Sal ek kan aangaan?

Ons weet die lewe is nie altyd regverdig nie. Slegte goed gebeur. Soms is dit nie net sleg nie, dis hartverskeurend tragies.

Dan wonder ‘n mens hoe op dees aarde kan enige iemand na sulke gebeure weer aangaan? Die “wat as” vraag kruip in jou op? Wat as dit my kind was? Wat as ek so siek moet word? Wat as dit my familie moet tref?

Sal ek kan aangaan?

Ja, maar dit hang af van jou gesindheid en die hoeveelheid veerkrag wat jy ontwikkel het met elke lewensles langs die pad.

Wat is een van die grootste geheime van mense wat veerkragtigheid ontwikkel het? Hulle is bereid om die hande wat na hul uitgestrek is te gryp en om opgehelp te word. Om met ondersteuning weer te leer om die lewe in die oë te kyk. En stelselmatig is hulle bereid om die krukke te los en self weer emosioneel aan te gaan.

Mense met emosionele intelligensie en veerkrag weet dat dit okay is om nie okay te wees nie. As jy veerkrag het, kan die lewe jou buig, maar dit gaan jou nie breek nie. Niemand wil pyn en lyding ervaar nie. Niemand wil die dood in die oë kyk of sien hoe iemand naby mens ly nie. Maar, wanneer diesulke situasies in jou lewe gebeur, hoef jy nie bang te wees nie. Jy hoef ook nie enige omstandighede te baklei nie. Die lewe is nie ‘n oorlog nie. Dalk is die lewe meer soos ‘n skip op die oop see. Soms is die golwe net hoog genoeg dat die skip lekker daaroor kan vaar. Soms is daar storms met golwe wat dreig om oor die skip te slaan, maar alle storms gaan uiteindelik verby…

Onthou, jy is nie jou omstandighede nie, ook nie die siekte waarmee jy gediagnoseer is nie. Jy is wel meer as ‘n oorwinnaar in Christus. (Rom. 8:37)

Vorige artikelGod, jy en geld
Volgende artikelSjokoladeplaatkoekies
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.