Selfs beurtkrag kan lekker wees!

Jou lewe het onbeperkte moontlikhede. Elke situasie kan op verskeie maniere uitspeel. Jy het altyd ‘n ander opsie. Stem jy saam met hierdie stellings?

As mens so vinnig daaraan dink, dan klink dit nie moontlik nie. Jou lewensomstandighede is jou lewensomstandighede en baie mense is juis ongelukkig omdat hulle vasgevang voel. Omdat hulle voel dat hulle uit keuses en opsies gehardloop het…

Tog, sê ek weer, elke situasie kan op verskeie maniere uitspeel, want jy het altyd ‘n keuse hoe jy op ‘n spesifieke situasie gaan reageer. Vat maar al die beurtkrag wat almal in Suid-Afrika te beurt geval het. Party mense het gekerm en gekla daaroor. Het dit hul beurtkrag verkort? Nee, maar ek is seker dit het vir hulle twee keer langer gevoel as wat dit was.

Ander het die skielike donker aande as geleenthede gesien vir kwaliteit familie tyd. Bord- en kaartspeletjies is uitgegrawe en gesinne het heerlik gespeel rondom flikkerende kerse. Vir hulle was die beurtkrag glad nie so lank nie.

Party het die storie so bekyk, besef dat dit nou maar is soos dit is. ‘n Situasie buite hul beheer en het toe die nodige goed in plek gekry om seker te maak die volgende beurtkrag gaan hul nie onverhoeds vang nie. Hul inkopielyste lyk hierdie maand effens anders met kerse, gas vir die gasbraaier en petrol vir die kragopwekker wat ook nou tussen die normale inkopies pryk.

Dis die veerkragtiges. Die aanpasbares wat hul nie laat onderkry deur situasies buite hul beheer nie. Is gewoonlik ook die sulkes wie se geloof sterker as die Oranjerivier in vloed vloei, wie se hoop nooit beskaam nie en wat altyd ‘n ekstra kers en ‘n plek om die speletjiestafel het vir die bure wat dalk nie voorsiening gemaak het vir die donkerte nie.

Steek jou kers by die sulkes aan, en leer om situasies uit meer as een hoek te benader, sodoende kan selfs beurtkrag aande lekker raak!

Vorige artikelOor ‘n dooie-doring-bessie-boom
Volgende artikelEk vat die pad
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.