Sien, hoor en voel die hemel

0
1827

Die hemel loop oor van vrede, vreugde, liefde en God se teenwoordigheid. Jy hoef egter nie vir “eendag” te wag om dit te kan beleef nie.

Die wêreld is ’n wrede plek. Rampe en misdaad verslind geluk. Vrees verdryf elke stukkie vrede. Hartseer is skynbaar al wat oorbly. Hel op aarde.

Dit laat ’n mens wonder: Is dit moontlik dat daar nog iets waardevols is tussen al hierdie gemors? Vrede en geluk? Dit voel amper asof God weggeraak het. Dalk wens jy soms jou lewe om… sodat jy in die hemel kan kom.

Die hele wêreld is op soek na sin, na iets méér as dit wat ons hier op aarde sien en beleef. Boeke soos Heaven is for Real en 90 Minutes in Heaven is topverkopers. Daar is egter ook blitsverkopers oor vampiere, towenaars en ander vreemde wesens.

Mense word deesdae weer al hoe meer bewus van ’n geesteswêreld, die lig en die duisternis daarvan. Hulle wil wonderwerke ervaar en die bonatuurlike beleef. Maar is dit moontlik? Hoort hierdie dinge nie slegs in die hemel nie?

Dalk nie! Jesus het tog gesê dat die ewigheid is om Hom te ken. En jy ken Hom en is ook lief vir Hom. Uit hierdie besonderse verhouding kan jy nou reeds klein stukkies van die heerlikheid beleef. Dis nou te sê as jy nie so besig is dat jy dit miskyk nie…

Dink net hoeveel lekkerder dit jou lewe op aarde gaan maak as jy elke nou en dan ’n stukkie hemel kan ervaar, want dit is ’n plek vol liefde, vrede en vreugde, sonder enige bekommernis of pyn. Dit sal jou laat moed skep om aan te hou en laat jou sommer nog meer daarna uitsien.

So, tussen die wasgoed, rekeninge, sperdatums, drama en verlies deur, is daar brokkies heerlikheid versteek. Dit is jou keuse of jy dit wil raaksien of nie. Wie sal nou nee sê vir ’n bietjie afwisseling van stres en sukkel?

Jy is reeds deel van die hemel – dit is oral rondom jou. Om dit te beleef is makliker as wat jy dink!

Kan ons die paradys nou al op aarde beleef?

Daar is talle opinies oor hierdie onderwerp. Hierdie drie kenners help ons om ’n beter idee te kry oor hoe dit nou eintlik is.

Elza Meyer sê…

Die hemel is ’n plek waar God alles in almal is. Daar sal die verhouding tussen jou en Hom wees soos dit aanvanklik bedoel was. Paulus verseker ons immers dat al die geestelike skatte wat daar in die hemel is, aan die gelowiges gegee word. Elke in-Christus-mens kan hierdie skatte reeds op aarde ontvang.

Jy kan hierdie heerlikheid nou al beleef – sodra jy ophou om jou lewe volgens jou omstandighede te leef. Moenie kyk na wat rondom jou gebeur nie, maar leef volgens die Bybel. Dit is waar en word nie beperk deur die feite van die alledaagse lewe waarteen ons so maklik vaskyk nie.

Soms sukkel jy om te ontvang wat reeds vir jou gegee is. Dalk bid jy vir gesondheid, maar jy vergeet dat die Geneesheer reeds binne-in jou is. Miskien vra jy oor en oor om vergewe te word, maar jy is al 2 000 jaar gelede aan die kruis vergewe.

Alhoewel jy baie hemelse skatte reeds op aarde kan kry, kan jy dit nie vergelyk word met dit wat jy eendag sal beleef nie. Eers dán sal alles volmaak wees. ’n Lewe op aarde met Jesus in jou hart is ’n kwitansie vir die oorvloed wat daar vir jou wag.

Isak Burger sê…

Die Bybel gebruik die woord “hemel” vir ’n paar verskillende goed: die wolkehemel, die sterrehemel en die woonplek van God. Dis die plek waarheen Sy kinders gaan wanneer hulle lewe op aarde verby is. As daar van hierdie hemel gepraat word, kom die woordjie “die” gewoonlik vooraan. Ons weet egter nie presies hoe dit daar lyk nie.

