Seks en intimiteit: so verskil dit

0
700
seks.jpg

Het jy nog altyd gedink seks en intimiteit is dieselfde? Dink weer! Gretha Wiid verduidelik die verskil.

Die voorheen taboe-onderwerp lei tot ernstige leemtes

As daar een onderwerp is wat vir vuurwerk in ’n huwelik kan sorg, is dit seks – aan die een kant omdat dit warm en vurig kan wees, en aan die ander kant omdat dit ’n verhouding in vlamme kan laat opgaan.

Seks is vir seker nie die belangrikste ding in ’n huwelik nie, maar een van die aspekte wat baie chaos en seer kan veroorsaak.

Twee mense se sekslewe is byvoorbeeld ’n redelike goeie weerspieëling van hulle verhouding buite die slaapkamer. Die wyse waarop ons met mekaar omgaan, bepaal ook ons seksuele omgang. Dit wat buite jou slaapkamer gebeur, het ’n wesenlike invloed op wat in jou slaapkamer gebeur.

Die waarheid is dat die meeste mense nie werklik weet wat die verskil tussen seks en intimiteit is nie. Die groot probleem met die leemtes en uitdagings met seks lê in die opvoeding wat ons as kinders hieroor gekry het. Die kinders van ons generasie mag nie oor seks gepraat het nie. Dit was ’n sonde en taboe. Die uiteinde is dat ons die huwelik ingaan met gebrekkige kennis en redelik min waagmoed.

Jy het dalk nog altyd gedink seks en intimiteit is een en dieselfde ding, maar die een impliseer nie noodwendig die ander een nie. Miljoene mense regoor die wêreld het seks met mekaar sonder om ooit enige vorm van intimiteit te deel. So is daar ook miljoene mense wat intimiteit met mekaar deel sonder om seks te hê.

Die hoogtepunt sou wees as ons beide kon ervaar (binne die huwelik), want fisieke en emosionele vervulling op dieselfde tyd is ’n baie groot seëning. Dit is wel moontlik, as jy en jou maat openhartig en eerlik met mekaar is en julleself voor mekaar kan blootlê. Wat verhoed dus dat twee mense figuurlik naak voor mekaar staan?

Lees ook: Oorkom só jou issues met seks

’n Tradisie van skaamte en wanopvattings

Die feit dat seks so vervuil geraak het in tydskrifte, DVD’s, op advertensieborde en duisende ander plekke, is maar net die uitvloeisel van ons tradisie van skaamte. Oor seks in die huwelik is ons nie altyd akkuraat geleer nie. Vroue is geleer seks is hulle vroulike plig en hulle mag nie hulle mans weier nie. Ook dat mans sal rondloop as hulle nie seks by die huis kry nie. Dis natuurlik nie waar nie. Daar is honderde paartjies wat die pad van owerspel moes stap terwyl hulle eintlik ’n goeie sekslewe gehad het.

Met al die tradisionele leuens, wanopvattings en onkunde wat aan ons oorgedra is, is dit ’n wonderwerk dat mense nog seks het en dit kan geniet. Onthou, seks bly die diepste vorm van die verbintenis tussen ’n man en vrou en is deur God ingestel. Intimacy kan beskryf word met in-to-me-see en intimiteit as in-to-me-tyd.

Wanneer ons nie gewaardeer of geliefd voel in ons verhouding nie omdat ons seergemaak, gekritiseer of verwerp word, bou ons mure rondom onsself om ons teen pyn te beskerm. Hierdeur word ons huwelike dan dieper intimiteit ontneem omdat die een nie in die ander een kan “in-sien” nie. Wat in-to-me-tyd betref, loop ons baie dinge mis as gevolg van onopgeloste en onverwerkte issues.

Intimiteit is baie meer as ’n blote daad. Dis wanneer twee mense se liggame en harte saam ingestel is op mekaar. Met seksuele intimiteit gaan dit nie oor die eindpunt, oftewel orgasme, nie, maar eerder oor die diepe ervaring om deel te wees van mekaar. Paartjies wat emosioneel veilig voel by mekaar om hulle liggame, harte en drange te ontbloot, ervaar hierdie intimiteit.

Leer eens en vir altyd die waarheid en kom vry! Besluit vandag om jou gesteelde grond terug te vat op terreine waar jy van jou vreugde en seksualiteit beroof is. “Hoe?” vra jy dalk.

Die naakte waarheid rondom seks en intimiteit

Ek glo dat ’n man en vrou mekaar net intiem kan geniet as hulle mekaar intiem ken – die spreekwoordelike ins and outs. Pyn in die verlede, gevoelens van skuld en spyt, foute uit onkunde – dit alles kan ’n mens verhoed om intimiteit werklik te verstaan en te geniet, totdat jy genesing daarvan kry.

Om ’n diep emosionele ervaring saam met goeie seks te hê, verg tyd. Paartjies wat saam lag, tyd maak vir mekaar en emosioneel veilig voel by mekaar, se sekslewe sal makliker gekenmerk word deur speelsheid, diep oomblikke en spontaneïteit.

Mense glo paartjies wat gelukkig getroud is, het meer gereeld seks. Ek het gevind die teendeel is soms waar. Ongelukkige paartjies vergoed soms met seks vir die leemtes in hulle verhouding.

Antwoord die vrae hieronder eerlik. Doen moeite en jy mag dalk ’n deel van jouself en jou maat leer ken waaroor julle nie eers dink of praat nie. Jy mag dalk ook net jou huwelik verryk op ’n wyse wat jy nooit gedink het moontlik is nie.

  • Wie het jou touwys gemaak oor die ontwikkeling van jou lyf? (nie oor seks nie)
  • Het jy ’n prys betaal vir onkunde?
  • Is daar dinge in jou seksuele verlede waaroor jy skaam of skuldig voel?
  • Watter impak het dit op jou huwelik en sekslewe?
  • Laat woorde soos “orgasme”, “seks”, “vagina” en “penis” jou ongemaklik voel?
  • Glo jy seks is iets waarmee God ons geseën het of is dit vir jou negatief?

Seks alleen is nie genoeg om ’n huwelik gesond te hou of te red nie. Maak eerder tyd vir mekaar en breek die mure van inhibisies en onkunde en die skanse tussen julle af. Om intiem te verkeer vra harde werk. Uiteindelik is seks nie die gom van ’n gesonde huwelik nie – intimiteit wel.

Lees meer: Om seks as wapen te gebruik

Seks en Intimiteit – Uittreksel uit Gretha Wiid se boek

Gretha Wiid
info@grethawiid.co.za