Sandstop

Ja, ek weet dis Lentedag. Maar soms voel ‘n mens mos maar bietjie uitgewas – Lentedag of te not.

Soos jou ma se rooi check afdrooglappie wat een keer te veel ge-JIK is.
Valerig. Maar bruikbaar.
Op ‘n manier.

Wat Johannes in die woestyn gemaak het, weet g’n mens nie.
Dalk was hy een van daai hippies wat na ‘n Kalahari bonfire toe is en toe maar besluit het om te bly.
Of dalk het hy weer na sy siel daar gaan soek.
Die woestyn is ‘n goeie wegkruipplek.
Miskien was dit nie sy keuse nie.

Ewenwel, dis waar ons storie hom kry.

Lukas se storie eintlik…

“Hooggeagte Teofilus!” – so skryf Lukas –
“Daar is baie wat onderneem het om ‘n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het.
Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.
So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.”
Lukas 1:1 1983-vertaling

Hy is gevra, betaal dalk selfs, om te gaan krap en grou in hierdie hele Jesus-fenomeen en vir Teofilus sy doodeerlike, ingeligte en goed nagevorsde mening te gee.

En wat vind hy?

“In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius het die volgende persone oor Palestina regeer:
Pontius Pilatus: hy was die goewerneur van Judea. Herodes Antipas: hy was die heerser oor Galilea.
Filippus, die broer van Herodes: hy was die heerser oor Iturea en Tragonitis. Lisanias: hy het oor Abilene regeer.
In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was,
het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin.”
Lukas 3:1 1983-vertaling

Nie keisers nie, nie goewerneurs nie, nie heersers nie, nie hoëpriesters nie… maar een in die woestyn.
Hy was die een.
Dit was hy wat moes rugsak opsit en die weg gaan maak vir Hom wat sou kom.

As hy nie geluister het daardie dag toe die Stem hom roep en besluit het om sy rug op die woestyn te draai nie, het hy nooit sy voete in die Jordaan gesit nie, nooit die duif sien neerdaal op die man van Nasaret nie.

Jou woestyn is joune.
Met strepies nog kersierooi of flou raspberry-koeldrank-pienk…
Wie weet hoe jy daar beland het?
Wat maak dit saak?
Wat saak maak is dat jy nooit sal ophou uitluister vir daardie Stem nie.
Want jou woestyntyd is dalk netnoumaartjies verby.
Hierdie was net ‘n sandstop.

Jou temalied vir die week: The Garden Song

 

Vorige artikel’n Brug om te bou oor al jou vrese   
Volgende artikelSit geld weg vir onvoorsiene uitgawes
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!