Silwerhare

Die liggie vang my oog. Silwerhare tuur deur die venster. Dis ‘n skemeraand en almal is haastig oppad.

Ek kan nie help om te wonder of die tannie ook eens op ‘n tyd ‘n besige mevrou was nie. Dalk die voorslag bakster, iemand wat blomme kon rangskik, lekker kos kon maak, kinders grootgemaak het.

Ek wonder waaraan sy dink?

Die afgelope tyd kry ek dikwels van daardie mooi boodskappies op my foon: Gryp die dag tipe’s… lewe nou, more is dit dalk te laat…

Ek sit en wonder hoe doen jy dit. Hoe leef jy regtig anders as elke dag se opstaan en gaan slaap min of meer dieselfde verloop.

Dalk met doelwitte, drome wat jy neerskryf, dinge wat jy nog wil bereik, leef in die oomblik tye soek​​?

Waarin lê regte vervulling?

In die week stop ek vinnig by ‘n winkel. Die sekuriteitsman groet vriendelik en aangenaam. Die volgende oomblik blaf ‘n vrou sonder om te glimlag of selfs te groet: “Wanneer verf julle die lyne?”
Ek staan eintlik verstom. Dit het immers niks met hom te doen nie. Later kry ek hom weer. Die glimlag is weg. Die dame het iets reggekry. Sy het ‘n glimlag afgetoor. Hartseer.

Dink ek terug aan die silwerhaar tannie en of ek ook eendag in huis Vonke gaan moet eindig… besef ek dat tyd vir niemand wag nie. Êrens haal dit jou in.  Dis ‘n gawe as jy jou drome kon najaag en jou doelwitte kon bereik.

Tog begin die lewe se hier en nou in die glimlag wat jy uitstuur, die manier hoe jy mense laat voel, hoe jy kleur gee aan iemand se dag.

Ek dink dis die tipe dissipel wat Jesus eintlik wou hê. Die geheim van ‘n vervulde lewe.

Miskien glimlag sy as sy deur die venster tuur. Die silwerhaar tannie se lewe is dalk amper verby maar selfs daar in haar beknopte kamer kan sy steeds Sy lig laat skyn. Dis nooit té laat nie.