Ryk aftrede? Wat sê die geldkenners …

0
211
ryk_aftrede.jpg

Beplan jy vir jou aftrede of gaan jy ’n las wees vir jou kinders? Ons kyk wat sê die geldkenners oor of dit moontlik is om ryk af te tree.

“Jou aftrede kom eerste,” sê Suze Orman.

Baie vroue kom na my toe en vra watter spaarplan die beste is vir hulle kind se opvoeding. My eerste vraag is of hulle ’n aftredeplan het. As vroue nie ’n pensioenfonds het of genoeg geld daarvoor spaar nie, is dít hulle prioriteit. Sonder ’n pensioenfonds gaan jy ’n las vir jou kinders wees, want hulle gaan op jou oudag vir jou moet sorg. Daar is buitendien baie studielenings beskikbaar wat jou kind kan afbetaal wanneer hy of sy begin werk. Ongelukkig word geen lenings uit ’n pensioenfonds toegestaan nie. Jy is in die moeilikheid as jy nie ’n pensioenfonds het nie.

Dis belangrik dat vroue in beheer van hulle finansies moet wees. Ons kry mos van kleins af die idee dat finansies ’n man se werk is. Dis hoekom selfs vroue wat aan die stuur van maatskappye staan, soms onseker voel oor hulle geldsake. Dis jou verantwoordelikheid om jou finansies te bestuur. Moenie dit aan iemand anders oorlaat nie.

Suze Orman is ’n internasionale finansiële adviseur.

“Bestee minder as wat jy verdien,” sê Johnny Moneyseed.

Hoeveel geld jy verdien, is nie so belangrik soos hoeveel geld jy spaar nie. As ’n gesin R100 000 se inkomste het en ’n R100 000-leefstyl handhaaf, is hulle nie ryk nie. Om ryk te wees het niks te doen met ’n groot betaaltjek wat jy elke maand uitgee nie. Dit beskryf eerder die hoeveelheid bates en geld wat jy tot jou beskikking het. Baie mense dink hoe meer geld hulle maak, hoe meer kan hulle bestee. Meer geld beteken vir hulle ’n nuwe motor en ’n groter huis.

Ek verdien ’n middelklassalaris en ek is nie ryk nie, maar ek is ryker as sommige mense wat dubbeld soveel as ek verdien. Maar ek sal eendag goed kan leef omdat ek my geld spaar en belê. As jy minder geld bestee as wat jy verdien en dit elke maand spaar of belê, is ’n ryk aftrede vir jou moontlik.

Johnny Moneyseed is ’n Amerikaanse finansiële blogger.

“Aftrede is nie die einde van jou beroepslewe nie,” sê Cara Blackie.

Een oplossing om vir ’n standvastige inkomste voorsiening te maak is dat mans en vroue langer moet aanhou werk, eerder as om op 55 jaar af te tree. Dit gebeur al hoe meer dat mense tot lank na die ouderdom van 60 aanhou werk. Hulle wil ook nie ophou werk nie, want ’n beroep hou mense aktief en gee hulle ’n doel.

Mense sal meer kreatief moet raak om ’n ekstra inkomste te kan verdien wanneer hulle aftree. ’n Onderneming wat van die huis af bedryf word, is ideaal. Om na aftrede ’n beroep te kry word al hoe belangriker vir mense om hulleself tydens hulle aftrede te onderhou. Eintlik is dit die ideale geleentheid om iets te doen waarvan jy hou en wat jy nog altyd wou doen. Jy kan byvoorbeeld jou beroepsondervinding gebruik om klasse aan te bied of praatjies te lewer.

Cara Blackie is ’n opvoedkundige sielkundige.
Hoe spaar jy reg vir elke dekade van jou lewe? Lees meer hier …