Sê net nee, dis maklik!

0
424
nee.jpg

Dit kos moed om vir iemand nee te sê. En dis nie lekker om dit self te hoor nie. Maar ’n nee op die regte tyd is ’n verantwoordelikheid wat jy teenoor jouself het.

Jy ken mos die mense wat jou so om hulle pinkie kan draai: die kollega wat altyd op die nippertjie by jou deur instorm, die vriendin wat laataand bel met ’n versoek, selfs jou ma wat so veeleisend kan wees. Daar kom ’n dag in elke vrou se lewe dat sy daardie woord móét sê, sonder verskonings of verduidelikings. Doodeenvoudig: “Nee”.

Nee word maklik verwar met negatiwiteit. Daar is egter ’n groot verskil. ’n Negatiewe persoon het ’n pessimistiese uitkyk op die lewe. Sy sien altyd alles deur ’n donker bril. Negatiewe mense tap jou energie en blus jou entoesiasme.

Terwyl negatiwiteit ’n gesindheid is, is nee ’n oomblik waar jy ’n duidelike keuse maak. Dit sê iets van jou: “Ek kan jou nie help nie, want ek het iets anders wat nou my prioriteit is.” “Ek gaan dit nie doen nie, want ek is nie gemaklik hiermee nie.” ’n Nee op die regte tyd maak jou ja volgende keer egter meer betekenisvol.

Goed, jy is lief vir die mense om jou en jy help graag, maar jy het in die eerste plek ’n verantwoordelikheid teenoor jouself. Jy kán kies waar jy die streep trek.

Dit is moeilik om nee te sê – jy weet mos die ander persoon gaan nie daarvan hou nie. Jou brein reageer baie heftiger op ’n negatiewe ondervinding of stimulus as op ’n positiewe een, volgens ’n sielkundige, dr. Roy Baumeister. Dit maak dus nie saak hoe mooi jy dit “verpak” nie, nee bly ’n negatiewe gebeurtenis. En dis nie lekker om dit te hoor nie.

As jy mense graag tevrede wil stel, sal dit veral vir jou moeilik wees, want jy wil almal teen negatiewe ervarings beskerm. Jy weet mos hoe seer dit kan maak. Op die lange duur ly jyself daaronder – jy voel ander misbruik jou en waardeer jou nie genoeg nie. Jy dink jy word beheer en nie liefgehê nie. Wat gebeur later? “Jy” verdwyn.

Die punt is: Nee is ’n wapen wat jou kan beskerm. Dit wys jy het ruggraat en integriteit en dat jou waardes vir jou belangrik is.

Hoekom sukkel ons so om nee te sê?

Toe ons ons lesers op Facebook gevra het, het 72% van hulle erken hulle sukkel om nee te sê. Vir 11% is dit maklik, terwyl dit vir 17% van lesers aanvanklik moeilik was. Mettertyd het hulle egter geleer het om nee te sê.

Die meeste vroue is bang om ander se gevoelens seer te maak en as gevolg daarvan verwerp te word. Daarom stem hulle gewoonlik in en skuif hulle eie behoeftes op die agtergrond, al sien hulle nie kans vir iets nie.

Dis wat ons lesers sê:

Amanda: Ek is ’n people pleaser en probeer om altyd myself te bewys. Ek het raad nodig sodat ek kan leer om my man te staan in plaas van om heeltyd my bene stompies te hardloop vir ander!

Retha: Ek is mos Santjie Sagtehart! Almal gebruik my en loop oor my en dan is die antwoord nog steeds ja ten koste van myself. So, daar is ek, die malvalekker onder almal se voete …

Miets: Ek was al male sonder tal in die warm water omdat ek te ellendig is om nee te sê. As gevolg daarvan trek ek altyd aan die kortste ent!

Marlene: My ma het my te goed grootgemaak … My gewete kan my vreeslik pla as ek dit wel die dag regkry. Die ergste is my man is dieselfde, so, dan moet julle weet hoe ons misbruik word. Dit maak ons soms seer en soms kwaad, maar dis seker ons eie skuld, nè?