Op aarde is ons verhouding met ons Pa nie wat dit moet wees nie; daarom is dit so wonderlik om uit te sien na die paradys, waar ons vir altyd by Hom sal wees en Hom sal sien soos Hy is.

Met “hemel op aarde” bedoel ons nie dat daar nie ’n rêrige hemel ná die dood is nie. Soms kom daar tog tye en gebeur daar dinge wat ons baie naby aan God laat voel. Jy ervaar vrede en harmonie, dis sommer of alles perfek is. Sulke tye is wonderlik en natuurlik moet en mag jy dit geniet, maar gewoonlik word jy gou daaraan herinner dat daar ook baie lelike en stukkende dinge op aarde is.

Die rêrige hemel is ’n plek, anderkant die grens van die dood, waar die Skepper woon en waar alles volmaak is. ’n Plek waar Paulus ook graag wou wees (kyk Filippense 1:23).

Jannie le Roux sê…

In die Bybel lees ons die hemel is God se huis. Dit is ewig, sonder hartseer en pyn, en alles daar is net mooi. Dis die paradys.

Jy kan die paradys nou reeds op aarde ervaar omdat hemel is waar Hy is – ook op die aarde! Die hemel is dus op ’n misterieuse manier ook hier.

Dinge soos plaasmoorde, gesinsgeweld en renosterstropery herinner ons daaraan dat die paradys nog nie finaal hier is nie. Sulke tye praat mense van hel op aarde. Ons ervaar ook ’n voorsmaak van die hel – waar God nie is nie.

Dis eintlik eenvoudig: Hoe meer jy Hom elke dag soek en raaksien, hoe meer vreugde sal jy beleef. Soek dit in ’n sonsopskoms, ’n geboorte, mooi musiek, ’n diep fliek of enigiets wat met jou hart praat.

Paulus moedig ons aan om die dinge te bedink wat daarbo is, waar Jesus aan die regterhand van ons Vader sit. Ons moet dus probeer om alles hier uit ’n hemelse perspektief te sien.

Vra jouself: Waarmee is God besig? En wys vir ander, deur jou liefde, so ’n stukkie van die hemel – sodat hulle ook kan weet daar ís hoop!

Verskerp jou sintuie en beleef Hom elke dag

Jy het nog altyd gedink die aarde is ’n tipe straf, en dat jy eendag vir ewig en altyd gelukkig gaan wees. Nou klink dit of jy hierdie vreugde reeds hier op aarde kan beleef. Hoe werk dit?

Stephan Joubert sê ons kan dit beleef deur ons spirituele sintuie te verskerp. Klink dit vir jou effens vreemd? Dit is glad nie! Jy moet bloot leer om Hom op aarde te sien, te hoor en te voel. Jy kán met nuwe oë, ore en emosies leef.

SIEN … God is naby

God is hier, by jou. Hy het dit belowe en wys Homself elke dag vir ons. As jy dit nie meer raaksien nie, is jou geestelike oë uit fokus en dan moet jy leer om fyner te kyk. Jy moet die Onsienlike raaksien.

Jou oë kyk eers reg as jy die hemelse leërskare rondom jou opmerk. Eers as jy op Sy wêreld ingestel is, sien jy Hom ook in die storms raak. Dan verdamp jou vrees. Dan gebeur hemel regtig op aarde!

Die meeste mense wil eers sien, dan sal hulle glo. Soos Thomas, wat nie die ander dissipels wou glo nie. Hy wou eers self die wonde in Jesus se hande voel.

Ongelukkig maak die lewe jou blind. Soos Elisa se kneg sien jy later net moeilikheid en probleme. Jy raak paniekerig as die storms om jou opsteek en jy sien niks anders raak nie. Sulke verkeerde kyke maak dat jy nie raaksien dat Hy daar is in elke storm nie. Toe Elisa vra dat God sy kneg se oë moet oopmaak, toe sien hy ook die skare strydwaens van vuur wat hulle beskerm.

Om reg te “sien” is om Sy nabyheid raak te sien. Hy is hier. Hy is aan diens. Begin nog vandag om by die sigbare dinge wat jou geloof steel, verby te kyk na die Onsigbare.

