Salonresultate uit ’n boksie

0
16
haarkleur_0.jpg

Jy hoef nie na ’n salon te gaan vir ’n modieuse voorkoms nie. Hier is jou gids vir flatervrye tuishaarkleur.

Kies die haarkleurmode wat by jou pas

SIEN ROOI

Rooi hare het die afgelope jare ’n verskyning gemaak as die opwindendste nuwe haarkleurkeuse. In die nuutste weergawe is roosgoud die ideale skakering. So sê die voorste internasionale haarstilis uit Londen, Lee Stafford, vir ons. “’n Kombinasie van goud en koper is baie sjiek.” Blonde hare word met ’n rooi kleursjampoe gewas om die pienk-goue glinstering te kry. Dit is aan die voorpunt van die mode maar tog klassiek. Sterre soos Sienna Miller en Blake Lively neem die voortou met hierdie tendens.
Hannon Copper Infusion Shampoo (R145), by www.voelgoedwinkel.co.za

PROBEER PASTELLE

Moenie skrik nie! Ligpienk en ligpers is lankal nie net vir kreatiewe tipes nie. Katy Perry mag dalk die voorbok wees hiermee, maar selfs statige vroue soos Helen Mirren het onlangs haar silwerblonde hare ’n sagte spookasempienk gekleur. Die voordeel as jy onseker is of die haarkleur by jou gaan pas, is dat pastelkleure oornag uitwas. Jou hare moet blond of grys wees om die kleur te kry. Die beste pastelkleure vir diegene met grys hare wat nie hulle hare wil bleik nie, is blou en violet. Die kleure sal jou grys effens donkerder maak en kan selfs jou hare voller laat lyk. Was dit daagliks met ’n pers kleursjampoe en jy het die voorkoms.
Lee Stafford Bleach Blonde Shampoo (R110), eksklusief verkrygbaar by Clicks.

KRY OMBRÉ

“Blonde hare is steeds ’n groot tendens,” sê Lee. Om dit interessant te hou, moet jou kroontjie ’n skakering of wat donkerder wees. Dit moet amper lyk asof jou hare se wortels so ’n rapsie uitgegroei het. “Dié mode is ook geskik vir vroue met donker hare wat ’n bietjie kleur wil gee van die middel van hulle hare tot by die haarpunte.” Hierdie tegniek moet versigtig aangepak word as jy nie ervare is met hare kleur nie.
L’Oréal Paris Préférence Wild Ombrés (R160), by uitgesoekte kettingwinkels.

Snelwenk!

Is jy nie seker of daardie nuwe haarkleur by jou sal pas nie? Pas ’n haarstuk in ’n soortgelyke skakering by ’n pruikwinkel op om te kyk hoe dit by jou velkleur lyk. Jy sal dadelik sien of dit vir jou werk en of jy ’n kleurramp in die gesig staar.

Haarkleur volgens jou oogkleur – volg die riglyne

Volgens Lee Stafford is nie net jou velkleur nie, maar ook jou oogkleur belangrik wanneer jy jou haarkleur gaan verander.

  • Vir die blouoogvrou met ’n medium velkleur is warm haarkleure soos goudblond, heuningblond, goudbruin en koperblond ideaal. Pasop vir te donker haarkleure wat jou strak en bleek laat lyk. Revlon Luxurious ColorSilk Buttercream (R100), by uitgesoekte Clicks-winkels.
  • Vir diegene met blou oë maar ’n porseleinwit tot redelik ligte velkleur stel Lee voor dat jy platinablonde hare kry. Of nie veel donkerder as ’n heuningblonde skakering nie. Nu-Lite Blonde Hi-Light Kit (R70), by Dis-Chem, Shoprite/Checkers, Spar en apteke.
  • As jou oë bruin of groen is en jy is blas sal ryk kleure jou die beste pas. Kies sjokoladebruin of rooibruin. Dit gaan jou oogkleur verhelder en beklemtoon. Herbatint Permanent Hair Colour (R140), beskikbaar by www.naturescolours.com asook uitgesoekte gesondheidswinkels landswyd.
  • Enige oogkleur en velkleur word maklik uitgewas deur uitermatige kleure van die kleurspektrum. Spierwit en gitswart mag dalk lekker dramaties klink, maar dit bewys jou gesigkontoere geen gunste nie, en is baie moeite om in stand te hou.


6 geheime vir salonresultate in jou badkamer

Die tegniese adviesspan van Nice ’n Easy boksiekleur gee ons hulle beste raad. Jou tuiskleur kán so goed lyk soos ’n professionele behandeling met salonkleur.

1 Subtiel is beter. Om jou hare by die huis te kleur is natuurlik ’n aanloklike opsie as jy geld en tyd wil spaar, maar dan moet jy seker wees jy kies ’n kleur wat nie gaan flop nie. Kenners stem saam dat jou nuwe haarkleur net een tot twee skakerings ligter of donkerder as jou natuurlike kleur moet wees.
2 Toets dit eers. Dit help om ’n gepaste kleur te vind en ’n allergiese reaksie te voorkom. Dis ook raadsaam as jy lang hare het, want dan kan jy ’n baie klein seksie agter jou nek naby die wortels kleur om te toets of jou vel op die middel reageer. Jy kan ook sien hoe goed die kleursel op jou hare werk.
3 Beskerm jou vel. Dis so maklik, maar só belangrik. Dra die handskoene wat saam in die verpakking kom of gebruik rubberhandskoene. Daardie soort waarmee jy skottelgoed was, is perfek. Smeer Vaseline reg rondom jou haarlyn, aan jou nek en aan jou ore. Dis makliker as om vier dae lank die wêreld met ’n gevlekte gesig te moet aandurf.
4 Hou die tyd dop. Maak soos jou haarstilis en loer elke paar minute na jou kleur se vordering, veral as jy jou hare ligter kleur. Moenie die kleur langer aan los as wat die aanwysings voorskryf nie. Jou kleur gaan nie helderder wees of langer intens bly nie. Jy mag dalk wel meer skade aan jou haarkwaliteit doen.
5 Seksies lewer perfeksie. Selfs al spesifiseer die aanwysings dit nie, verdeel jou hare in seksies. So kry jy eweredige kleurverspreiding en gaan jy nie met vaal kolle eindig waar die haarkleursel nie bygekom het nie. Deel jou hare in vier seksies op jou kop en werk die kleur deeglik met ’n wyetandkam deur elke seksie van wortel tot punt.
6 Behou jou kleur. Gekleurde hare vereis spesiale sorg. Jy kan nie met jou gewone haarroetine aangaan as jy wil hê jou nuwe skakering moet intens bly en blink nie. Jou haarsorg moet die kleurpigment in jou haarskag vasvang en die chemiese skade wat aangerig is, regstel. Tradisionele sjampoe met jodium was kleurpigmente uit. Soutvrye sjampoe soos Davines NouNou Shampoo (R199)
 

Geskryf deur Ryno Mulder