Sien eerste die mooie in ander

694

Suksesvolle persone, soos miljoenêrs, het sekere karaktereienskappe wat ooreenstem. ’n Interessante gemeenskaplike kenmerk onder hulle is dat hulle die beste in ander mense raaksien.

Baie mense sien gewoonlik diegene om hulle se foute en tekortkominge heel eerste raak. Ons doen dikwels dieselfde met ons geliefdes. Ons kyk die dinge mis wat hulle reg doen en laat die vergrootglas val op die een klein dingetjie wat hulle verkeerd doen.

Oefen om positief oor ander te dink en te praat

Dit is moontlik om God se medewerker te wees in die proses om iemand op te hef en op te bou. Suksesvolle persone getuig almal dat ’n ouer, onderwyser, oom of tannie op ’n stadium hulle potensiaal raakgesien en in hulle geglo het. John Maxwell reken dat wanneer jy in iemand glo, daardie persoon enigiets sal doen om jou nie teleur te stel nie.

Om potensiaal te identifiseer is lewegewend. Dit maak ’n wêreld van moontlikhede oop. Natuurlik is niemand perfek nie. Ons begaan almal foute, maar wanneer jy glo ’n persoon is in staat om hoogtes te bereik, help dit hom of haar om hulle volle potensiaal te ontwikkel.

Sê gereeld vir jou geliefdes en vriende wat jy omtrent hulle waardeer. Skryf vir jou man ’n briefie en vertel hom van die dinge wat hy doen wat jy die meeste waardeer.

’n Rukkie gelede is ek in die geselskap van ’n groep mense wat nie skroom om opregte komplimente uit te deel nie. Hulle energie was aansteeklik. Toe ek terugry huis toe, voel ek sommer opgeruimd en lus vir die lewe. Wat ’n lekkerte om in hierdie geselskap te wees wat ander in ’n positiewe lig sien en nie gedurig kritiseer nie. Toe ek daaroor nadink, besef ek elkeen van daardie persone is suksesvol op hulle eie manier. Nou weet ek waarom.

Hou op dink jy het minder foute as iemand anders

Ons is goed met “sin-spotting” – om die verkeerde dinge raak te sien – maar ons sukkel met “God- spotting” – om spore van God se karakter in die mense om ons te vind.

Jesus sien die beste in ander raak. Hy kies Matteus die tollenaar as een van Sy dissipels. Dit was ongehoord! Sheila Schuller Coleman stel dit so: “Waar almal ’n uitgeworpene gesien het, het Jesus ’n belofte gesien. Waar almal ’n verraaier gesien het, het Jesus ’n lojale volgeling gesien. Waar almal ’n verloorder gesien het, het Jesus ’n kampioen van die geloof gesien.”

Waarom is dit so ’n gesukkel? Waarom is ons is foutvinderig, kritiseer ons eerder en sien foute raak in plaas van om die mooie raak te sien? Die rede is dalk meerderwaardigheid – ons dink te veel van onsself.

Jesus se hardste woorde was gerig aan diegene wat veroordelend en krities was – die Fariseërs. Hy noem hulle huigelaars en witgepleisterde grafte.

Om te bemoedig gee hoop en ’n toekomsverwagting

Bemoediging kan iemand se lewe red. ’n Mens sien dikwels in die media hoe ons mekaar verskeur … Vrede en liefde word verkondig, maar dis ’n gesukkel om net gewoonweg met mekaar oor die weg te kom.

Om te oordeel gebeur te maklik. Ons het baie te sê oor hoe ander hulle lewe leef en die keuses wat hulle maak. Ons moet eerder meer op verhoudings fokus as op dit wat ander volgens ons verkeerd doen. Ons almal staan ewe skuldig. Of jy nou R500 of R50 skuld, dit maak nie saak nie. As jy niks het om jou skuld mee te betaal nie, maak dit nie saak wat die bedrag is wat jy verskuldig is nie.

C.C. Morrison het gesê: “Die kerk is ’n vereniging van sondaars – die enigste vereniging ter wêreld waar lidmaatskap gegrond word op die enkele feit dat die kandidaat nie sy lidmaatskap kan verdien nie!”

Ons moet nie aanklaers van mense wees nie. Hoe ironies dat nie-Christene dikwels een woord gebruik om Christene mee op te som – veroordelend. Vra elke dag vir krag en genade van Bo sodat jy die mooie in ander kan sien, hulle opbou en die goeie in hulle na vore bring. Glo altyd eerste die beste.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.