Sien probleme in julle verhouding betyds raak

2372

Op die oog af seil julle huweliksbootjie op kalm water. Maar pasop! Daar is dalk ’n paar waarskuwingstekens wat julle miskyk.

Hoeveel Hollywood-films het ons nie al gesien waarin die held en heldin die een struikelblok na die ander moet oorkom om ware liefde te vind nie. Nadat hulle afgehaak het, vaar hulle die sonsondergang in mekaar se arms tegemoet. En net daar eindig die fliek…

In die regte lewe is dit maar net die begin. As jy en jou man in die huweliksbootjie klim, wag daar nie net ’n kalm see op julle nie.

Gevaartekens word gewoonlik te laat raakgesien

As ’n mens in die straat afry, kan jy nie anders as om die verkeerslig se rooi oog raak te sien nie. Dan hou jy stil en wag tot dit weer groen word. Gevaartekens in die huwelik werk heeltemal anders. Dit sluip meestal ongesiens in die verhouding in.

Wanneer jou maat aanvanklik dieselfde irriterende ding oor en oor doen, aanvaar jy dit byna gelate. Jou onderbewussyn hou egter telling. Elke keer wat dit gebeur, is jy teleurgesteld en begin vermoed dat hy jou nie regtig respekteer nie. Tog byt jy eerder op jou tande as om daaroor te praat. Gevolglik bou jou geheue steen vir steen ’n muur van weersin in jou hart.

As jy dan op ’n dag ’n intense afkeer van hom of haar op ’n bewuste vlak beleef, is dit eintlik reeds te laat. Die emosionele skeiding is klaar opgerig.

Jy sien dit elke keer al hoe duideliker raak as jou maat daardie irriterende dinge weer doen. Later kan jy op niks anders in julle verhouding konsentreer nie.

Daar is baie faktore wat ’n huwelik bedreig

Die eerste jare is gewoonlik ’n tyd van aanpassing en hier en daar selfs ontnugtering. Veral as julle blitsvinnig getroud is, is daar dikwels dinge van mekaar wat julle eers na die tyd ontdek. Om iemand anders se grille te moet akkommodeer nadat jy lank daaraan gewoond was om jou eie ding te doen, is ook moeilik.

’n Groot fout wat huweliksmaats gedurende die eerste paar jaar maak, is om mekaar te probeer verander. Dis belangrik om mekaar toe te laat om ten volle julleself te wees en die ander een te aanvaar, tekortkomings en al.

Een dominee raai paartjies af om te trou as hulle nog verlief is. Verliefdheid is lekker, maar dis belangrik om ook goeie vriende te wees. Julle moet nog gelukkig kan saamleef lank nadat julle nie meer op ’n pienk wolkie rondsweef nie.

Soms is daar eksterne faktore wat soos haaie rondom julle huweliksboot sirkel. Versoekings by die werk plaas baie druk op verhoudings. Julle moet oopkop en eerlik hieroor kan praat en mekaar ten volle kan vertrou.

Uiteenlopende belangstellings kan sake ook kompliseer. Teenoorgesteldes trek mekaar aan, maar na die troue moet albei moeite doen om met daardie verskille saam te leef. Sorg dat julle nie by mekaar verby leef nie deur byvoorbeeld ’n gesamentlike stokperdjie te beoefen of vir dansklasse in te skryf.

Voorkoming is altyd beter as genesing

As die skeidsmure eers in julle harte opgerig is, is dit baie moeilik om dit weer af te breek. Dis baie beter om gereeld tyd te maak om te gesels oor daardie optredes wat mekaar irriteer, teleurstel, kwaad maak of kwets.

Help jou maat om te verstaan watter effek sy gedrag op jou het. En woon een keer ’n jaar ’n huweliksverrykingskursus by om sulke groeiende skeidsmure te identifiseer en af te breek.

Dis beter om saam daaraan te werk – selfs al bring dit emosionele stres. So stel julle julle oë in om onsigbare gevaartekens raak te sien vóór dit skeidsmure word.

As jy sien jou optrede maak jou maat sielsongelukkig, moet jy dadelik veranderings aanbring. ’n Skip wat hom nie aan die vuurtoring se waarskuwingsein steur nie, loop gevaar om op die rotse te beland. Dieselfde geld vir ’n huwelik.