Shereen Braack: verloor 17,4 kg

0
27
shereen.jpg

Selfvertroue

Shereen het begin besef dat haar selfbewustheid en gebrek aan selfvertroue besig was om haar sesjarige dogtertjie se selfbeeld ook af te breek. Sy het besluit om iets daaraan te doen en was vasberade om te verander. Shereen wou bitter graag ’n goeie rolmodel vir Michelle wees, maar ’n drastiese kopskuif was nodig. Haar man was aanvanklik skepties oor haar deelname. Shereen kon op sy gesig sien: Hy dink sy gaan dit nie maak nie. “Ek hou van eet,” verduidelik sy. “En ‘lekker eet’ is my handelsmerk.” Haar deursettingsvermoë het hom gou oorgehaal en hy is nou ongelooflik trots op sy mooi vrou. ’n Terugblik op hierdie pad laat haar besef dat dit nie net die 17,4 kg is wat sy afgeskud het nie, sy het ook emosionele bagasie langs die pad afgelaai. “Ek is nie meer bang vir wat ander mense van my dink nie.” Haar vetmassa het ook met ’n verstommende 24,2 kg gedaal.  

Kyk uit vir jouself

In die verlede het sy haarself onbewustelik op verskillende maniere gepootjie. Sy vertel van Michelle, haar dogtertjie, se lekkergoedlaai in die huis. Vandat sy op die ’n nuwe jy program is, besef sy dat die laai nie so vinnig leeg raak nie. Die rede? Sy was altyd die een wat die laai leeg geëet het. Shereen het deur die proses geleer om op te hou met hierdie afbrekende gewoontes. Sy het baie vinnig die lelike eendjie afgeskud en ontpop in ’n swaan, en is uitermatig dankbaar oor haar transformasie. Sy sprankel wanneer sy (amper half verleë) sê: “Ek is verlief op myself.” Die gewigsverlies het nie net haar selfvertroue nie, maar ook haar huwelik ’n inspuiting gegee. “Na sewe jaar se getroude lewe voel ons weer soos jong verliefdes.”  

Jy kán tyd maak

Aanvanklik was die gedagte aan hierdie enorme uitdaging amper te groot. Haar grootste bekommernis: “Waar gaan ek tyd kry vir alles? Tyd vir God – ek gaan dan so besig wees? Tyd om te oefen. Tyd vir my man en kind. Tyd vir myself.” Die kommer het vinnig oorgewaai. Shereen het haarself aangepraat en besluit dat die verskoning van “te min tyd” haar nie langer sal laat struikel nie. “Jy hét tyd, báie tyd. Staan vroeër op. Hoekom slaap jy tot halfsewe? Wat maak jy voor die televisie tussen sewe en tien?” Sy het tyd gemáák om te oefen. Nou oefen sy elke dag in die gimnasium – op die trapmeul en by Curves. Shereen sê: “Curves – wat ’n lekker plek om net vrou te wees en steeds te oefen. Ek het nuwe vriendinne gemaak en kan nie wag om elke dag te gaan oefen nie.” Sy het ook besef dat ’n gesonde eetplan nie ’n vonnis is nie, maar eerder ’n leefstylverandering.

Probeer weer

“Ons dien ’n wonderlike God. Ek het geval en weer opgestaan, my hand uitgesteek na Hom en Hy het my gedra waar ek nie kon loop nie. Hy het my nooit verlaat nie,” sê ’n baie dankbare Shereen. Daar was ook ander mense en dinge wat haar aangespoor het om te volhard. Haar familie wat haar ondersteun het en gedurig gekomplimenteer het oor haar vordering het gesorg vir ekstra selfvertroue. Ook nadat sy haar “vet” foto in die Augustus-uitgawe van FINESSE gesien het, was sy opnuut gemotiveer om vas te byt. Sy was oorgehaal om nóóit weer so te lyk nie. Sy voel nie net soos ’n wenner nie, maar glo dat sy ’n wenner is. “Ek het gewen met my gewig. Wenners kry gewoonlik medaljes, maar my medalje is my nuwe lyf, nuwe houding, nuwe klere en nuwe geloof.”

 

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.