Sakpasprodukte om mooi te lyk

0
1567

Die jong aktrise Lea Vivier deel haar geheime om silwerskermmooi te wees sonder om sakke vol geld aan onnodige produkte te spandeer.

Aqueous Cream pas beter by my vel as duur produkte

My vel is geweldig sensitief. Tot onlangs het ek gespesialiseerde, goeie (en redelike duur) gesigseep en gesigroom gebruik, maar selfs dié produkte het my vel styf en uitgedroog laat voel. Toe vra ’n grimeerkunstenaar my eendag uit oor my sensitiewe vel en stel voor ek gebruik Baby Aqueous Cream as gesigseep en gesigroom. Ek kon my ore nie glo nie. Ek het dit op die proef gestel, en kyk, dit werk vir my soos ’n bom. Mense is nou nog geskok as hulle dit hoor. Baby Aqueous Cream is boonop ’n wenner as dit kom by geld spaar.

Omdat ’n aktrise elke dag op stel gegrimeer word, dra ek andersins baie min grimering, ek gun my vel ’n “vakansie”. BB-room of ’n dagroom met sonbeskerming en ’n effense tint is genoeg om elke dag te dra. Wanneer dit wel tyd is vir grimering, dra ek ’n bietjie onderlaag en maskara, en rooi lippe! ’n Mens kan ver kom met min grimering as jy rooi lipstiffie dra.

Op hierdie produkte sal ek wel geld uitgee

Ek verkies kwaliteit bo kwantiteit, en sal dus eerder ’n bietjie meer geld spandeer indien ek weet ’n produk is van goeie gehalte.

Earthsap se sjampoe en opknapper is wonderlike natuurlike produkte wat nie my hare of kopvel uitdroog nie. My hare ruik heerlik nadat ek dit gebruik het en dit haal nie die krul uit nie.

’n Goeie BB-room is die geld werd. Dit is ’n alles-in-een-produk waarsonder ek nie kan klaarkom nie – ’n ligte onderlaag wat die vel ook bevogtig en teen sonskade beskerm. Dis ‘n slim oplossing vir iemand wat nie ’n string produkte wil gebruik nie.

Klapperolie is miskien een van die duurder items in jou kombuiskas, maar in vergelyking met skoonheidsprodukte met handelsname is dit ’n sakpas-opsie. As ’n mens daarin bad, maak dit jou vel lieflik sag. Voeg sommer ’n eetlepel vol direk by die badwater of smeer dit in jou lyf in terwyl jy stort. Dis ook ’n goeie keuse as jy jou eie lyfskrop wil maak.

Ek spaar geld met ’n natuurlike benadering

My haar-regime kos my net die sjampoe en opknapper. Nou en dan laat ek die punte sny. Dis lekker maklik en min moeite. My ma is ’n groot hippie wat my en my sussies grootgemaak het om alles in die lewe so natuurlik as moontlik aan te pak. My hare krul van nature en ek kleur dit ook nie.

Gebruik net produkte wat nie afbreuk doen aan jou unieke gawes nie – dit wat jóú mooi maak. ’n Mens wil jouself konstant verander deur jou hare te kleur, deur meer dít of dát te wees, maar daar is net een jy! Dís jou skoonheidsgeheim.

Nietemin, belangriker as ’n goeie skoonheidsroetine is om gesond te leef. Gesond eet en oefening is die twee pilare van gesondheid – kry eers hierdie twee goed reg. As ek die dag nie twee liter water gedrink het nie, kan jy dit die volgende dag op my gesig sien. Dis ook goed vir jou vel om soggens ’n bekertjie warm water met suurlemoen op jou nugter maag te drink.

Earthsap se sjampoe (R65 by Faithful to Nature) bevat net natuurlike, organiese bestanddele en geen nadelige stowwe nie.