Seks verbeter jou immuniteit

0
124
seks_verkoue.png

As verkoue en griep jou gereeld teister, kan jy doen met die drie truuks vir ’n sterker immuunstelsel.

Gereelde seks

’n Gesonde intieme lewe kan ’n gesonde immuunstelsel bevorder. Seks is ’n spanningsverligter en help om belangrike chemiese stowwe in jou liggaam te kry. Endorfiene word eerstens tydens en ná ’n orgasme afgeskei. Verder het egpare wat gereeld seks het, verhoogde vlakke van immunoglobulien A. Dit is ’n substans in die bloed wat ons teen infeksies beskerm.

Jy hoef nie elke keer ’n orgasme te bereik nie. Die blote wete dat julle gemaklik met mekaar voel ná seksuele interaksie – met of sonder ’n orgasme – is genoeg om spanning te verminder of te vermy. Dit hou die immuunstelsel in stand.

As julle gereeld seks het, beteken dit gewoonlik ook dat jy in harmonie met jou lewensmaat leef, wat minder konflik tot gevolg het. Konflik dra by tot verhoogde spanning en stres, wat die immuunstelsel kan verswak.

Dit is nie nodig om elke dag seksueel te verkeer nie. Wat belangrik is, is dat julle albei tevrede is met hoe gereeld dit gebeur. As julle nie daaroor saamstem nie, kan jy of jou maat sekere verwagtings hê waaraan daar nie voldoen word nie. Dit kan maklik tot frustrasie en konflik – en verkoue – lei.

Dr. Eugene Viljoen, seksuoloog

Verminder spanning

Vroue is deesdae in dieselfde mate as hulle mans die broodwinner, en meestal ook ma en tuisteskepper. Hulle beleef enorme druk van die samelewing om ’n sekere ideale voorkoms te handhaaf, soos om slank en altyd perfek aangetrek te wees. Dié spanning maak hulle meer vatbaar vir siektes.

Ek stel voor jy plaas minder druk op jouself om altyd oral uit te blink. Dis waar selfsorg en goeie gesondheid begin. Stel realistiese standaarde op elke terrein van jou lewe, soos om nie te streef na ’n ideale liggaamsbou of die perfekte huis nie. Hou ook op om vir alles en almal verantwoordelikheid te wil aanvaar. Dit is byvoorbeeld nou regtig nie die einde van die wêreld as jou kind nie die hoofseun is, vir die eerste span rugby speel én ses onderskeidings kry nie.

Tuis kan jy werk onder lede van die gesin verdeel in plaas van om alles self te probeer doen. Só sal almal die verantwoordelikheid vir die huishouding dra en dit nie net op jou skouers rus nie. Hulle woon immers ook in die huis! ’n Mens kan net gesond wees as jy genoeg rus en weet wat vir jou vreugde en energie gee. As dit tuinmaak is, doen dit!

Dr. Elize Morkel, kliniese sielkundige

Ontgif met rooipeper

’n Verswakte immuunstelsel kan ’n teken wees van die verkeerde dieet of leefstylgewoontes. Dit kan jou moeg en afgemat laat voel. Dit is dalk tyd om ’n aanvulling te drink wat jou kan help om van skadelike gifstowwe in jou liggaam ontslae te raak.

FloraForce se Turmerynne™ verskaf die voordelige eienskappe van borrie en rooipeper. Borrie is ’n natuurlike anti-inflammatoriese middel wat jou liggaam help om siektes te beveg. Dit is trouens so kragtig dat dit met sommige anti-inflammatoriese medisyne vergelyk kan word. Rooipeper is bekend daarvoor dat dit ontslae raak van gifstowwe in die liggaam. Dit stimuleer ook die bloedsomloop en is ’n sterk anti-oksidant, wat vrye radikale teëwerk. Dít help weer om die verouderingsproses te vertraag.

Kapsaïsien, die hoofbestanddeel in borrie, versterk die hart en are en help om die normale toestand van bloedvatwande te handhaaf. As jy dit drink, kan jy jou risiko om bloedklonte te kry, verminder. Dit kan veral help teen slegte gewoontes soos om te rook, aangesien rook jou bloed dikker maak en bloedvate verdun.

Dr. Florrie Kerschbaumer, homeopaat