Sewe sondes vir ’n gelukkige huwelik!

0
12
7_sondes_vir_gelukkige_huwelik.jpg

Saam met die jawoord kom daar ook ’n lys sondes wat jy wel behóórt te pleeg …

Teen die begin van die 14de eeu het die sewe dodelike sondes – wellus (of begeerte), gulsigheid, gretigheid (na aardse besittings), luiheid, toornigheid, afguns en trots – ’n gewilde tema onder Europese kunstenaars geword. Vandag kan jy hierdie sondes só in jou huwelik toepas dat dit jou verhouding nuwe lewe kan gee. Elmari Craig, seksuoloog en huweliksberader, werp lig op die sondes. Louis Fivaz, ’n Afrikaanse liedjieskrywer, sanger en sakeman en sy vrou Anita verklap wat vir hulle werk.

Wellus … begeer mekaar

ELMARI SÊ: Seksuele vervulling en plesier isn broodnodige element vann gesonde huwelik en dit is soms nodig om die wellus te laat groei en gedy. Eintlik wil ons net weet dat ons huweliksmaat ons begeer!

HY SÊ: Ek is ’n “borsteman” en daar is geen vrou wat sulke mooi borste het soos Anita nie. Ek is ewe gek na haar sensuele mond.

SY SÊ: Louis is vir my ’n verskriklike mooi man en daar is ’n hele paar eienskappe in hom wat enige vrou sal laat swymel, maar as ek spesifieke dinge moet uitlig, is dit sy pragtige lyf, sy mooi oë en sy gul mond.

Gulsigheid … verly mekaar

ELMARI SÊ: Eet is ’n baie sensuele en sensoriese ervaring. Doen moeite met ’n romantiese kersligete en konsentreer op die tipe kos wat jy eet, die tekstuur en smaak. Wees ook gretig om aan jou maat se behoeftes te voldoen en wys klein blyke van waardering, soos om sy/haar gunstelingnagereg te maak.

HY SÊ: Eet is een van ons stokperdjies. Ek beskou dit as deel van voorspel!

SY SÊ: Omdat ons albei baie besig is, is ons huishouding só georganiseerd dat ons selde self kos maak. Die tye wat ons dit wel doen, is lekker kuiergeleenthede en as ek op my stukke is, gaan ons oorboord en eet behóórlik!

Gretigheid … bederf mekaar

ELMARI SÊ: Gretigheid kan ook vertaal word as dat ons maar mag gretig wees om aan mekaar se behoeftes te voldoen. Klein blykies van waardering, wys jou maat jy het aan hom of haar gedink.

HY SÊ: Toe ons tien jaar gelede getroud is, was ons baie arm en ek wou nog altyd vir haar die ring gekoop het wat sy begeer. Die tweede keer moes ek uithaal en wys!

SY SÊ: Die grootste geskenk wat ek vir Louis gekoop het, is ’n spesiale horlosie met ’n inskrywing wat sê dat dié geskenk hom moet herinner aan ons tyd saam en hoe kosbaar dit is.

[pagebreak]

Luiheid … wees bymekaar

ELMARI SÊ: Ek sou wou dink dat luiheid in die verhouding kan werk as ons sê ons mag maar soms van alles om ons vergeet en eerder tyd aan mekaar spandeer. Soms is dit wonderlik om net stil bymekaar te wees – mens hoef nie altyd iets te dóén nie! Wees net! Aan die anderkant moet ons ook weet dat om jou huwelik gesond te hou, harde werk kan wees. ’n Mens moet moeite doen om tyd by mekaar deur te bring.

HY SÊ: Ek en Anita is albei baie besig en ons het nie tyd vir luiwees nie, maar as ons lui raak, kan Anita heeldag slaap en ek kan soos ’n sleg man voor die televisie lê!

SY SÊ: Ons breek darem gereeld weg vir ’n naweek. Onlangs ons Franschhoek toe waar ons geëet, wyn gedrink en ’n luilekker dag by die spa geniet het!

Toornigheid … baklei mooi met mekaar

ELMARI SÊ: Konflik is gesond en nodig, maar dit gaan oor hoe ons baklei. Maak seker dat julle jul konflikhanteringsvaardighede opskerp en onthou jy doen nie jou huweliksmaat of huwelik ’n guns deur “die minste te wees” en stil te bly nie. Leer om te sê hoe jy voel en na jou maat te luister.

HY SÊ: Ek en Anita is albei Bulle, as daar moeilikheid is, kom dit in groot dosisse! Dié ou girl is ’n prokureur, so jy moet jou staan ken. Sy kruisondervra my met álles!

SY SÊ: Ek raak passievol kwaad en hy is gou jammer.

Afguns … gee om vir mekaar

ELMARI SÊ: Wees altyd jaloers op julle tyd alleen bymekaar.

HY SÊ: Anita is ’n baie goeie bemiddelaar. Daar is min mense wat twee partye mekaar se punt so kan laat insien soos sy.

SY SÊ: Ek bewonder die feit dat Louis ’n doener is.

Trots … wees lief vir mekaar

ELMARI SÊ: Dit is gesond om so trots te wees op jou maat en jou huwelik dat jy konstant die positiewe raaksien.

HY SÊ: Die huwelik, maak my volledig. Die Here het Anita in my lewe gebring om my aan te vul. Sy is die een wat my voete stewig op die aarde hou.

SY SÊ: Ons staan sterk langs mekaar, ons leun nie teen mekaar nie. Ons staan ook nie in mekaar se skadu nie, maar tog laat ons mekaar veilig en geborge voel …