Sal jy vir ons ‘n blog skryf?

Die vraag kom onverwags op ‘n Saterdagoggend vanaf die enigmatiese Alta Strauss terwyl ek staan en koffie maak en die trane oor my wange stroom.

Ja, ek is ‘n man van 44 jaar oud en ja ek huil maklik. Sedert 3 weke terug net nog makliker en veral in die aanskoue van dit wat God alles oor my pad gebring het. Nou hoekom sal jy vra staan ‘n man van 44 en huil vroegoggend by sy kantoor in Upington? Wel, die rede is klein Tia van Blerk, ‘n tweejarige dogtertjie van Upington wat 3 weke gelede gediagnoseer is met Fase 4 Neuroblastoom kanker.

Sedert daardie aaklige dag van diagnose toe goeie vriende van ons veronderstel was om Tia se tweejarige partytjie te hou, het God se hand van werking in soveel mense se lewens my weereens net verstom, nee, oorweldig en oorbluf.  Terug by die vraag van Alta oor die skryf van ‘n blog: Ek het al die redes in die hele wye wêreld om nee te sê hiervoor, ek het eerlikwaar nie tyd nie, ek is ‘n Stadsbeplanner van beroep en ek het geen opleiding om vir Finesse ‘n blog te skryf nie, ek vat meestal nie grond met alles wat ek doen nie, so ja, ek het baie rede om nee te sê vanoggend.

Ek antwoord Alta per ‘messenger’ en sê ek sal bid hieroor en wag vir God se leiding. Terug by my trane: Ek is deel van ‘n groep mense van verskillende kerkdenominasies wat weereens, met God se werking bymekaar gekom het om n oggend te hou om vir klein Tia aan God op te dra en vir ‘n absolute wonderwerk te vra, asook om geld in te samel vir klein Tia se behandeling.

Weereens heeltemal uit my aard het ek toegelaat dat God dinge in en rondom my laat gebeur en hier staan ek met ‘n ‘Warrior Tia’ T-hemp aan en kan ek nie ophou om aan hierdie klein kleuter en haar stryd te dink nie. Terwyl ek in die saal sit op dieselfde oggend en luister na Pickard Henn by klein Tia se geleentheid, draai die spreker na my en sê net die volgende woorde heeltemal uit konteks met wat hy op daardie oomblik besig was: ‘Gaan voort, gaan aan’.

Soos jy kan lees, volg ek nou God se opdrag aan my en wonder ek wat se opdrag van Hom verontagsaam jy? God werk op die aller vreemdste maniere en as ons net toelaat om Sy woorde te hoor, dan sal ons voortgaan en op elke vlak en terrein van ons lewens ‘n verskil maak in hierdie mooie land van ons.

So vra jouself af: waarvoor het jy reeds die opdrag gekry om voort te gaan, maar jy huiwer, of jy is skaam, of dit is uit jou aard en persoonlikheid?  Neem die stap saam met my en volg God se opdrag en doen dit wat Hy van jou vra en kyk hoe gebeur die wonderwerke rondom jou.

Vorige artikel“Ek het bo my omstandighede uitgestyg”
Volgende artikelDie strewe na sukses en wat my werklik definieer
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.