Saai Waarheid In Ons Harte

Ek en ‘n groep vroue het die afgelope 30 weke elke Dinsdag drie ure in ‘n klas deurgebring waar ons, onder leiding van ‘n gekwalifiseerde huweliks- en gesinsberader, vaardighede in die gesinslewe bespreek het.

Een onvergeetlike aand het die onderwyser voor in die klas gestaan en woede vir my geherdefinieer:

“Woede is ‘n valse front – ‘n wegwyser na ander onderliggende emosies. Ons gebruik woede om ons skande, onvermoë en pyn te verdoesel.”

Regtig?  Ek het opgegroei in ‘n huis waar woede-uitbarstings die norm was.  Om seker te maak jy word ernstig opgeneem, het jy eenvoudig jou stem verhef en met meer agressie gepraat.  Dit was ons normale manier van kommunikeer.  Om vrede in die huis te bewaar, moes ek as volwassene van voor af leer hoe om ‘n gesprek te voer sonder om altyd op die aanvalspad te wees.  Ek moes letterlik die wortels van bitterheid om my egosentriese hart verwyder.

Wat ek geleer het deur wyse raad, stem perfek ooreen met die waarhede wat in die boek Jakobus gedeel word. Eiegeregtige woede is nooit gesond nie. Ons sal nooit die oorlog wen deur ons woorde as wapen te gebruik nie.

Die apostel Jakobus het geleef in ‘n tyd waarin opponerende partye passievol was oor menings, en hy het praktiese hulp aan die vroeë kerk verleen oor hoe om konflik te hanteer. Die weg van die wêreld is om ons eie wil te eis, maar in hierdie gedeelte ontdek ons God se vergelyking vir gesonde kommunikasie:

  • Wees vinnig om te hoor.
  • Wees stadig om te praat.
  • Wees stadig om toornig te word.

Jakobus verduidelik hoe ons ontslae moet raak van die vleeslike, sondige onkruid wat ons harte verstrik. Soos ons God se Woord bestudeer, word ‘n saad van waarheid in ons lewens geplant. Elke keer wanneer ons nederig gehoorsaam is aan wat God sê, laat dit pragtige vrugte voortkom. As daar ‘n geskiedenis van woede in jou familie is soos in myne, kan God se Woord wat in jou hart toegepas word, jou hele lewensuitkyk verander.

Ons kan woede uitroei en geregtigheid in die plek daarvan plant.

Om na die welstand van jou hart om te sien is harde werk, maar definitief die moeite werd.