Seer verlede, mooi toekoms – Melinda Bam

1801

Oud–Mej. Suid-Afrika MELINDA BAM begin elke jaar splinternuut. Die pyn en lesse uit haar verlede word ingespan as trappies wat doelgerig geklim word, sodat die geskiedenis hom nooit weer hoef te herhaal nie.

Dis nog vroeg in die dag en die entoesiasme is tasbaar. Notaboeke uit. Penne gereed. Harte oop. Ore fyn ingestel.

Dis nou ek en my man, Adriaan Bergh, iewers in ’n hoekie van ’n restaurant op die eerste dag van die nuwe jaar.

Hier in die sprokiesmooi Salzburg, Oostenryk, is daar ’n uitbundige feestelikheid in die lug. Oral is tekens dat die ou jaar met mening gegroet is.

Die strate is rumoerig. Motors, toeters, toeriste. Mense wat lag en gesels. Ander wat besig is om, brom-brom, ’n babelaas van die vorige aand te vertroetel.

Waar ons ook al in die wêreld is, op die eerste dag van elke jaar word daar teruggedink, diep besin, mooi beplan – sodat die nuwe jaar op die regte noot kan begin.

In ons dagboeke is spesifieke areas uitgestippel waarvoor daar ’n punt uit tien gegee gaan word. Geloof, huwelik, finansies, familie, persoonlike verryking, avontuur, gesondheid, beplanning …

Ons probeer nog altyd intensioneel leef. Dis hoekom “avontuur” byvoorbeeld ’n doelbewuste item op die lysie is. Daar word elke jaar fluks aan ons bucket list-drome – reise, nuwe bestemmings – afgetik. Want wie wil regtig wag vir “eendag” om terug te kyk en spyt te wees oor al die dinge waarby daar toe nooit uitgekom is nie?

Vroeg reeds in die huwelik het ons besluit om dinge anders aan te pak. Soos om soms net uit die warboel van die lewe weg te breek en van buite af in te kyk. Ons het dit die eerste keer met die troue gedoen.

Nou sit ons weer vanoggend hier in die restaurant en lag, frons, kopkrap en beplan. Dis lekker om elke nou en dan ’n slag eerlik na jouself en die lewe te kyk.

Wat moet verander en verbeter om as mens te groei? Dis ’n belangrike vraag, want die lewe gooi soms ’n paar uitdagende draaiballe.

Dit is vir seker waar in my lewe, en tog wil ek glad nie die verlede herskryf of enigiets op my lewenspaadjie verander nie. Wat wél belangrik is, is dat elke les verkieslik net een keer geleer moet word – of dit nou uit eie ervaring of uit ander mense se ondervindings is. Vir my is die kuns om ontvanklik te bly – oop om te leer en aan te beweeg. Om nooit in pyn en teleurstellings vasgevang te raak nie.

Op hierdie manier het ek en Adriaan al baie lesse saam geleer: in ons huwelik, benadering tot besigheid en veral uit die verlede.

’n Mens moet nie net jou geskiedenis oorleef nie; jy moet dit inspan om vorentoe voluit te kan leef.

“Hoe is dit moontlik dat jy is wie en waar jy is, as daar al soveel dinge met jou gebeur het?”

Dié woorde het my destyds onkant gevang.

Dit was Adriaan se groot vraag in die eerste paar weke nadat ons pas ontmoet het. Ek was nog Mej. Suid-Afrika en daar moes noodgedwonge by die huis of by my ma-hulle gekuier word om uit die kollig te bly. Ons het ure aaneen gesels.

Hy was nog altyd ’n reguit ou en het nie geskroom om moeilike, reguit vrae te vra nie. Dit het my vir die eerste keer gedwing om na te dink oor sekere goed in die lewe wat ek óf wou vergeet het, óf glad nie van bewus was nie.

Die samelewing wil tog so graag iemand soos ek etiketteer en ’n “statistiek” noem.

“Siestog, ’n arme vrou uit ’n gebroke huis wat met daddy issues grootgeword het.”

Maar eintlik is daar soveel meer aan hierdie prentjie …

Dalk is dit weer die ewige aartsoptimis hierbinne wat praat. Dis eintlik vreemd hoe pynlik positief ek kan wees. Borrelend, en soms sommer simpel van kinderlike opgewondenheid.

Ek kon nooit verstaan waar dit vandaan kom nie, tot ek dit nou die dag vir die heel eerste keer in my ma, Wanda, raakgesien het.

Sy was nog altyd hierdie sterk, dapper vrou. Sy móés dit wees. ’n Ma op haar knieë vir haar kinders.

Maar noudat sy gelukkig getroud is en blom, is dit duidelik waar hierdie “sonskynkind” in my vandaan kom. Ek het dit by haar gekry … al het ons ’n lang pad tot hier gestap.

In daardie eerste leer-mekaar-ken-gesprekke met Adriaan het die besef gekom dat ek die enigste een in ons familie is wat nié as gevolg van die verlede met neerslagtigheid sukkel nie.

