Rozanne McKenzie het haar glans herwin

959

Rozanne McKenzie het haar glans verloor. Haar hart is stukkend gehuil. ’n Ma vir wie alles te veel geword het. Sou alkohol die las kon verlig? Kan enigiets of enigiemand regtig help? Dit het tyd geword om te kies. Elke keuse ’n oomblik wat haar lewe herdefinieer.

Dit was ’n doodgewone Saterdagmiddag. Inkopies saam met my twee mensies, James (5) en Fallon (2). Maandeinde. Die winkelsentrum was mal besig. Die uitverkopingsborde oral uitgestal. Mense het gedruk en gestoot. Die rye was lank.

Tog was dit een van die lekkerste uitstappies in ’n lang tyd. Ons drietjies het uitbundig gelag en grappe gemaak. Die winkeltrollie al in die rondte gedraai en gespeel. Roomys en koekies geëet dat die krummels spat.

Daar was net een woord wat in my gedagtes bly maal het. Dankbaarheid.

Deur genade, geseënd om te besef ek het sowaar die pad tot hier toe gevind. Uit die diepste donkertes, terug na die lig toe.

I’ve made it all the way through.

Dit klink dalk na ’n niks-ervaring, maar dit was ’n mooi, grootse oomblik. Skielik so trots op hierdie twee pragtige kindertjies. Op die lewe wat ek en my man, Chris, saam kon bou. Dankbaar om weer my ou self te wees. En opnuut ma-wees te kon geniet.

’n Paar maande tevore sou iets so eenvoudig soos ’n winkeluitstappie saam met die kinders totaal ondenkbaar gewees het. Die oppasser sou eerder ’n dubbele betaling gekry het om na hulle te kyk, as wat ek sou kans sien om hulle saam te karwei.

Want iets hier binne was geknak. Stukkend gebreek. My oë was dof. Donker kringe het maande se stryd verklap. Selfs my hare het begin uitval.

Die mens in die spieël het soos ’n vreemdeling gevoel.

“Waarmee kan ek jou he..?” Die dokter kon nie eens haar sin klaarmaak nie, toe stroom die trane al.

Die huil het van diep binne losgebreek, en toe is die sluise wawyd oop.

Die minute het verbygetik.

Sy het haar pasiënt laat begaan… en ek het laat waai. Sonder ophou gehuil, omdat die trane eers moes uit voor enige woorde gevorm kon word.

Hoe het dit gebeur? Hoe verander ’n mens van ’n spontane, borrelende persoon in ’n wanhopige stuk hartseer – en dit in ’n lewensfase waar jy veronderstel is om sielsgelukkig te wees en die lewe te vier?

Daar was ’n woede wat soos ’n swaar ding op my bors kom lê het. Dit het elke stukkie lewensvreugde uitgepers. ’n Woede, omdat niks my hierop kon voorberei nie.

Die situasie was heeltemal oorweldigend. Dit het my vasgekeer laat voel, toegesluit in ’n tronk van omstandighede buite enigeen se beheer.

Na ’n lang ruk, toe die trane uiteindelik klaar gehuil was, kon die stormgedagtes woorde word.

Gefrustreerd… baba… koliek…wil nie slaap nie… tot die dood toe moeg… kan dit nie meer hanteer nie… help… asseblief!

Nog nooit voorheen was daar ’n situasie wat my letterlik rooi laat sien het nie. Die gevoel dat ’n mens net wil skree, maar ook wil verdwyn. ’n Kat-en-muisspeletjie in jou siel van “wil nie gesien wees nie, maar wil tog gehoor word”.

Die dokter het rustig enduit geluister, en toe met groot simpatie geantwoord: “Rozanne, dis heeltemal normaal.” Postnatale depressie, het sy die tronk ’n naam gegee. Woede was een van die algemene simptome.

