Seks is baie meer as tegniek

1664

As seks so maklik was soos ’n blote eenwording van twee liggame, sou ons sekerlik minder boeke en raad oor hierdie onderwerp nodig gehad het.

Seks is baie meer as fisiese tegniek. Dis meer as twee liggame wat een word en sweet-sweet in mekaar se arms lê, soos Gert Vlok Nel se liedjie lui. Dis soos ’n legkaart met ’n duisend stukke, maar nie almal geniet uiteindelik die groter prentjie en die vreugde van al die stukke wat inmekaar pas nie.

Seks is baie meer as net ’n fisiese daad

Sommige mense weet hoe die legkaart aan die einde moet lyk, maar ook net omdat hulle die prent op die buitekant van die boks gesien het. Hoe die stukkies inmekaar pas, is egter nie iets wat almal snap nie. As blote seks mense nader aan mekaar gebring het en intimiteit laat ervaar het, sou alle sekswerkers vervuld gewees en geliefd gevoel het.

Die waarheid, volgens navorsing, is egter dat hulle misbruik, afgestomp en leeg voel – ongeag die hoeveelheid avontuur, posisies en orgasmes. Dis hartseer dat baie paartjies ook net moeite doen met die fisiese deel van hulle sekslewe. Hulle belê in smeermiddels, speelgoed, mooi onderklere en boeke oor die regte tipe aanraking en erotiese sones.

Tog bly hulle leeg omdat seks baie stukkies het wat moet pas vir die perfekte prentjie – lyf, tegniek, genoeg voorspel, fisiese begeerte, energie, fokus, tyd, konneksie, oogkontak, seks, konneksie, emosionele kontak, fisiese kontak, emosies, hart, lyflus, kommunikasie, verstaan mekaar, spontaan, harte, bevrymoedigheid en al die dinge van die hart!

Breek die mure om jou hart af vir dieper intimiteit

Dis juis die dinge van die hart wat dikwels die grootste dief is van seksvreugde en begeerte. As ons mure om ons harte gebou het as gevolg van pyn, verwerping, teleurstelling of wantroue, sal ons sukkel om meer as net twee lywe te ervaar tydens seks.

Mure om die hart maak dat ons meganiese seks kan hê en selfs ’n fantastiese orgasme, maar met absolute leegheid daarna. Wat mense nie altyd verstaan nie, is dat seks wat slegs gebou is op lus, later ’n las word vir die paartjie. Ons is ontwerp om ook op emosionele vlak vervulling te ervaar! Om egter werklike intimiteit te beleef, moet ons kies om aan die mure rondom ons harte te werk. Met die regte emosionele intimiteit tussen twee mense is daar ’n natuurlike begeerte om by mekaar te wees. En selfs al is die seks dan nie vuurwerke nie, is daar tevredenheid omdat die paartjie nie ’n ontploffing nodig het om vervuld te voel nie.

Benewens twee lywe en intimiteit is daar ’n paar praktiese dinge wat jy in gedagte moet hou om jou sekslewe te laat floreer.

Maak tyd vir seks, en hou die slaapkamer privaat

Om meer gereelde en beter seks te hê, sal jy dalk moet besef dat jy tyd sal moet máák daarvoor. As ons elke aand die kinders ’n prioriteit maak of te lank op ons fone of voor die televisie rondlê, gaan ons sekslewe daaronder ly.

Moegheid moet ook nie onderskat word nie. Dink ons regtig dat ons altyd goeie seks sal hê as ons te laat kamer toe gaan en eintlik net wil slaap? Sonder genoeg energie sal ons lustelose seks hê en so gou moontlik wil klaarmaak.

Daardie tydsame en lang voorspel sal iets wees waarvoor ons eenvoudig nie krag het nie. Die verdere waarheid van die seksresep is dat ons privaat moet kan wees. Met kinders wat langs ons slaap of deure wat enige tyd kan oopgaan, sal ons alle waagmoed verloor. In plaas van “oe” en “a”, gaan ons seks hê met “sjuut” tussenin. Ons gaan die deur dophou in plaas van mekaar.

As ons die legkaart wil geniet, sal ons iewers die stukke inmekaar moet begin pas. Party stukkies sal, soos alle legkaarte, maklik wees om op die regte plek te kry. Vir ander sal ons dalk geduldig moet wees, hulp moet vra en moeite moet doen. As ons hard genoeg hieraan werk, sien ons dalk op ’n dag ’n legkaartprent van ’n man en ’n vrou wat sweet-sweet in mekaar se arms lê – twee liggame met ’n brandende liefde vir mekaar!

Gretha Wiid, huwelikskenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.