Ry jy of bly jy?

Die Romeinse offisier was ‘n Godsvresende man. Dan kry hy die opdrag om Petrus na sy huis te ontbied.

Petrus aan die ander kant, getroue volgeling van Jesus was steeds ‘n Jood wat geleer het dat jy nie kos wat onrein is mag eet nie. In ‘n visioen word hy onwetend gereed gemaak vir die uitnodiging na die Romein se huis. Cornelius word die eerste nie-Joodse bekeerling wat saam met sy familie gedoop word. Die Here werk op vreemde maniere.

Daar is so baie stories van mense wat bid en onverwags uit onverwagse oorde uitkoms ontvang. Hoe wonderlik as ons kan besef dat ons iemand anders se gebede kan laat waar word. Soms is dit die regte woord op die regte tyd, soms net ietsie kleins. In my eie werk is dit nie altyd maklik om daardie instrument te wees nie. Moet ek in ‘n split sekonde besluite neem. Dit maak my so afhanklik van die Here.

Wanneer Stephan Joubert tydens ‘n erediens op die televisie praat oor die aktuele onderwerp of jy moet bly, gaan of gly stuur sy antwoord ons in ‘n ander rigting. As ’n Christen dien ons ‘n God wat internasionaal is maar ook plaaslik. Lê jou identiteit in Hom en berus jou keuses nie op veiligheid of waar jou behoeftes die beste bevredig kan word nie. Die vraag is waar jy God die beste kan eer. Soms moet jy die moeilike pad kies.

As ek kan reg kry dat my hele lewe ‘n roeping raak en nie net ‘n eindbestemming nie, leef ek dalk anders.

In ’n kort storie, “Manuel is a free man”, deur die bekende skrywer Paulo Coelho vertel hy die verhaal van die man wat sy hele lewe hard gewerk het. Hy het baie ure ingesit en oortyd gewerk om ‘n sukses van sy loopbaan te maak. Intussen het sy kinders groot geword en het die tyd aangebreek vir sy aftrede. Hy het die goue pen van erkenning ontvang en is met mooi woorde gegroet. Hy het die tyd aangegryp en gedoen wat hy nog altyd wou. Laat geslaap, koerant gelees, tuin gemaak en gereis. Mettertyd het die pad ook alleen geraak. Hy wou graag met sy kinders kuier maar hulle was besig met hul eie lewens. Hy het sy foto’s graag met sy vriende gedeel maar ook hulle was te besig met hul eie leer van sukses. Hy was ‘n vry man maar het skielik nutteloos gevoel. Hy het gewens dat hy weer ‘n stuk van sy lewe kon oorkry. Om te lewe terwyl jy lewe, nie net vir eendag nie. “He passed through life, he did not live it.

Êrens begin ek besef dat ons lewens in mekaar gevleg is. Dat Petrus en Cornelius bymekaar moes uitkom ter wille van die evangelie. Dat geen werk in isolasie gebeur nie. Dat keuses en besluite ander mense direk en indirek kan beïnvloed. Dat ons antwoorde op gebede kan wees… as ons bereid is om God toe te laat om deur ons te werk.

Die lewe bly onvoorspelbaar. Jy kan onverwags ‘n slegte diagnose kry. Mense gaan onverwags dood. Elkeen van ons loop ‘n unieke paadjie. Ons ontmoet verskillende mense. Ons kan soos Petrus die uitdaging vat of ons kan kies om in isolasie ons eie wêreld te bou. Ry, bly of gly is irrelevant wanneer ons besef dat ons hemelse burgers is, ons verblyf op die aarde tydelik is maar ons hier is om ‘n verskil te maak. Om werklik te lewe.

Die Here werk op vreemde maniere. Watter voorreg as ek deel van Sy groot planne kan wees.

Of ek ry… en of ek bly.