“Dit gebeur met baie ma’s,” het sy verder gepaai, “selfs al was die geboorte en swangerskap ook hoe mooi en sonder probleme. Daar is hulp.”

Dit was asof ek die enigste ma op hierdie aardbol was wat gespartel het met emosies van woede en ontoereikendheid. Die enigste een wie se kind, wat veronderstel was om rustig en gesus by my te voel, glad nie die troos kon kry waarna sy gesmag het nie.

Ek het bly wonder: Gaan hierdie baba ooit weet ek het haar lief? So tussen my hartseer en eie trane deur?

Diep asemhaal. ’n Sweempie hoop. Die eerste skrefie lig het in die donkerte begin skyn.

Terugskouend was daar ’n paar faktore wat daardie dag in die spreekkamer heeltemal anders kon laat verloop het. ’n Paar ander keuses sou my lewe dalk totaal en al laat ontspoor het.

Dank die Here dat Hy dáár was, in die oomblikke toe ek Hom die nodigste gehad het.

Ek was vir jare ’n partytjiemens. Hard gewerk in die week tot Saterdagaande toe. Dan was dit tyd vir skoene uitskop en ontspan.

Uiteet saam met Chris. ’n Paar drankies geniet saam met vriende. Lag en kuier tot die hane kraai.

Elke Sondagoggend was ook dieselfde. Babelaas. Daardie wakkerskrik in ’n waas met ’n kloppende hoofpyn. Moeg en sat nog voor die nuwe week begin het.

Een so oggend het ek só verslaap dat ek ’n baie spesiale oomblik op radio gemis het. Die radiostasie waar ek werk, Jakaranda FM, het vir elkeen van ons omroepers die kans gegee om in ’n program (wat gelukkig vooraf opgeneem is) ons gunstelinghoërskooltreffers met die publiek te deel.

Hierdie spesifieke oggend was dit my liedjies se beurt, en ek het so daarna uitgesien om saam met die luisteraars na my skooljare teruggevoer te word.

Maar toe mis ek dit… omdat ek die vorige aand te veel gekuier het en nie betyds kon wakker word nie!

En hier word ek deur my eie agterlosigheid, en te veel alkohol, uitgeboul.

“Vir iemand wat so baie daarvan hou om in beheer te wees – en wat boonop gesondheidsbewus is – het jy maar bitter min balans in jou lewe,” het die selfberisping in my kop weerklink.

Genoeg is genoeg.

Dit was kort voor die feestyd toe die besluit geneem is. Die tyd het aangebreek om ’n “droë Desember” uit te toets. Dit beteken: geen alkohol in die maand van vakansie en feesvier nie.

En as jy hierdeur kan kom, sal jy enigiets kan baasraak, het ek nogal gedink.

Hoe waar sou hierdie woorde nie word nie.

’n Ander oorweging: dalk sou so ’n gesondheidsbesluit my selfs kon help om weer swanger te raak. Ons het toe al vir ’n geruime tyd probeer vir ’n tweede kind, maar tevergeefs.

Daar was baie partytjies, afskeidsfunksies, hope versoekings… maar die vasberadenheid om by my voorneme te hou, het telkens gewen. Nie ’n druppel alkohol was welkom oor dié lippe nie.

Toe ons weer sien, was die swangerskapstoets positief. Jippie! Die lewe was ’n lied.

Fallon het haar opwagting gemaak, en ek was steeds alkoholvry.

Aan die begin is alle babas mos stroopsoet. Drink en slaap soos ’n droom, maar op ’n dag het sy net uit die bloute losgetrek en begin skree.

Dae het weke en later maande geword. En ek ’n wrak. Iemand wat in ontkenning begin leef het. Te bang om hulp te vra.

Dit het gevoel asof die lewe besig was om tussen my vingers deur te glip. En daarmee saam die vreugde, passie en energie wat my gemaak het wie ek is.

Wanneer dit goed gaan, vergeet ons mos so bietjie van die Here. Totdat ’n krisis tref.

