Rozanne bly aktief op vakansie

0
127
Rozanne.jpg

Ek het twee jaar gelede saam met my afrigter, Grant Myburgh, begin oefen. Toe was ek oorgewig. My eetgewoontes en leefstyl moes verander. Vir twee maande het dinge baie goed gegaan.

Trooskos bring meer as net troos

Daardie jaar het ek en my man, Chris, Kersfees vir ons familie in Engeland gaan kuier. Dit was baie koud, en dit het gesneeu. Daar is niks so lekker soos trooskos in die koue nie. Ek het drie weke lank alles geëet waarvoor ek lus was – sjokoladedrankies met room, koek en kroegkos. Ons het ook nie veel geoefen nie. Toe ons terugkom in Suid-Afrika, wys die skaal ek het meer as 4 kg aangesit! Ek moes weer oor begin met my oefenprogram. Grant was glad nie gelukkig nie, maar ek het my les geleer.

Deesdae is ek meer aktief op vakansies

Dit beteken nie dat ek dit nie geniet nie. Maar dis vir my belangrik om gesond te leef en my lyf op te pas tydens vakansies. Ek eet so gesond as wat ek kan. En ek maak seker ek doen elke dag iets aktiefs. As ek ure lank met ’n goeie boek langs die swembad lê en skemerkelkies drink, sal ek na ’n rukkie ook ’n paar lengtes swem.

Ses maande na ons getroud is, het ek en Chris uiteindelik op wittebrood gegaan. Ons was vir ’n week in Inhambane, Mosambiek. Ons het gekajak, gesnorkel, geswem, gewaterski en baie op die strand gestap. Dit was fantasties om die gebied so te verken. En dis vir ons albei lekker om aktief te wees op vakansie, want ons oefen baie as ons by die huis is. As ons terug is by die huis, hoef ons nie weer van voor af te begin met ons oefenprogram nie.

Lekker eet is deel van luilekker dae

Ons eet baie uit. Ek is mal oor soesji, dis so verfrissend. Ek geniet ook ’n lekker biefstuk met pampoen en geroomde spinasie. Uiteet is vir ons ’n stokperdjie. Ons geniet dit om nuwe restaurante en kosse te beproef. Ons hou ook baie van Griekse kos en tapas.

Ek hou van soet en sout goed. Ek hou baie van witsjokolade en aartappelskyfies. As ek lus is vir iets, sal ek dit eet. Ek sal myself nie straf omdat ek ietsie lekkers geëet het nie. Ek doen dit net nie elke dag nie.

Vakansies moet geniet word, en wat is nou slegter as om rond terug te kom? Kry ’n balans tussen ’n gesonde leefstyl en ’n genotvolle tyd.