Sien om na die natuur

130
Liesel Krause-Wiid
Liesel Krause-Wiid

Ons is gemaak uit die stof van die aarde, en ons het ’n spesifieke opdrag gekry om die aarde te bewerk, te bewoon en te bewaar.

Te lank het mense geglo die natuur bedreig ons. Ons was vreesbevange oor natuurrampe en wilde diere, maar soos dit nou lyk, is die eintlike bedreiging mensgemaak.

Leef jou roeping om die natuur op te pas

Dieselfde mense wat geroep is om die aarde op te pas, is besig om dit te vernietig en te misbruik vir eie gewin. Honderde diere- en plantspesies word daagliks op aarde vernietig. Miljoene hektaar bome word jaarliks in tropiese woude afgekap. Olie besoedel kuslyne, lugbesoedeling versmoor ons, water word al hoe skaarser en riviere word besoedel.

Soms dink ons, ag, die “groenes” sal omsien na sulke dinge. Ons fokus eerder op die hemel. Die feit is, ons verloën ons geloof as ons so dink. Die duidelike boodskap uit Genesis is dat ons die aarde moet oppas.

Sommige kenners reken dat Christene se verkeerde interpretasie van Genesis 1:28, wat vertel dat ons moet heers oor die skepping, die rede is vir die agteruitgang van planeet Aarde. Ons dink verkeerdelik die teks beteken dat ons met die natuur kan maak soos ons goeddink, en dit kan vernietig om onsself te verryk.

Die verbruikerskultuur verwoes die aarde

Ten diepste moet mense besef dat meer besittings nie meer vreugde of vervulling bring nie. Iemand het gesê: “You don’t have a material-shaped hole on the inside, you have a God-shaped hole that only He can fill.”

Mense kort gedurig nog ’n juweelstuk, nog ’n skildery, nog ’n kledingstuk. Tog, wanneer ons by ons Herder is, kort ons niks! ’n Aanhoudende gekoop kan jou later leeg en moedeloos laat voel, maar die stryd duur voort. Ons is lewenslank in rehabilitasie om eenvoudiger te leef.

Daar is ’n staaltjie wat vertel van ’n vliegtuig waarvan die enjin aan die brand geslaan het. Die kaptein het gelukkig genoeg valskerms aan boord gehad vir al sewe mense op die vliegtuig. Vinnig begin hy toe die valskerms uitdeel. Die eerste passasier vra sowaar vir ’n rooi valskerm.

Die vlieënier was verstom en het uitgeroep: “Die valskerm is al wat jy nodig het!” Die tweede passasier het gevra vir ’n naar-pilletjie en die loods het weer uitgeroep: “Die valskerm is al wat jy nodig het!” ’n Derde passasier het gesê hy ly aan hoogtevrees en die vlieënier het uitgeroep: “Net een ding is nodig om die sprong te oorleef en dit is die valskerm wat ek vir jou gegee het!”

Begin herwin, want elke verandering maak ’n verskil

Ons het nie méér geld en besittings nodig nie, ons het Hom nodig! En dis genoeg. Om die aarde te bewaar vra opofferings, maar dit bied die lewensbetekenis waarna mense smag.

Hier is ’n paar wenke: Stel die termostaat van die warmwatertoestel laer, want so kan jy ’n geringe aanpassing met ’n gróót invloed maak. Leer jou kinders om huisafval soos karton, papier, plastiek en glas te sorteer en te herwin. Leer hulle om van afvalmateriaal wat kan ontbind, ’n komposhoop buite te begin. Op dié manier ontwikkel jy ook jou kinders se karakter.

As Sy ambassadeurs en beelddraers moet ons die wêreld ’n beter plek maak. Dit vra dat jy uit jou gemaksone sal beweeg en jou beste gee vir die Allerhoogste.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.

Nou is die tyd Gebruik die afslagkode LIESEL om die boek NÓÚ IS DIE TYD te koop op voelgoedboeke.co.za.
R119 R149