Roomys met heuning en amaretti-beskuitjies

0
219
heuning.jpg

Enigiemand vir nagereg? Bederf jou mense met vingerlek-lekker roomys, heuning en amaretti-beskuitjies.

Genoeg vir 1 groot bak
Tyd: 20 minute + oornag om te verkoel + 4 uur vriestyd

BESTANDDELE
60 ml heuning + ekstra vir opdiening
500 ml volroommelk
500 ml vars room
1 vanieljepeul, gesplit en pitjies uitgekrap
6 groot eiergele
150 g suiker
150 g amaretti-beskuitjies, fyngemaak
nektarienskyfies, vir opdiening

METODE
1 Plaas die heuning, melk, room en vanieljepeul en -pitjies in ’n groot kastrol en bring tot kookpunt.
2 Terwyl die mengsel besig is om warm te word, meng die eiergele en suiker in ’n bak en klop met ’n elektriese klitser tot die mengsel dik en strooikleurig is, ongeveer 5 minute.
3 Haal die melk van die hitte af en voeg dit geleidelik by die eiergele. Voeg stadig by om te voorkom dat die eiers skif en meng deurentyd.
4 Giet die mengsel terug in die kastrol en roer oor matig lae hitte tot dit dik genoeg is om die agterkant van ’n lepel te bedek. Giet die vla in ’n groot bak, bedek met kleefplastiek en verkoel oornag in die yskas.
5 Berei die roomysmaker voor. Verwyder die vanieljepeul en druk die vla deur ’n sif. Giet in die roomysmaker en verkoel volgens die vervaardiger se aanwysings.
6 Wanneer die roomys feitlik gestol het, voeg die helfte van die beskuitjies by en meng deur. Giet in ’n groot houer wat geskik is vir die vrieskas, bedek en vries vir 4 uur of oornag.
7 Sit voor met die res van die beskuitjies, vars nektariens en ekstra heuning.

Artikel: Leila Saffarian, bygestaan deur Nomvuselelo Mncube
Foto’s: Roelene Prinsloo