Sandra Prinsloo glo aan natuurlike gesondheid

0
119
sandra_prinsloo.jpg

Gebruik jy ’n pil vir elke skeet? Nie alle dokters glo dat chemiese stowwe noodwendig die beste medisyne is nie. Soms het Moeder Natuur die antwoord vir jou genesing.

Vyf en twintig jaar gelede het ek Live Science ontdek. Dit is ’n program waarvolgens jy rou kosse eet en twee keer ’n jaar vas. Die program glo dat alle konvensionele medikasie vermy moet word. Ek was baie beïndruk met die resultate, en glo van toe af dat wat jy eet, baie belangriker is as die medisyne wat jy gebruik.

Ek drink baie selde konvensionele pille, net natuurlike aanvullings

Om die waarheid te sê, ek vermy pille sover ek kan. Ek glo dit vergiftig jou lyf. As ek regtig siek is, gaan ek na ’n homeopaat. Verlede winter het ek erg brongitis gehad en die homeopaat het vir my druppels en aanvullings gegee. Binne ’n paar dae was ek gesond en het nie weer siek geword nie. Ek kom agter dat baie mense wat antibiotika gebruik, oor en oor siek word. Behalwe die brongitis verlede jaar, word ek baie selde siek, omtrent nooit nie. Die enigste tyd dat ek antibiotika gebruik het, was sewe jaar gelede toe ’n sakspinnekop my gebyt het. Pille het na die enigste uitweg gelyk, want ek het nie geweet hoe om die byt te behandel nie.

Homeopate en naturopate is my dokters

Metabole.jpgOmdat ek amper nooit dokter toe gaan nie, is ’n mediese fonds onnodig. Ek het wel ’n hospitaalplan vir noodgevalle, soos as ek in ’n motorongeluk sou beland. Ek besoek gewoonlik dr. Charl du Randt, ’n naturopaat. In sy praktyk word daar sterk klem gelê op wat jy eet asook voedingsaanvullings. Hulle maak ook gebruik van die SCIO-skandeerder, ’n masjien wat probleme en tekorte in jou lyf kan raaksien. Dan doen hulle ook bloedanalises. Deur middel van hierdie metodes het ek byvoorbeeld vasgestel dat ek ’n ystertekort het. Dus drink ek nou beetpoeier, wat ’n natuurlike manier is om yster in jou lyf aan te vul.

Raad om op ’n natuurlike manier gesond te bly

Ek gebruik ’n aanvulling, Metabole. Dit gee my hope energie. Kruietee is vol antioksidante; ek drink veral rooibos- en vinkeltee. Koffie gaan nooit oor my lippe nie. Ek eet ook grotendeels rou kos. Daar is elke dag vars groenteslaai op my spyskaart. My liggaam reageer nie goed op melk nie, maar ek kan wel bokmelkprodukte gebruik. As jy gesond leef, het jy selde konvensionele medikasie nodig. Eet en leef liewer gesond as om jou liggaam met chemiese middels gesond te probeer kry.