Ryp vrugte

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die vrugte aan die bome begin vorm en vir ons wys hoeveel vrugte ons vanjaar kan verwag.

Ons kan nou sien of die manier waarop ons die bome gesnoei het en die hoeveelheid water en bemesting wat ons die voorafgaande maande gegee het, die verlangde resultate gaan oplewer.

Ons buurman se groot vyeboom, wat teen die grens van ons erwe staan, se takke mik-mik so oor die hoë asbesheining tussen ons. Dié vye begin ook nou stadigaan groter vorm kry. Helaas, daardie vye is net vir kyk, nie vir eet nie. Sien, ons bure is nie vye-eters nie, dus doen hulle geen moeite met die boom nie. Hulle wend derhalwe ook nie ‘n poging aan om die voëls weg te hou sodra die vye begin ryp word nie.

Net voordat die vye volkome rypwording bereik, vaar die Rooi-oog Tiptolle en Indiese Spreeus daarin sodat geen vy vir menslike genot oorbly nie. Daarna kry die miere ook ‘n beurt om van die soet vrugte te eet.

Die Bybel is gevul met teksgedeeltes waarin ons aangemoedig word om vrug te dra. As Christene word ons immers aan ons vrug geken. In Johannes 15:8 sê Jesus dat God juis daardeur verheerlik word as ons baie vrugte dra. Hy sê ook dat selfs dié wat voorgee wat hulle nie is nie, aan hulle vrug geken sal word.

Ek glo dat dit elke Christen se begeerte is om vrug te dra. Nie almal blyk egter besorgd te wees om toe te sien dat hulle by rypwording uitkom nie. So asof hulle tevrede is met sulke klein vruggies hier en daar. Jaar na jaar.

Om gesonde vrug te kan dra wat rypwording bereik moet ons toelaat dat die Boer ons onder hande neem. In Johannes 15:2 sê Jesus dat Sy Vader die boer is. Die Boer snoei elke wingerdstok sodat daar nog meer vrugte gedra kan word. Dalk is baie van ons se rede vir klein en min vrugte juis omdat ons wegskram van die snoeiproses. Om gesnoei te word kan dalk minder aangenaam wees. Tog is dit uiters noodsaaklik.

In Johannes 15:5 verduidelik Jesus verder dat Hy die wingerdstok is en ons die lote. Indien ons in Hom bly, dra ons baie vrugte, want sonder Hom kan ons niks doen nie.

Indien ek nie goeie vrugte dra nie, moet ek dalk loer of ek nog sterk aan die Wingerdstok geheg is. Of probeer ek te veel my eie ding doen?

Die bekommernisse en uitdagings van die lewe is soms soos voëls wat dreig om die vrug net voor rypworing op te vreet. Galasiërs 5:22 sê dat die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

As ons dus sou toelaat dat bekommernisse en uitdagings oor werk, verhoudings, finansies en die toekoms van die land ons gaan beïnvloed, gaan dit ons liefde, vriendelikheid en geduld teenoor mekaar, daaglikse vreugde en vrede, selfbeheersing en goedhartigheid nadelig raak. Dan het ons liefde, geduld, goedhartigheid net tot op ‘n punt en ons vrug lyk nie soos dit moet lyk nie.

Mag ons dus stewig geanker wees aan die wingerdstok, toelaat dat die Boer die noodsaaklike snoeiwerk doenen Sy woord glo en leef eerder as ons bekommernisse.