In hierdie stikdonker tyd van my lewe het ek baie met Hom gepraat. Gevra vir hulp. Gesmeek vir ’n uitkoms.

En toe gebeur dit op ’n tyd en plek – op my laagste laagtepunt – toe dit die minste verwag is.

Die maklike uitweg uit hierdie gat sou wees om weer in ou patrone te verval. Om net weer ’n drankie of twee (of drie) te geniet. Alkohol is mos ’n vinnige manier van ontspan. ’n Maklike uitweg om vrolik te voel, al is die wêreld besig om rondom jou te verkrummel.

Met ’n moeilike baba op die heup, ’n kleuter aan die hand, ’n voldagwerk en my oë wat skaars kon oopbly, het hierdie gedagte ’n paar keer desperaat teen die deur van my hart kom aanklop.

Maar met genade van Bo was die besef ook elke keer daar: “As jy nóú toegee Rozanne, as jy nou begin drink, gaan jy waarskynlik nooit weer ophou nie.”

Drank was nie voorheen ’n groot probleem in my lewe nie, maar dit het die potensiaal gehad om een te word. ’n Kruk wat met tyd baie moeilik sou wees om van ontslae te raak.

Die verlies sou onberekenbaar groot gewees het. Chris, my kinders, werk, geloof… elke kosbare verhouding sou daardeur geraak en vernietig word.

Vandag dank ek die Here vir die nugterheid om dit te kon insien. Om diep geanker te kon bly, al het die woeste branders gedreig om my stukkend te slaan.

Die sterk fondasie van geloof was al vroeg gelê. Dit het my keuses in ’n bepaalde rigting gelei.

As dogtertjie het ek gereeld saam met my ouma gebid en kerk toe gegaan. Dit was so lekker om saam met Ouma, en al hierdie ander mense, te kon sing vir God.

Later, as jong meisie, is ek ingeskryf by ’n Katolieke skool, en alhoewel ons nie Katoliek was nie, het ek dadelik daarby aanklank gevind. Die struktuur, die proses van aanbidding, die viering van elke fase van geloof het my tuis laat voel.

Ek het my ma oorreed dat ek in hierdie kerk aangeneem kon word en ek was vir jare ’n aktiewe lid. Passievol en ywerig om nie die weeklikse dienste te mis nie.

Maar op universiteit het die vrae oor sekere mensgemaakte reëls te groot geword vir die antwoorde wat ek gekry het en soms nie gekry het nie.

Dit het my van die kerk begin vervreem, maar nie van die Here nie. Hy was steeds in my hart, deel van my lewe, maar ’n ware tuiste om te aanbid het ontbreek.

My geloofskeerpunt het stelselmatig gebeur toe ek ’n ma geword het. Dit laat ’n mens anders dink oor dinge wat nie voorheen gepla het nie.

Om vir James en Fallon dieselfde stewige fondasie van geloof te gee het my hartsbegeerte geword. Ek wil hulle baie graag ’n anker gee om eendag koersvas op hulle lewenspad te bly, selfs al kom daar soms vrae en afdraaipaaie.

Hoe ouer die kinders raak, hoe groter die bewuswording van hoe graag ek wil hê dat hulle ook ’n lewende verhouding met die Here moet bou. Die skool kan dit in ’n mate vir ’n kind leer. En by die huis kan ons dit ook beoefen – aan tafel bid vir die kos en saans voor slaaptyd Bybel lees en bid vir ’n lekker nagrus, maar ’n geloofsverhouding is ook méér as dit. Dit is om in ’n plek van aanbidding, saam met ander gelowiges, die Here te loof en te prys.

Dis ’n groot gemis, daarom is ek tans in die proses om weer na ’n kerk te soek. ’n Geestelike tuiste wat opnuut struktuur aan my geloof kan gee – en daardeur ook aan die kinders. My man het nie op die oomblik so groot behoefte daaraan nie, maar sy ondersteuning is goud werd.

