Sê nee vir borskanker!

0
25
borskanker.jpg

Borskanker is iets wat elke vrou van bewus moet wees. Dis nie meer ‘n siekte waaroor ons skaam is om te praat nie. Kyk hier hoe jy vroegtydig die simptome van borskanker kan identifiseer.

Oktobermaand word jaarliks gekenmerk deur mense wat met pienk strikkies rondloop. Almal in erkenning vir vroue wat borskanker het. Maar wat gebeur die res van die jaar? Vergeet ons dat die siekte bestaan of doen ons iets om dit te voorkom? Kyk wat jy kan doen …

Identifiseer die simptome vroegtydig

Die beste maniere om knoppe in jou bors te kry:

  • Gaan elke tweede jaar vir ’n mammogram nadat jy 50 geword het. As jy jonger as 50 is, gaan praat met jou dokter oor die gevare van borskanker en praat ook met hom/haar oor jou familie geskiedenis en of dit nodig vir jou is om gereeld vir ’n mammogram te gaan.
  • Laat jou dokter jou borste ondersoek.
  • Ondersoek self elke maand jou borste. Deur vroegtydig die knoppe in jou borste te vind, kan dit die proses baie vergemaklik en die behandeling kan ook meer effektief wees.
     

Wat is ’n mammogram?

Buiten vir die feit dat dit die mees effektiewe manier is om vas te stel of jy borskanker het, is dit ook die vinnigste manier. ’n Mammogram kan selfs 2 jaar voordat die knop groot genoeg is om gevoel te word, dit reeds “optel”. Dit is ’n spesiale tipe x-strale wat gebruik word. Die hoeveelheid bestraling van die x-strale is min en nie skadelik nie.

Hoe werk ’n mammogram en is dit seer?

Nee, dit is nie seer nie, maar dit voel so bietjie ongemaklik. Jou bors word op ’n tafeltjie of platform gerus en dan word die x-straal masjien op/teen jou bors gedruk totdat jy die drukking voel. Die druk is nodig sodat jou bors platter is en sodat ’n beter x-straal geneem kan word. Die neem van die x-straal vat so 1 tot 2 minute en die hele proses vat nie langer as 20 minute nie. Dit sal dalk goed wees om ’n vir ’n mammogram te gaan nadat jy gemenstrueer het, sodat jou borste minder sensitief sal wees.

Hoe gereeld moet jou dokter jou borste ondersoek?

Dit sal goed wees as jou dokter elke jaar of twee jou borste ondersoek nadat jy 20 geword het. Maar moenie skaam wees nie, praat met jou dokter oor wanneer dit weer tyd is dat jou borste ondersoek moet word.

Hoe gereeld moet jy jou borste ondersoek?

Jy moet elke maand jou borste ondersoek, as jy oor 20 is. Op hierdie ouderdom is ’n klein knoppie sekerlik net ’n borsklier, maar mens kan nooit kanse vat nie. Naderhand sal jy weet hoe jou borste normaalweg voel en wanneer daar ’n nuwe knop is. Ondersoek jou borste ’n paar dae na jou menstruasie, want dan is die borste minder sensitief.

Veranderinge om na te kyk as jy jou borste ondersoek?

  • Enige nuwe knop wat verskyn
  • Onnatuurlike verdikking van die bors
  • ’n Vreemde of bloederige afskeiding van die nippels
  • Enige verandering in die vel van die nippel of bors, bv. rimpels, ens.
  • ’n Ongewone vergroting van die een bors
  • Een bors wat onnatuurlik laer as die ander een is
     

Hoe kyk ek vir knoppe?

Begin deur voor die spieël te staan. Kyk na jou borste, terwyl jou arms langs jou sy hang, met jou arms wat op jou kop rus en met jou hande wat op jou heupe rus. Is daar ’n groot verskil in die grootte en proporsie van jou borste? Indien daar is, gaan sien jou dokter.