Seks, dwelms, drank … Hoe oorleef jy dit?

0
982
tieners.jpg

Jy wens jou tiener wil meer gehoorsaam wees en ’n ordentlike volwassene word. Maar dié groeiproses, met uitdagings soos seks, dwelms en drank, kan baie stormagtig wees. Hoe oorleef jy as dit voel julle gaan verdrink?

Dit is ouers se werk om hulle kinders te versorg en te ondersteun. Sielkundige Jonathan Bosworth van Johannesburg sê die ouerhuis is die basis waarvandaan ’n kind die wêreld ontdek. Wanneer daar ’n betroubare en sterk ouer-kind-band is, weet die kind hy kan ontdekkingsreise onderneem en na die veiligheid van hierdie basis terugkeer as dit nodig is. Gedurende kinders se tienerjare is dit egter vir die meeste ouers moeilik om vas te staan, omdat tiener-wees so onstuimig kan wees. Om te sorg dat julle hierdie tyd oorleef en om jou kind deur die tienerjare te help, is daar ’n paar reddingsboeie waaraan jy móét vashou.

Reddingsboei 1: Leer hom om sy emosies te hanteer

Wanneer ’n kind sy tienerjare bereik, beskik hy oor meer breinkrag. Hy besef nou dat net omdat jy iets sê, dit nie noodwendig reg is nie. Argumente kan nou algemeen voorkom ‒ as jy dit toelaat! Onthou wie die volwassene is en probeer rusies vermy. Help hom eerder om die gevoelens te identifiseer wat ’n onderonsie aanvuur. Laat hom toe om sy emosies op ’n gepaste wyse uit te druk, anders gaan dit op ’n onvanpaste manier na vore kom. Luister na hom en bou so ’n band tussen julle. As hy sukkel om oplossings te vind om beter te voel, gee leiding en maak voorstelle.

Reddingsboei 2: Lei haar na onafhanklikheid

Niemand bereik oornag volwassenheid nie. Dit is ’n groeiproses. Jy kan help deur jou kind al hoe meer vryheid toe te laat. En as jy vryheid gee en sy gaan onverantwoordelik daarmee om, moet jy dit terugeis. Só leer sy ’n waardevolle lewensles: Vryheid moet verantwoordelik bestuur word. Klein treetjies vryheid wat hulle oor die jare bemeester, help kinders om die reusetree na onafhanklikheid te gee. Tieners moet baie foute maak om volwassenheid te bereik. Gee daarom vir hulle eerder te veel as te min geleenthede om te fouteer.

Reddingsboei 3: Laat hy uit sy foute leer

Om te wil verhinder dat jou tiener foute maak, is om sy groei te inhibeer. ’n Mens groei nie net deur na woorde van wysheid te luister nie, maar deur dit te toets, verliese te ly en die gevolge te dra. Jy moet hom help om nie té gevaarlike gevolge te ervaar of té groot verliese te ly nie. So kan hy sonder te veel pyn uit sy foute leer. Help hom om op sy eie antwoorde te vind. Vra vrae wat nie kritiseer nie. So leer hy onafhanklike denke en goeie besluitnemingsvaardighede.

Reddingsboei 4: Help haar ’n eie identiteit vorm

As kind aanvaar sy dalk julle gesin se norme en waardes; as tiener moet sy dit bevraagteken om te sien of dit eg is en haar eie identiteit te vorm. Daarom is die grondslag wat jy in die kinderjare gelê het, baie belangrik. Nou moet jy glo en vertrou dat jy alles gedoen het wat jy kon sodat sy ’n identiteit kan vorm wat aan al hierdie waardes (of die meeste daarvan) vashou. Jy kan nie vir jou tiener voorsê wie en wat sy moet word nie, maar jy kan daar wees vir haar om haarself te ontdek.

Reddingsboei 5: Maak reëls deel van haar lewe

’n Tiener het meer keuses as bevele nodig. Soos sy ouer word, verwag sy meer vryheid en as sy dit nie kry nie, sal sy daarvoor baklei. Dit kan jou laat voel of jy nie meer beheer oor haar het nie. Tog is reëls steeds belangrik. Kies en implementeer die belangrikste reëls, eerder as om ’n klomp onbenullige reëls te hê waaroor julle onnodig vassit. Reëls moet egter nie te streng wees en tieners verhinder om te groei nie. Jou kind moet leer dat reëls deel van die lewe is, iets waaraan elke mens gehoorsaam moet wees.

Deur die kinderjare was jy dalk jou kind se beste vriend. In die tienerjare word jy dalk die vyand, maar moet jy ’n baie belangrike taak vervul: Jy word die ligtoring wat vir hom en haar die lewenspad moet aandui. Die enigste manier om die tienerstorm te oorleef is om aan hierdie reddingsboeie vas te hou en aan Jonathan Bosworth se raad: Bly jou kind se anker ten spyte van die tienerjare se op en af dae. As jy nie daar is om aan vas te hou nie, waarna gaan hy dan gryp?

Vertaal en verwerk uit ’n artikel van Dean Henryson.

Tienerswangerskappe is algemeen. Tog word daar maklik gesê: “Alles gebeur met ’n doel.” Hoekom dan ’n bohaai maak?  Kliek hier en deel jóú opinie op ons forum.