Deur elke storm was God my anker. Dit weet ek vandag. My lewe, tot op hierdie punt, kon so anders verloop het as Sy lig nie keer op keer in my donkerte kom skyn het nie.

Die dag voor die doktersbesoek het my laagste laagtepunt aangebreek.

Dit was ’n Sondag. Vroegoggend. Die huis was deurmekaar.

Ons dogtertjie was wakker en skreeuend. Ons seuntjie het iewers met sy karretjies gespeel.

Die geraas, en my eie gevoel van frustrasie en magteloosheid, het in daardie oomblikke net te veel geword.

Ek het in ’n hoekie van ons slaapkamer op die grond gaan sit. In ’n hopie, opgekrul soos ’n fetus, en net begin huil.

Die rou snikke weergalm nou nog deur my gedagtes as ek daaraan dink.

Chris, dierbare, ondersteunende man wat hy is, het voor my kom kniel en saggies gesê: “Rozie, jy sal moet hulp kry. Jy kan nie langer so aangaan nie.”

Ek het stom van verdriet ingestem. Later foon toe gestrompel en die afspraak gemaak.

Daardie eerste tree in geloof – dat ’n uitkoms uit hierdie tronk tog moontlik was – was ook die eerste tree na heelwording.

Dit het die wêreld se verskil gemaak om net te kon erken: Ek het hulp nodig.

Vandag, deur die storm en anderkant uit, voel ek stukke beter. Weer my ou self. Vreugdevol, spontaan, energiek. Eintlik nog beter as die ou Rozanne, want ek is gesonder. Gelukkiger. Vry.

Dit is so lekker om die lewe te ervaar sonder die filter van alkohol. Om steeds te bly wie jy is, al word daar nog uitgegaan en gekuier saam met vriende.

Nou geniet ek en Chris hierdie kuiertye met sodawater, of selfs kruiewater, in die hand. En dis net so lekker.

Die wasigheid van ’n Sondagoggend is iets wat ek nooit sal mis nie. Dit is net baie lekkerder om verfris wakker te word. Dis selfs asof die kinders nie meer so stout is nie. Alles is nou soveel beter en makliker om te hanteer.

Daar is ’n paar belangrike lesse wat ek uit my donker tyd geleer het.

Geloof gaan jou deur die moeilike tyd dra. Hou vas daaraan, die antwoorde gaan wel kom.

Maar ook: Die antwoorde kom nie altyd hoe en wanneer ons dit verwag nie.

Dit was moeilik vir my. Vir lank kon ek net die donkerte sien. Wanhopig ruk en pluk aan die kettings wat my gevange gehou het.

Maar toe ek begin oopmaak vir die Lig – erken het dat hulp nodig was – het dit die donkerte begin verdryf.

In my geval was mediese hulp – die kundigheid van ’n dokter – God se manier om uitkoms te gee. Dit het my nié in ’n zombie verander nie, nié verslaaf gemaak of van my persoonlikheid beroof nie.

Dit het eerder gehelp om op ’n verantwoordelike manier, en sonder die kruk van alkohol, weer my ou self te word.

Vandag kom ek sonder medikasie klaar en is dankbaar vir elke oomblik – goed en sleg – wat gehelp het om weer vorm en fokus aan my geloof en menswees te gee.

Ek weet ook: ’n Mens is nooit alleen nie. Selfs al voel dit so. Daar is Iemand wat jou raaksien, wat omgee vir die mens wat jy is en die bydrae wat jy in hierdie wêreld kan lewer.

My roeping is om stories te vertel en daardeur ook my eie storie, sodat dit ander hoop kan gee en kan bemoedig.

Die beste raad? Moenie opgee nie. Gee oor.

Maak oop vir Sy lig, sodat jy ten spyte van die donker, steeds by jou beste self kan uitkom.