Sien jy die wolk of die silwer rand?

0
7
Adrianne.png

Adrianne Haslet-Davis is ‘n pragtige 32-jarige dame en is ook ‘n baldanseres en instrukteur in Boston. Sy was ook een van die toeskouers by die Boston-marathon toe daar twee bomme ontplof het. Sy het ‘n deel van haar been verloor. Sy is egter vasbeslote dat sy nog hierdie jaar weer gaan dans. Sy sê dat alhoewel sy ‘n deel van haar been verloor het, het sy nog steeds haar hart. En dan vervolg sy: “Ek wil net hê mense moet weet jy kan in ’n situasie wees wat soos die einde van die wêreld lyk en sterker anderkant uitkom. Ja, dit is aaklig dat my voet afgeskiet is, maar ek kan myself nie bejammer nie.”

Daar is mos ‘n spreuk wat sê dat elke donker wolk het ‘n silwer randjie. ‘n Mens behoort jouself die kuns aan te leer om altyd die silwer randjie raak te sien eerder as die donker wolk. En as ‘n mens dit doen, is jy nie bloot besig om jouself te bluf nie. Dit is wel so dat ‘n mens die slegte dinge in die lewe kan oorwin. Kinders van God behoort dit nog des te meer te kan regkry, omdat hulle met die oorwinningskrag van Jesus kan leef. Hy het mos nie verniet gesê nie “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh 16:33).

Watter donker wolk ook al vandag in jou lewe saampak, sien daardie silwer randjie raak. Leef vanuit die krag wat God tot jou beskikking stel.