Leer om in elke krisis aan te hou kyk totdat jy die hemele oop sien. Want dit is lankal oop! Jy moet dit net raaksien. Hou aan kyk totdat jou vrees verdwyn omdat jy sien Hy is wel daar. Onthou, een plus Een is altyd ’n meerderheid, maak nie saak wat die storm is nie!

Oefening: Vang een oomblik vas

Jy dink maklik dinge gebeur toevallig of onverwags. Daar moet mos ’n logiese antwoord vir alles wees. ’n Wetenskaplike bewys. Hoeveel keer het jy al ’n wonderwerk misgekyk omdat jy gedink het jy verbeel jou?

Die lewe is so ’n gejaag dat jy meestal na jou horlosie kyk in plaas van om die kosbare dinge om jou raak te sien. Sit vandag ’n oomblik stil en kyk deur jou kombuisvenster hoe die suikerbekkie nektar suig. As jy in die verkeer vassit, moenie jou blind staar teen die tou karre voor jou nie. Kyk op. Soek prentjies in die wolke of kyk hoe ’n voël vlieg. Soek die mooie te midde van die frustrasie om jou.

Swaarkry laat jou ook beter sien. Deur jou trane sien jy gewoonlik die heel mooiste dinge raak, soos iemand wat vir jou glimlag of ’n helpende hand uitsteek.

Wanneer jy volgende keer sulke stukkies van die hemel sien, neem dit met jou selfoon af. Die reënboog, jou kind wat lê en slaap, die reëndruppels wat teen jou ruit afloop. Maak hierdie foto’s die agtergrond van jou selfoonskerm.

HOOR … God se stem

Jou ore is heel moontlik beter kanale as jou oë. Want jou ore kan nie knip nie! Dit sny nie elke kort-kort die lyn af nie. Jesus praat ononderbroke met jou. As jy dit nie duidelik hoor nie, is dit omdat jy te besig is. Die geraas van jou alledaagse lewe doof daardie stem uit.

Sy woorde is bedoel om jou lewe vol hemelse vreugde te maak. Om op Sy sender ingestel te wees is om die regte GPS te hê vir ’n lewe wat Hom in die alledaagse detail ken.

Om reg te hoor, moet jou lewe 24/7 op die regte frekwensie ingeskakel wees. Jou daaglikse stiltetyd is nie genoeg nie. Stiltetyd moet oorloop na elke afdeling van jou lewe. Hy saai permanent uit op die vreugde-kanaal; jy hoef net daarna te luister sodat jy kan weet wat die regte pad is.

So, hoe luister jy? Praat met Hom terwyl jy gaan stap, terwyl jy ry, skottelgoed was, werk, ontspan en tee drink. Kry gereeld ’n bygewerkte hemelse GPS vir jou roete. Praat, hoor, doen – so leer jy om reg te luister. Dan sal jou lewe oorloop van vreugde, want dit is die waarborg wat ons in die Woord kry.

Jou geestelike ore begin eers reg werk as jy Hom in die alledaagse lewe begin hoor. As jy op die regte sender ingeskakel bly, sal jy Sy stem altyd herken. Luister daarna en kies oor en oor om Hom lief te hê in alles wat jy hoor, dink, doen en sê.

Hoe sal jy weet of jy reg hoor? Jy hoor reg as jou eie woorde en dade al hoe meer vol vreugde is. As vreugde in jou hart begin wen. O ja, en as jy ander ook begin uitnooi om op hierdie kanaal in te skakel.

Oefening: Raak een minuut stil

Wanneer jy stiltetyd hou, lees jy die Bybel, bid en skryf dalk. Maar luister jy ooit? Dalk soek jy so hard na antwoorde dat jy vergeet om stil te word en net te hoor wat God vir jou sê.

Die lewe is vinnig: Dink. Doen. Beweeg. Om stil te sit en jou gedagtes te kalmeer is amper onmoontlik. Maar dis ’n moet! Miskien kry jy nog die antwoorde op dinge waaroor jy al jare lank bid.

Begin vandag nog met net één minuut, iewers in jou dag. Sit stil, bly stil en sluit jou heeltemal af. Doen dit as jy vir die kinders by die skool wag of terwyl jy jou oggendkoffie drink.

