Sal julle liefde vir ewig hou?

0
46
getroud_wees.jpg

Baie huwelike loop skeef en eindig in pyn. Beteken dit dat jy liewer nie moet trou nie?

Die meeste paartjies wat trou, kry koue voete voor die groot dag. Met die hoë egskeiding syfer, verliefdheid wat taan en die ontbreking van die 100% foutlose maat, is daar soms onsekerheid voor die kansel. Maar al is jy onseker of reeds seergemaak deur ’n vorige huwelik, waag en ontdek die geheime van ware liefde.

Trou met sekerheid

Carli voel skrikkerig om te trou, veral as sy kyk na die toestand van huwelike om haar. “Ek en my vriend ken mekaar nege jaar. Ons gaan vyf jaar uit en bly al vier jaar saam. Ons is baie toegewyd aan mekaar, en het lankal reeds van verliefdheid na liefde beweeg. Dit is egter nie ’n goed genoeg rede om ewige trou aan mekaar te sweer nie. Ek dink daar is verskeie redes. Miskien is dit omdat te veel mense om ons skei. Dalk voel ek benoud om so ’n permanente commitment te maak. Of dalk is ek in my diepste wese onseker of hy die regte persoon is. Kan mens ooit heeltemal seker wees?”

Die regte verhouding is belangrik

Volgens Joke Nicol, ’n huweliksberader en skrywer oor die huwelik, gaan dit nie soseer oor die regte persoon nie, maar eerder oor die regte verhouding. Is jou maat iemand met wie jy ’n goeie verhouding oor ’n tydperk kan opbou? Kan jy jouself wees sonder dat hy gedurig aan jou wil verander, onredelike eise stel of jaloers word?

Dit is geen geheim dat die egskeidingsyfer in Westerse lande wêreldwyd, en veral in Suid-Afrika, aan die toeneem is nie. ‘Waar lê die fout?’, wonder ons hardop as die soveelste kennis, vriendin of familielid aankondig dat hulle nie meer ‘lief’ is vir mekaar nie. Trou ons om die verkeerde redes? Is ons verwagtinge te hoog? Werk ons doodeenvoudig nie hard genoeg om ons verhoudings te laat slaag nie?

Liefde vs. verliefdheid

Kenners meen dat baie mense beslis om verkeerde redes trou, veral omdat hulle die opwinding en ekstase van verliefdheid misgis met ware liefde. Volgens die Ameri-kaanse skrywer en huweliksberader Gary Chapman, is die gemiddelde duur van die fase van verliefdheid sowat twee jaar. Daar is niks fout daarmee om tot oor jou ore toe verlief te wees nie – in baie gevalle is dit die inleiding tot ’n gelukkige huwelik.

Tog is dit belangrik om die verskil te ken. Navorsers noem drie hoofredes waarom verlief wees nie die toets van ware liefde slaag nie:

  1. Dit is nie ’n daad van die wil of bewuste keuse nie maar ’n emosionele hoogtepunt.
  2. Dit verg geen moeite nie.
  3. Verliefdheid fokus nie op ons eie groei of die groei van ’n ander persoon nie.


Gary beskryf ware liefde so: “Dit is ’n liefde wat rede en emosie verenig. Dit behels ’n daad van die wil, vereis moeite en dissipline en herken die behoefte aan persoonlike groei. Dit is die keuse om energie af te staan aan pogings om die ander persoon te bevoordeel.”

Waag om wéér te trou?

Vivienne dink met groot hartseer terug aan haar eerste huwelik wat sowat vier jaar gelede op die rotse geloop het. “As ek terugkyk besef ek dat sy verliefdheid amper ’n obsessie was. Dit was baie sterk, totdat hy my ‘gekry’ het. Dit het toe drasties afgeneem en is nooit met ware liefde vervang nie. Vir my was dit presies andersom. Ek het hom waarlik liefgehad. Ek dink die wanbalans in ons ‘liefde’ vir mekaar, en ons uiteenlopende agtergronde, en gevolglike prentjie van hoe die huwelik moet lyk, het uiteindelik ons verhouding gekelder.

Sy vertel dat daar deesdae iemand anders is, maar hoewel hulle goeie vriende is en lekker kommunikeer, is sy nie verlief nie. “Dis ’n gevoel van omgee, sonder fisiese aantrekkingskrag. Ek is bang om weer seer te kry. Ek hou bietjie stywer aan my hart vas, voor ek dit net weer vir iemand sal gee.

As jy geskei is, hoop jy dat ware liefde weer jou pad sal kruis. Tog kan jy nie help om bietjie meer sinies oor die liefde te wees nie.

Besluit dit gáán werk

In ’n tweede huwelik styg jou kanse om te skei na 60% en in die geval van ’n derde probeerslag, na 75%. Sy stem saam dat baie huwelike wel op die rotse loop. “Maar mens hoef nie daardie paadjie te loop nie. Wees van die begin af daarop ingestel om dit te láát werk. Moenie egskeiding as ’n agterdeur oophou nie. Praat eerder oor jul verwagtinge en behoeftes – en maak seker julle is bereid om dit wat vir elkeen belangrik is, vir mekaar te gun.

 “Baie mense het vooropgestelde idees van hoe hul maat moet lyk. Tog sal jy nooit iemand kry wat die profiel perfek pas nie. Dit is juis waaroor ware liefde gaan – om die ander persoon se uniekheid te leer ken, te verstaan en te besluit om daarmee saam te leef.”

Sy voeg by dat baie mense nie besef dat pyn en krisisse ook deel van liefde is nie. Jy en jou maat gaan nie altyd gelukkig wees met mekaar nie. Soms gaan julle mekaar verwyt, stry of saam deur moeilike tye gaan. “Tog is dit belangrik om ook slegte goed te ervaar, want daardeur ontdek jy jouself, leer julle mekaar ken en verdiep jul verhouding.”