Sê koebaai vir jou dieet, vir altyd

0
149
kos.jpg

Deur hierdie 5 aanpassings in jou geestelike lewe te maak, kan jy vir altyd “dieet” vaarwel roep!

1. Ondersoek die waarhede waarin jy glo

Jy kan begin by wie die Here vir jou is en hoe Hy betrokke is in jou daaglikse roetine. Dink jy dalk Hy sit en wag vir jou om gewig te verloor voordat Hy jou in sy diens kan gebruik? Verwag Hy van jou om alles wat vir jou lekker is uit te skakel sodat jy mooi kan lyk?

Bid oor hierdie vrae. Lees Bybelgedeeltes wat jy al goed ken, maar nou met die fokus op voorkoms, selfbeeld en gesondheid. Neem byvoorbeeld Paulus se bekende woorde in 2 Korintiërs 1. Jy ervaar uiteraard nie dieselfde swaarkry as hy nie, maar jy ly ook onder jou mislukte diëte. Leer soos Paulus dat jy nie al die swaar werk alleen hoef te doen nie! Word meer afhanklik van God. Glo dat Hy jou liefhet net soos jy is. Vertrou op Hom om jou vry te maak van jou obsessies.

2. Ontdek wat die Bybel oor kos en dieet sê

Wanneer die Bybel vertel van mense wat eet, staan daar ook dat hulle honger was. Wanneer eet jy? Wanneer jy honger is of net omdat dit etenstyd is? Eet jy omdat jou lyf kos nodig het en so vir jou sê? Of eet jy omdat jy gestres, moeg, uitbundig, depressief, kwaad of op vakansie is?

Om net te eet wanneer jy honger is, is inderdaad ’n leerproses. Jy sal moet eksperimenteer met jou liggaam se seine en reaksies. Jy sal bereid moet wees om te luister na jou lyf. In plaas van om te fokus op kos, fokus op hoe jou lyf voel. Later sal dit ’n gewoonte word om net aan kos te dink wanneer jy fisiek honger is.

Doen navorsing (boeke, kenners, die internet) om te leer hoe om na jou lyf te luister. Jy kan weer die kuns bemeester om te identifiseer watter (gesonde!) kosse jou lyf nodig het en wanneer.

3. Kies om net na een opinie te luister

Verbeel jou jy trek jou gunstelingjeans aan… en dit pas skielik nie. Sien in jou gedagtes die skaal se duidelike boodskap: Jy het gewig bygekry! Afgryslik! Vreesaanjaend!

Hoekom maak dit jou so bang? Is dit net omdat jy dan niks sal hê om aan te trek nie? Is jy bang jou vriende sal jou verstoot? Of jou man? Gebruik hierdie fiktiewe vetword-scenario om uit te werk vir wie se opinie jy so bang is.

Neem dan ’n besluit om net een opinie – God s’n – belangrik te ag in jou lewe. Dit sal jou bevry van die konstante vrees dat ander mense jou veroordeel vir die nommer jeans wat jy dra.

Die Bybel spel dit 1 Samuel 16 vers 7 duidelik uit dat God se opinie oor jou op jou innerlike gebaseer is. En dit bly altyd dieselfde. Mense se uiterlike vereistes verander gedurig. Dink maar aan Rubens se skilderye van volronde vroue teenoor vandag se stokkieslywe. ’n Mooi Jesus-hart is egter ewig mooi.

4. Verken die emosies agter jou eetlus

Woede, hartseer, stres, frustrasie is alles redes vir ooreet. Dis ’n ontvlugting van voel wat jy voel. Dis ’n plaasvervanger vir gaan soek na wat regtig jou hart se honger sal stilmaak.

Lees in die Bybel wat mense met hulle negatiewe emosies gedoen het. Jy sal agterkom hulle het nie doekies omgedraai nie. Hulle het eerlik en openhartig gesê hoe hulle voel. Hulle was ook nie skaam dat God hulle hoor nie.

Dalk glo jy ook dat ’n goeie gelowige niks wat negatief is, voel of dink of sê nie. Die skrywers van die psalms sal ernstig met jou hieroor verskil. Waag dit om ’n slag in gebed harde woorde te praat. Of skryf jou nare gedagtes neer. Jy mag selfs vrae vra soos of goedheid en genade regtig bestaan.

Hoe meer real jy in jou kommunikasie met die Here raak, hoe minder sal jy na kos gryp.

5. Wees eerlik oor wat jy van maer wees dink

Vra in gebed dat jy jou onderliggende vrese oor jou lyf sal kan ontdek. Dalk moet jy ’n berader gaan sien. Iets in jou wil hê dat jy vet moet bly; daarom eet jy te veel. Glo jy dalk dat maer, sexy vroue die verkeerde boodskap na mans uitstuur? Dink jy dalk dat skraal vroue meen hulle is beter as ander? Is oorgewig wees dalk jou manier om te rebelleer teen jou ouers (al is jou tienerjare lankal verby)?

Watter vrese of skeefgetrekte denktpatrone jy ook al het, jy kan dit oorkom. Die Bybel is vol beloftes. Jy kan hulle as teenvoeter gebruik vir elke rede wat jy diep in jou hart het om vet te bly.