Begin so: “Here, ek is stil. Ek luister.” Moenie ongeduldig raak as jy dit nie die eerste keer regkry nie. Dit gaan ’n rukkie vat om jare se geraas uit te doof!

Luister die hele dag na dit wat deur jou kop flits, want Sy stem is hoorbaar in spontane gedagtes. Een minuut se stilte verseker dat jy die hemelse boodskap die res van die dag sal hoor.

VOEL … God se genade

Jy is mens. Jy neem verkeerde besluite. Christenvriende kan jou skeef aankyk en dan besef jy vinnig in watter gemors jou lewe eintlik is. Maar dan weet jy ook hoe voel hemel op aarde, want Jesus is bereid om oor en ook voor te begin met jou. Sy sagte uitveër waarmee Hy al jou foute en sondes in een oogwink uitvee, is genade in aksie.

Philip Yancey sê in What’s So Amazing About Grace? daar is niks wat ons ooit gedoen het, tans doen of in die toekoms kan doen, wat sal maak dat God ons meer of minder sal liefhê nie. Hy het ons in elk geval lief, sonder voorwaardes lief, hier en nou!

Genade is ’n nuwe Genesis na elke slegte Eksodus wat jy aangepak het. Dit is nie net wanneer jy nog die soveelste kans kry nie. Dit is ook wanneer Hy self die kanse skep om die sluise bokant jou lewe oop te trek en jou met onverdiende seëninge te deurdrenk.

Dit is ’n hemelse werkwoord en ’n menslike ruswoord. Dit vertel dat die Here jou verniet liefhet sonder dat jy iets kan doen om dit te koop of te verdien.

Genade vrywaar jou natuurlik nie teen hartseer nie. Jy gaan weer gebroke aan Sy voete neerval, maar dan sal jy weer die mooiste woorde hoor: “Gaan in vrede!” Om genade te voel te midde van jou seer en magteloosheid, is om hemelse oorvloed te ken; daarom dat jy nooit genoeg hiervoor kan dankie sê en hieruit kan leef nie. Jou lewenstaal verander nou al hoe meer in loftaal.

Oefening: Skryf een seëning neer

Dit is asof ons ons smaak verloor het vir die klein dingetjies… alles moet super size wees voordat dit ons laat sprankel.

Om weer bewus te word van al jou seëninge, moet jy amper op ’n skoon bladsy begin. Die heel belangrikste is natuurlik dat jou sondes vergewe is – dit behoort genoeg te wees om jou weer opgewonde te maak!

Skryf elke dag een woord neer wat daardie dag se seëning vasvang: reën, gesondheid, vriendin, werk. ’n Oulike idee is om ’n virtuele genadebank op jou rekenaar te begin. E-pos aan die einde van jou werksdag net een woord en gooi dit in ’n lêertjie genaamd: “Seën is… ”

Na ’n week sal jy klaar sewe dinge hê om voor dankbaar te wees. Gou-gou sal elke dag se één woordjie ’n versameling word wat van Sy goedheid getuig.

Moenie net vir die sonskyndae wag om van Sy seën te onthou nie. Dit is dikwels in die donker storm dat jy ’n vars perspektief op genade kry wanneer jy vra: Wat is goed hieraan? Wat kan ek hieruit leer?

Die hemel is nou. Hier by jou. Om jou. Hoekom wil jy wag om dit te ervaar? Die meesterplan sluit jou lewe hier op aarde in. Jy kan sommer nou reeds deel raak van die hemelse vreugde.

Ja, daar sal altyd slegte dinge wees, dinge wat seermaak en verwoes terwyl ons in hierdie wêreld leef. Maar Hy is ook hier op aarde en jy kan dit voel.

Stel jouself weer in op God se frekwensie en hoor Sy stem in elke omstandigheid. Hóór Sy stem. Dan sal jy sien hoe Hy elke dag deel is van jou lewe en in elkeen van jou behoeftes voorsien. Dis moontlik nie soos jy vir Hom wil voorskryf of wat jy in gedagte gehad het nie, maar jy sal kry wat jy op daardie stadium nodig het.