My biologiese pa se lang, diep depressie – wat uiteindelik gelei het tot sy selfdood toe ek 11 was – hét letsels gelaat, maar nie naastenby so erg soos wat dit kon wees nie. My ingebore vreugde en positiwiteit het nooit gekwyn nie, en ek weet presies wie om daarvoor te bedank.

Dis nou nog emosioneel om daaraan te dink … hoe my ma en ousus Melissa jare se trauma namens my gedra het.

Ek is vir ewig in die skuld by hulle, want die dinge waarmee hulle vandag nog worstel, is die dinge waarteen hulle my beskerm het.

Dit was in die klein goedjies. ’n Plofbare situasie in die huis, en Melissa wat dadelik ’n kryt in my hand stop en sê: “Gaan teken in die kamer.”

Of Ma wat ons saggies maan wanneer alles weer uitrafel:

“Onthou, hierdie is nié hoe dit moet wees nie. Dis ons realiteit, maar dis nie die norm nie.”

Toe al die besef: Nie alle mans en pa’s is so nie. Nie alle huwelike is hartseer nie.

As meisietjie was dit maklik om in ’n ander wêreld verlore te raak. Om buite in die tuin te gaan speel, tussen die goggas en skoenlappers, ver weg van die chaos en gebrokenheid in ons huis.

Vir lank het ’n groot deel van my met die verlede gedissosieer.

Ek het dit opsygeskuif en gedink alles is oukei. Gewonder: Was dit regtig so erg?

Eers later, tydens daardie laataandgesprekke, het die besef gekom dat ek nog nie heeltemal deur alles gewerk het nie. Dit nog nie mooi deurdink het nie.

Dis hoekom ek so lief is vir my man. Dit voel asof hy my beter as enigiemand anders verstaan. Asof hy meer tyd by die Here spandeer om sy vrou te leer ken, as wat ek dit self doen.

Adriaan se vrae het my laat besef dat ek eintlik vandag ’n wonderwerk leef. Daar het uit soveel pyn, soveel mooi gekom. ’n Mens sien hierdie goed eers raak wanneer jy stil word en besin.

Dis seker een van die redes hoekom ons nuwejaarsritueel so spesiaal is. ’n Tyd om tot stilstand te kom en na te dink. Om dankbaar te wees vir die groot oomblikke, te huil oor die mislukkings, maar ook om saam te lag, raad te gee en te leer uit die foute.

Wanneer ons uiteindelik ons lysies met punte deurgewerk het, kan daar eerlik vir mekaar gesê word: “Hierdie is my plan.” Duidelike doelwitte en spesifieke dinge wat ons gaan nastreef in die weke en maande wat voorlê.

Daar is so baie mense wat vir die soveelste keer dieselfde nuwejaarsvoornemens maak. Soos om op te hou rook. Niks fout daarmee nie, maar ek kan nie help om te wonder nie: “Rêrig? Is dit al wat jy met al daardie tyd in die jaar wat voorlê, gaan doen?”

Miskien raak ’n mens so gefokus om weg te skram van alles wat sleg is, dat ons soms vergeet om die dinge wat goed is, die goed waaroor ons droom, na te jaag. Dis belangrik om te besef: Die lewe gebeur nie maar net nie en dis dan hoe dit is.

Pyn vorm karakter, dit bring wysheid mee. Daarom kan ’n mens moed skep en uitsien na iets beter.

Vandag is dit maklik om oor die verlede te praat, want dis nie meer ’n teer punt of iets wat my as ’n mens definieer nie.

Maar net so wil ek ook nie my lewe lank daarop hamer nie; dit vertroetel as “mý seer” nie, want daarin is ook ’n stukkie negatiwiteit opgesluit. Uit trots kan daar nie seën voortgebring word nie.

So wat maak ’n mens met die seer? Leer die les en bou daarop voort. Ook vir jou nageslag. Een van die grootste bates wat uit my seerkry-verlede ontwikkel het, is deernis. Compassion. Daar is min dinge waarvoor ek nié ’n diep medelye en begrip het nie.

Dit het deel van ons al drie se roeping geword. Ek, my ma en sussie s’n. Mense, veral vroue uit ’n gebroke agtergrond, kan hulle maklik met ons vereenselwig – gesels sonder skaamte – omdat ons ook gebrokenheid ken.

Met ouderdom en wysheid het daar ook begrip en vergifnis teenoor my biologiese pa gekom. Hy was lief vir ons, maar hy het ook aan ’n ernstige siektetoestand gely. Vandag verstaan ek dit.

’n Mens leer om te begryp dat die pyn en uitdagings wat ander in jou lewe veroorsaak, gewoonlik uit ’n plek van hulle eie seer kom. Dit word selde uit wraak gedoen of met opset bedoel. Daarom kan ’n mens nie oordeel nie as jy nie al self in iemand anders se skoene geloop het nie.

Die publiek se grootste wanpersepsie oor my is waarskynlik dat my lewe net altyd mooi is. Of dat dit deel is van ’n valse beeld wat voorgehou word.

Toe nie! Dis maklik om iemand se lewe – veral in die kollig – op ’n afstand te romantiseer. Mense hou daarvan om ’n paartjie op te hemel, maar ook om hulle te sien val.

