy verbeelding. Sy lippe beweeg en stories word gevorm op die hoeke van sy mond, maar saggies, want hy is nog nie bereid om hierdie groot avonture met iemand te deel nie.

Na ek so bevoorreg was om die naweek die Finesse “Ek wil, Ek kan, Ek sal” konferensie by te woon dink ek baie aan my klein dromertjie. Net voor die konferensie begin het, het ek ʼn notaboek by my Ma as geskenk gekry. Op die boekie staan die volgende geskrywe: “Let’s Dream, play and make some new memories together.”

Is hierdie nie ʼn mooi aksieplan nie?

Tussen vyf inspirasie-sprekers en ʼn (soms) onskuldige, droomverlore kind se ronddans kry ek my lewenslus terug.

My lewenslus om groot drome te droom.

My lewenslus om groot drome te praat.

Ellen Johnson Sirleaf se bekende aanhaling lees “If your dreams don’t scare you, they are not big enough.”

Magtig! Hoeveel keer hardloop ons weg van dit wat ons bang maak, wat ons gemaksone ruk? Hoeveel keer hardloop ons weg van ons eie drome af?

Net soos my seuntjie, is meeste van ons bang om ons drome hardop uit te spreek. Bang vir wat ander sal dink, bang vir oordeel, bang vir verwerping. Bang vir ons eie gedagtes. Bang vir die onbekende.

Ek sien my plig as ʼn ma raak teenoor my kleine dromer. Ek gaan hom moet wys dat sy drome groot waarde het.

Wat sal die beste manier wees om dit te doen? My persoonlike gevoel hieroor: deur ʼn voorbeeld te wees van ʼn pro-aktiewe dromer.

Een met ʼn beplan, ʼn tydspan, ʼn saamspan en die belangrikste: ʼn eindplan.

Ek is liries opgewonde oor ons drome. Vandag is tog die eerste dag van die res van ons lewe. Vandag tel. Elke tree, elke passie, elke teug. Kom ons asem dit in.

Wat is my droom vir my lewe?

Vorige artikelSuikersoet maar misgekyk!
Volgende artikelLeiding in die gejaag
Blogger - Tersia Gouws
Tersia Gouws is ’n getroude ma van twee wat voltyds werk as klientediens konsultant. Haar liefde vir kommunikasie het verseker dat sy haar vlerke kon sprei as fotograaf, skrywer, dromer en waaghals! Haar passie vir mense het daartoe gelei dat sy by verskillende welsynsorganisasies werksaam was in kommunikasie, openbare betrekkinge, bemarking en fondsinsameling. Sy gebruik steeds haar vrye tyd om betrokke te wees as ñ vrywilliger. Sy beskryf haar grootste uitdaging nóg as vrou-wees en ma-wees. Haar liefde vir lees en skryf het sy by haar pa, Joos Bothma, geëerf wat in 2016 oorlede is. Sy skielike afsterwe het haar geroep om te begin skryf met die doel om ander te inspireer en te herinner dat die lewe kort is. Volg gerus haar persoonlike blog by www.elkesekondetel.blog