Sê ja vir die regte dinge

1706

Ons ervarings bepaal wat ons glo. Kies vandag hoe en wat jy beleef. Vind uit wat jou gelukkig maak sodat jy jou lewe daarmee kan vul.

Die eienaar van ʼn groot olifant het hom met ʼn dun tou aan ʼn boom vasgemaak. ʼn Man wat verbystap, vra hom toe of hy nie bang is dat die olifant die tou sal breek nie.

Sy antwoord was eenvoudig: “Die olifant sal nooit probeer losbreek nie. Jy sien, jy leer ʼn olifant as hy jonk is, as die dun tou sterk genoeg is om hom vas te hou. Namate die olifant groter word, verander hy nooit sy manier van dink oor die tou nie. Hy bly altyd glo dat daardie tou sterk genoeg is om hom vas te hou. Daarom sal hy nooit probeer losbreek nie.”

Moenie toelaat dat vrees jou lewe beheer nie

Mense is baie soos daardie olifant. Van kleins af word ons gedreig met vrees. Ons word gewaarsku om nie foute te maak nie en word bang gemaak vir mislukking. Die wêreld is geneig om op die negatiewe dinge te fokus. Mense voorspel mislukking of teëspoed en hulle waarsku jou gedurig om nie risiko’s te loop nie.

Die media bombardeer ons ook met chaos, geweld, roof, moord, ʼn geskinder, armoede en so meer. En so begin ons soos die olifant glo dat ons nooit vry kan wees nie.

Jy is self in beheer van elke besluit wat jy neem. Die strik van die wêreld is om jou stadig maar seker na liefdeloosheid en ’n sinnelose bestaan te lei. Mense word beheer deur vrees en kommer. Ons almal hoop om eendag die heel beste lewe te leef, maar min besef dat vandag werklik daardie “eendag” is!

Jou lewe kan ’n avontuur wees as jy reg kies

Baie mense sal of wil jou lewe op verskeie maniere beïnvloed. Jy moet egter self besluit en kies wat die beste is vir jou. Die sleutel tot goeie keuses is baie meer as geluk of wysheid of ʼn skerp verstand. Alles kan meer betekenisvol wees en uiteindelik tot jou voordeel uitwerk as jy reg kies. Jou lewe, net soos myne, kan ʼn opwindende avontuur wees – selfs al woed die storms om jou.

Om te begin moet jy besluit hoe jy graag jou lewe wil lei. ’n Wyse eerste keuse is natuurlik om God in jou lewe in te nooi en vir Hom te leef! Dit is die belangrikste en mees betekenisvolle besluit wat jy ooit sal neem.

Veronderstel dat alles wat jy tot vandag oor jouself en jou lewe geglo het, nie die volle waarheid is nie. Die toue van jou verlede is heel moontlik lankal nie meer sterk genoeg om jou vasgebind te hou nie. Die een of ander tyd moet jy besluit om dit te breek… en vry te kom. Ek weet dat elke mens, ongeag omstandighede, nou kan besluit om op te staan en die beste lewe ooit te leef.

Begin deur dit wat jou gelukkig maak, neer te skryf

Daar is baie suurknolle in die wêreld, mense wat dink die wêreld skuld hulle iets. As jy dalk so voel, het jy waarskynlik nog nie geleer om nee te sê nie. Jy wil waarskynlik altyd almal tevrede stel.

As jy jouself liefhet, beteken dit jy ag dit wat vir jou belangrik is, van waarde. As jy dit wat vir jou belangrik is, minag, sal ander dit ongelukkig ook doen. Juis daarom glo baie mense die wêreld skuld hulle iets, almal loop oor hulle, of niemand hou van hulle nie.

Gaan sit ’n bietjie en skryf neer wat vir jou belangrik is. Maak ’n lysie van prioriteite, van die belangrikste tot die onbelangrikste. Skryf neer wat jou geliefd en opgewonde laat voel. Baie van julle gaan sukkel om ’n antwoord te kry, want jy weet nie wat jy werklik meer geniet nie. Al waaraan jy dink, is die dinge wat jou lewe moeilik maak!

Maak vandag ʼn kopskuif. Ek daag jou uit: Dink anders, vind uit wat daardie huppel in jou stap sal terugsit, en sê ja vir die dinge wat vir jou saak maak. Jy gaan sien hoe jou hele uitkyk op die lewe in ʼn japtrap kan verander. Geniet dit.

Jannie Putter, mentor en motiveringspreker

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.