Tilla: Die mense wat regtig verstaan, sal nie aanstoot neem nie. Ek is lankal verby die stadium dat ek almal wil plesier!

[pagebreak]

Wanneer mag jy met ’n geruste hart nee sê?

Jy mag nee sê as:

JOU WAARDES BEDREIG WORD
Dis wonderlik om ondersteunend te wees. Integriteit is egter ook belangrik as jy iemand se vertroue wil wen en behou. Jy sal dalk ’n rukkie ongewild wees, maar uiteindelik sal jy bewonder word vir jou standvastigheid.

JY BOELIES OP HULLE PLEK MOET SIT
Daar sal altyd mense wees wat die softies uitsnuffel en dinge verwag wat jy self nooit vir iemand sou vra nie.
Jy voel miskien ongemaklik daarmee, maar kan nie juis weier nie. Vertrou jou gevoel en moenie toelaat dat jy uitgebuit word nie. Dis tyd dat die gawe meisie ook ’n slag nee sê!

DIT JOU DOELWITTE VERSTERK
Pasop dat jy nie so besig is om ander te help om hulle probleme op te los dat jy jou eie doelwitte en ambisies op die agtergrond skuif nie. Jy moet uiteindelik kan wys wat jy met al jou tyd gedoen het.

DIT JOU TEEN KRENKENDE WOORDE BESKERM
Jy is bang om iemand te verloor wat vir jou baie beteken. Daarom vat jy elke keer die seerkry-woorde wat na jou kant toe kom.
Jy mág sê: “Moenie so met my praat nie.” Die persoon sal dalk ’n rukkie kwaad wees, maar sal gou weer goed word – en meer respek vir jou hê.

JY VAN KOERS MOET VERANDER
Jy het dalk volgens almal die “ideale” werk, tog haat jy elke oomblik daarvan. Sodra jy agterkom jy is op die verkeerde pad, moet jy halt roep.
Erken dat jy ’n fout gemaak het en skraap die moed bymekaar om te sê: “Tot hiertoe en nie verder nie!”

Hoe sê ek nee sonder om seer te maak?

Die feit bly staan: Niemand hou daarvan om ’n nee as antwoord te kry nie. Dit is ’n kuns om nee te sê sonder om jou verhouding met iemand skade aan te doen. Hier is ’n paar tegnieke wat jou kan help om dit op ’n “sagter” manier te sê.

SÊ: “EK SAL DAAROOR DINK”
As jy so reageer, gee dit jou tyd om rustig die belangrike faktore teen mekaar op te weeg voordat jy ’n besluit neem. Dit wys dat jy die versoek ernstig opneem en dat jy nie sommer uit die staanspoor weier om iets te doen nie.

GEBRUIK DIE OREO-KOEKIE-TEGNIEK
Jy kan jou nee sagter maak deur dit tussen twee positiewe stellings te plaas. Sê byvoorbeeld: “Jy is so sjarmant”; “Ek dink nie ons twee het ’n toekoms saam nie”; “Tog het ek ’n heerlike tyd gehad”. Dis duidelik dat jy nie kans sien vir ’n verhouding nie, maar dit maak dalk minder seer as om die persoon summier die trekpas te gee.

BEHEER JOU EMOSIES
Probeer om kalm te wees as jy nee sê, al voel jy lus om stoom af te blaas soos ’n drukkoker. Dit sal die nee sagter maak as wanneer jy dit op ’n kwaai of ongeduldige manier sê.

VERWYS NA JOU ANDER VERPLIGTINGE
Sê byvoorbeeld iets soos: “Ek sou jou graag met die voorlegging wou help, maar ek het belowe om my ouma winkel toe te neem. Ek wil haar nie teleurstel nie, sy wag vir my.” Dit sal wys dat jy nie selfsugtig is nie en dat jy jou beloftes nakom.

Vertaal en verwerk uit The Power of NO van Judith Sills.

Gesels saam op ons forum: Is dit selfsugtig om vir iemand wat by die verkeerslig geld bedel, nee te sê?

DEEL
Vorige artikelSt. Patrick-dag
Volgende artikelWoorde wat seer maak
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.