Sien probleme as geleenthede

0
937

Dalk het dinge vir Josef verkeerd gelyk terwyl hy in die tronk was, maar eintlik was alles perfek volgens God se plan.

Gelukkig weet nie een van ons wat elke nuwe dag vir ons inhou nie. Onvoorsiens, onbeplan en skielik gebeur daar dinge waarop ons nie voorbereid is nie.

So was dit ook daardie dag met Josef. Hy daag niksvermoedend by sy broers op. Intussen het hulle beplan om hom te vermoor, maar daarteen besluit. Hulle vang hom toe, gooi hom in ’n put en verkoop hom as ’n slaaf. Uiteindelik beland hy in Egipte, waar Potifar hom koop.

Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit… en vat hom en gooi hom in die put. Genesis 37:23

Hoeveel van ons het nie al ’n dag begin en dan het dit heeltemal anders verloop as wat ons gedink het nie? Wat dra jou daardeur?

Iewers by die voete van Jakob het Josef geleer dat hy seker kan wees en kan weet dat hy geen dag kan begin of eindig sonder God nie.

Dit moet ook elke dag jou besluit wees. Jy moet leef met ’n verwagting in jou hart, al weet jy glad nie wat vir jou voorlê nie. Daar is een sekerheid: Jy is nooit alleen op jou pad nie, Iemand stap altyd saam van gebeurtenis na gebeurtenis.

“Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” Genesis 39:9

Josef het elke dag voluit gelewe en gou het die mense agtergekom dat God aan sy kant is.

Waarskynlik het hy elke oggend gevra: “Here, wat wil U hê moet ek vandag doen?” Jy sien, hierdie vraag gee sin en betekenis aan ’n mens se lewe. Dit maak elke dag ’n groot uitdaging en ’n avontuur.

Wanneer jy jou oë oopmaak, kan jy alreeds sê: “Ek is in U hande. Al my probleme, al my besluite, alles wat ek vandag wil sê, hoor of doen, my gesindheid, selfs my gemoedstoestand, plaas ek onder U beheer.”

Hierdie jong man het nie in mense se goeie boekies gekom omdat hy na ander se pype gedans het nie. Hy was nie bereid om kompromieë aan te gaan nie, maar hy was getrou aan dit wat die Here elke dag van hom gevra het.

Al is jy vir ’n oomblik ongewild oor die besluit wat jy geneem het, weet dan op die lange duur sal mense raaksien dat jy konsekwent lewe volgens Sy wil. En dit maak dat jy die guns van God én mense sal geniet waar jy ook al kom.

“Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis.” Genesis 41:39-40

Ons staan dikwels in die môre op en dan lyk die dag maar doodgewoon, net soos die vorige dag – dieselfde situasie, dieselfde omstandighede, dieselfde vrese en bekommernisse. Jy weet nog steeds nie wat die oplossing vir jou benarde posisie is nie.

As ’n mens na Josef kyk, sien jy iemand wat nie een geleentheid verby laat gaan het nie. Hy móés net die beste maak van elke ding wat op sy pad gekom het.

Ek dink dit is seker ook die ingesteldheid wat Paulus wou gehad het ons moet hê toe hy Efesiërs 2 geskryf het. Jy moet onthou dat dit God is wat elke dag elke geleentheid vir jou voorberei. Elke uitdaging is ’n kans om te sien watter goeie dinge vir jou beplan is.

Dis hartseer dat ’n mens nie altyd die geleenthede aangryp wat vir jou gegee word nie. As gevolg daarvan raak jou lewe partykeer saai en verdamp jou entoesiasme.

Ons moet besluit om elke dag betrokke te raak en deel te wees van dit wat rondom ons gebeur. Josef kon ’n sukses maak van sy lewe by Potifar en ook in die tronk omdat hy bereid was om betrokke te raak.