Sal jy luister?

Ek kry ‘n e-pos van ‘n vriendin. Haar omstandighede knel en ek kan hoor sy is in ‘n diep gat van depressie.

Ek oordink die saak, maar kan nie vir haar ‘n oplossing bied nie. Soms is daar mos maar vrae waarvoor daar nie maklike antwoorde is nie.

‘n Paar weke later praat ek met haar oor die foon. Sy klink sommer baie beter. Het haar omstandighede verander? Nee. Die situasie bly maar moeilik, maar haar broer het vir haar gesê hy glo in haar. Hy weet sy kan ook hier uitkom.

Nou vir baie mense sal dit seker nie ‘n verskil maak nie, maar dis al wat sy nodig gehad het om te hoor. Iemand glo in haar. Sy het weer moed geskep. Die lewe weer in die oë gekyk en aangegaan.

Dit het my weer eens laat besef, dat mense soms net iemand nodig het wat sal luister. Nie om hul probleme op te los nie, maar sommer net om te luister, sodat hulle weer kan kans sien om aan te gaan, want hulle weet hulle is nie alleen nie. Hulle word raakgesien.

In vandag se gejaagde wêreld raak ons so vasgevang in ons eie besig wees, ons sien nie altyd hoe iemand reg onder ons neuse op die rand van ineenstort is nie. Moenie wag tot dit te laat is nie. Maak tyd vir jou hartsmense. Daardie beste vriendin van jou wat op ‘n ander dorp bly. Jou suster aan die anderkant van die stad. Jou ma, tannie of ouma. Bel vir ‘n slag in plaas daarvan om te whatsapp of nog beter sit vir ‘n slag die slimfoon neer en maak fisiese kontak. Reël ‘n kuier waar julle mekaar in die oë kan kyk, saam kan lag en saam kan huil, anders kan julle albei dalk later in die see van sosiale media en die gejaagde lewe verdrink.

Vorige artikelHelp, ek versmoor!
Volgende artikelDie son skyn, ons moet swem!
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.