Ek besef byvoorbeeld dat wanneer ek alleen of saam met Adriaan op die voorblad van ’n tydskrif verskyn, daar baie mense is wat verby die winkelrakke gaan loop en dink (of selfs hardop sê): “Gaan dit regtig so goed? Is alles regtig so mooi? Kyk maar, dit gaan nie lank hou nie.”

Hulle weet nie van die ure wat ons insit en saambid nie. Die beloftes wat neergeskryf word, of die kere wat ons mekaar seën en salf nie. Mense sien nie hoe ons beplan, God se wil soek en gehoorsaamheid kies nie.

Dis maklik om te dink dis alles net luck. Maar eintlik is ons heeltyd besig om die lesse, die kennis en vaardighede tot ons beskikking, te gebruik om aan ’n goeie, gebalanseerde lewe te bou. Dit in stand te hou en oor elke seëning dankbaar te wees.

Nog ’n belangrike les wat ek steeds leer, is om nie in een rat vasgevang te raak nie. Dit pootjie my soms, want ek het die soort persoonlikheid wat dinge met groot passie en oorgawe aanpak. Ek wil altyd aanhou en uithou totdat alles heeltemal foutloos is.

Hierdie strewe na perfeksie, veral om nie dieselfde foute te herhaal nie, is juis die ding wat my soms kan vaspen.

Wanneer dit gebeur, is my geliefdes gou om te sê: “Melinds, jy is weer besig om 120% na te jaag, terwyl 80% goed genoeg sal wees. Ons sal instaan vir die res.”

Dis moeilik, maar ek begin al luister … dis nie nodig om altyd álles van myself te gee nie. Daar is ’n fyn lyn tussen uitnemendheid en perfeksie, en laasgenoemde gaan meer tot frustrasie bydra.

Tog het die Here my gemaak om die mooi in iets te wil sit. Of dit nou werk, verhoudings of vriendskappe is.

Daar is ’n innerlike behoefte om die genade wat ek elke dag ervaar, ook aan ander mense uit te deel deur ’n plek, ’n ding of ’n situasie mooi te maak. Soms kry ek dit reg, en dan is dit groot pret.

My mees onlangse verjaarsdag was ’n goeie voorbeeld. Dit het lank gevat om ’n 30ste te reël omdat ek nie verstaan hoekom mense my lewe wil vier nie. Om die middelpunt van aandag te wees is maar ’n ongemaklike besigheid. Ek wil veel eerder ander mense in die kollig sit.

Toe sê Adriaan: “Maak dan van hierdie verjaarsdag iets wat vir jou kosbaar is. As dit is om dankbaar te wees en ander te vier, dan doen ons dit.” So gaan ons groepie naaste familie en vriende toe weg vir ’n naweek.

My perfeksie-geen wou weer oortyd werk. Daar is besluit om die drie dekades van die lewe tot hier toe te vier. Ons het my kindwees-fase gevier deur die heeldag lank speletjies te speel. Wegkruipertjie, Pictionary … Dit was vet pret!

Vir die tweede fase – ’n verdieping in my verhouding met die Here – het ons almal saam nagmaal gehou, gebid en mekaar gesalf. Kosbare oomblikke wat iets in ons harte geroer het.

Die derde dekade – om my mense te vier – is geëer deur ’n spesiale fotosessie en feesmaal.

Dit was ’n ongelooflike bevredigende verjaarsdag, want ek kon my hartsbegeerte uitleef: om dinge innerlik en uiterlik mooi te maak. Dis deel van my roeping en iets wat ek graag in ander se lewens inploeg.

Ek was vir lank bang vir mense se opinies. Gaan hulle van my hou en dink ek is goed genoeg?

’n Groot deel hiervan is in my jaar as Mej. Suid-Afrika genees. Daar was keuses wat mense glad nie verstaan het nie. Hulle het belaglike leuens oor my in die media geskree, maar ook hierin was ’n waardevolle les opgesluit.

“Hoekom pla dit jou so?” het my hartsmense gevra. “As jy weet wat die waarheid is, hoef niemand anders se opinies saak te maak nie. Moenie soveel waarde daaraan heg nie. Nie almal gaan altyd van jou, of dit wat jy doen, hou nie.”

Toe ek dít besef, het die druk om mense se guns te wen, verdwyn.

Vandag maak dit nie meer saak wat ander sê nie. Hulle opinies verklap meer oor hulle as oor my.

Al waarna ek streef, is om oop, eerlik en met opregtheid te leef. Om in pas te wees met die Here se wil maak my gelukkig en tevrede.

Dis hoekom ek dankbaar is vir ’n wonderlike maat soos Adriaan.

Ons het reg van die begin af besluit om dinge as ’n eenheid en volgens Sy tydskaal aan te pak, nie die wêreld s’n nie. Dit was ’n goeie besluit.

Wanneer ’n mens kies in die lewe, moet jy mooi kies. En wanneer daar gekies is, moet daardie keuse in stand gehou word.

Dis ’n voorreg om hierdie keuse elke dag opnuut na te streef.